Lees 'n uittreksel uit die tweede boek in die Nova-reeks.
Die skaduwee kruip laer teen die grein van die gespande vesels af. Toe eers sien Lucas dit. “Olive,
pasop!” skree hy.
Die ding peil op haar af.
Olive kyk op. In daardie oomblik verloor sy haar greep. Haar gil eggo deur die pakhuis. Sy tuimel-rol teen die web af. Die taai vesels breek haar spoed, maar sy land nog met ’n harde plof op die vloer.
Krrr! KRRR! sis die swart gedaante toe hy verby Ayanda kruip op pad na Olive toe.
Ayanda kyk vreesbevange na die ding, dan na haar hand. Net haar een hand is nog vas. Sy probeer dit loskry, maar dit lyk of haar lyf te moeg is.
Lucas staan hulpeloos en toekyk hoe die swart ding nader aan Olive kruip. “Olyf, pasop!” skree hy.
Olive sukkel regop en kyk oor haar skouer. Sy begin hardloop. Haar heup het seergekry, sien Lucas aan die hinkende ritme van haar bene.
“Olive, gou!” skree Duart benoud.
Brandon gryp na sy kop. “Asseblief, laat sy oukei wees, asseblief,” prewel hy.
Soos sy naderkom, sien Lucas-hulle die vrees op Olive se gesig. Haar gesig en arms blink van die slym. Sy byt op haar tande. Sy kyk om.
“Olive!” skree Lucas nou. “Moenie omkyk nie. Hardloop net. Vinniger!”
Die swart skadu kry ’n gesig. Sy bek hang oop. Hy is nou op sy voete. Twee hande met vier vingers elk reik na Olive. Dis die alien van vroeër ...
Klik hier om Nova: Vuurdoop by Kalahari.net te koop.Klik hier om Nova: Vuurdoop by Lapa Uitgewers te koop. Klik hier om meer uit te vind oor Nova - die storie en die karakters en UFO's!