BreinBliksem
Wenner: Sanlam-prys vir Jeuglektuur 2005 en M.E.R-prys vir jeuglektuur 2005.
Viljoen se jeugverhaaldebuut BreinBliksem speel
af in Bloemfontein, waar hy woon. Die skrikwekkende storie word vertel
soos gesien deur die benewelde brein van die hoofkarakter, Chris Burns.
"Ek maak vir jou die hel oop" lees die SMS wat Chris Burns aan sy pêl,
Kerbs een reënerige aand in Bloemfontein stuur. En al is dit net 'n
tikfout, voorspel hierdie SMS dat die volgende paar dae hel gaan wees.
Burns help vir Kerbs om by sy ma se motor in te breek. Die goed wat
hulle steel gaan verkwansel Kerbs by 'n pandjieswinkel. Hulle beplan om
die geld te gebruik vir hulle trip na die BreinBliksem rockfees wat by
Allemanskraaldam gehou gaan word.
'n Paar dae voor die konsert kry Sky Eyes, hulle ander pêl, 'n
epileptiese aanval in die Mystic Boer, 'n uithangplek vir jongmense.
Maar Burns weet dit was méér as net 'n aanval. Hy ken vir Sky. Hy kan
dit in sy bang oë sien. En dit is ook so – Sky vertel later vir Burns
dat hy 'n visioen gehad het van bloed en dat hulle moet wegbly van
BreinBliksem af.
Maar ten spyte van Sky se waarskuwing vat die drie ouens tog die N1
Noord na BreinBliksem. Langs die pad tel hulle vir Partygirl, wat ook op
pad is na die rockfees, op. Partygirl met die swart T-hemp, cherry rooi
lippe, blou-blou oë en ‘n vel soos vanilla yogurt.
Daar is dadelik 'n konneksie tussen Burns en Partygirl. En later die
aand, alleen in hulle tent, stroop hulle mekaar se klere af terwyl die
rock musiek nog van die stage se kant af weerklink en vasslaan in die
vertes.
Maar dan gebeur daar iets wat Burns se vertroue in sy pêlle
onomkeerbaar skaad. Burns se hele wêreld word by BreinBliksem op sy kop
gekeer.
Een van hulle kom daardie aand uit die tent met bloed aan sy hande.
En niks is ooit weer dieselfde nie.
BreinBliksem maak groot opslae. Insig noem beskryf dit as 'Trainspotting in Bloemfontein'. Keurders het na die boek verwys as 'n kragtoer.
As daar een boek is wat tieners en jong volwassenes moet lees, is dit BreinBliksem. Maar wees gewaarsku: BreinBliksem word nie aanbeveel vir sensitiewe lesers nie.
Hierdie is 'n boek wat jou brein gaan bliksem!
Uitgewer: Tafelberg-Uitgewers
ISBN: 9780624043
Lees 'n resensie van BreinBliksemLees 'n uittreksel uit BreinBliksemKoop BreinBliksem nou by Kalahari.netDie boek is ook beskikbaar in die meeste groot boekwinkels.