Afkop

Alles gaan oukei wees, het Decker gesê.
Hy was verkeerd.

’n Wilde partytjie.
’n Gesteelde kar.
’n Jaagtog wat in chaos eindig.
’n Sak vol geld.

Trent se ouers is die naweek weg en los hom alleen by die huis. Ná ’n rowwe partytjienag saam met sy vriende wat met ’n wilde jaagtog en ’n motorongeluk eindig, word Trent met ’n moeilike besluit gekonfronteer: Wat moet hy doen met die geld wat hy op die ongelukstoneel gekry het?
En kan hy regtig sy vriende vertrou?

In hierdie aweregse, doller-as-kop-af spanningsverhaal loop dinge in regte Tarantino-styl skeef en die leser moet behoorlik aan sy sitplek vasklou om by te bly met al die naelbyt-aksie. Hierdie uitdagende, vermaaklike jeugverhaal is Fanie Viljoen op sy heel beste!

Afkop is nou beskikbaar by goeie boekwinkels, of klik hier en bestel dit aanlyn.

Uittreksel

Verleenthede en vreemde goed in jou naeltjie

“Down, down, down!” roep almal om my. Decker se stem klink harder as die ander s’n op. “Komaan, Trent!”
Dis mos nou hoe jy ’n week onder die agterent skop en ’n Vrydagaand vier. Dis boonop die April-skoolvakansie.
My pa-hulle is weg na ’n werksfunksie of ’n ding by Sun City, waar hy die een of ander prys vir Man van die Jaar gaan ontvang. Hy is ’n mediese rep. Dit is net ’n fênsie naam vir iemand wat dwelmmiddels wettiglik aan apteke smous. Maar dit is nie so belangrik nie. Wat belangrik is, is dat hulle weg is en dat ek hierdie paar dae kan maak soos ek wil.
My ma het dit natuurlik geweet. Dit is hoekom ek net ’n deel van die huis het. My ma het hulle kamer en die spaarkamer gesluit, want sy was bang ek hou ’n massiewe partytjie en dat my pelle die kamers sou gebruik vir allerhande soorte hormoongedrewe vermaak.
My ma was egter verniet bekommerd. Daar gaan nie ’n partytjie by ons huis wees nie. Ek weet dit is mal. Watter ou kry só ’n kans en laat dit net verbygaan? Dis darem nie asof ek ’n totale lafaard is nie. Daar ís ’n partytjie, maar dit is nie by ons huis nie. Dit is by Decker s’n.
Dis waar ek nou is.
“Down, down, down!”
Ek sluk aan die bier. Dit loop in strome langs my mond af en drup op Decker-hulle se vuil sitkamermat of beland op my T-hemp. Die vloeistof wat dit tot by my keel maak, is koud en bitter. Dit voel of die blik nooit gaan leeg word nie, maar uiteindelik is dit en kan ek die ding tussen my hande platdruk en hardop burp.
Decker lag dat jy net tande sien. “Trent, jou ou yster!” roep hy. “Nog een!”
“Nee,” keer ek. “Dis nou iemand anders se beurt. Ek nomineer vir Charlie!”
“Een blik bier, geen probleem nie,” sê Charlie. “Twee blikke ook nie.” Hy het eintlik al genoeg gehad. Hy staan stadig op en trap wankelend rond toe hy ’n blik uit die sespak haal.
“Whoo-hoo, Charlie!” skree Em, sy meisie. Sy is vanaand weer heeltemal in swart aangetrek: swart stewels, swart jeans en ’n swart top met lang moue om die snymerke op haar arms weg te steek. Sy en Charlie date al ’n jaar lank. Vir ’n jaar al spat hulle ook uitmekaar, en vir ’n jaar al maak hulle dan weer op. Die Facebook-verhoudingstatus It’s complicated is gemaak vir mense soos Charlie en Em.
Eintlik moet hulle net verhoed word om enige verhoudingstatus op Facebook te sit, want dit verander soos die weer. Ek is nou al moeg om die twee te troos.
“Ag jammer, Charlie. Em is ’n regte grot-otter. Sy verdien jou nie.”
“Ag jammer, Em. Charlie is ’n regte moersleepsel. Hy weet nie wat hy verloor nie.”
Albei van hulle is my pelle, maar wie troos jy as hulle uitmaak? Ek voel verplig om kant te kies. En as hulle later opmaak, soos wat hulle altyd doen, voel ek soos ’n aap.
Ek hoor dan daarna goed soos: “Em, Trent het gesê jy is ’n grot-otter.”
“Flippit, Charlie!”
Deesdae hou ek net my bek. Hulle moet nou maar aangaan soos hulle wil.
Vanaand gaan dit weer goed. Hulle Facebookbladsye wys In a relationship.
Die blik knal oop onder Charlie se krom vinger. Hy vee die lang hare uit sy gesig en haal diep asem. ’n Simpel grinnik verskyn op sy gevreet voor hy iets sê soos: “Kyk en leer” of “Maak hom seer”.
“Down, down, down!” skree ons vir hom en hy keer die blik om in sy mond. Met sy arms oopgestrek langs sy skouers sluk hy die bier af. Kyk ma, geen hande. Hy mors minder as ek. Dis ongelooflik. Charlie is ’n rockster.
Hy is ’n maer outjie, soos ’n afskeepbiltong, maar hy stamp die leë blik teen sy voorkop en dit frommel krakend inmekaar. Triomfantlik kyk hy ons aan asof hy die koning is wat op die Iron Throne gaan sit. Die TV-reeks Game of Thrones is sy gunsteling van alle tye. Hy is veral mal daaroor as iemand se kop waai.
“Suiplap!” kondig Decker aan, asof hy ’n prys uitdeel.
Charlie val op die bank langs Em neer. Sy trek hom nader. Haar vingers strengel in sy hare en sy soen hom só lank en morsig dat ek naderhand ongemaklik voel en wegkyk.
“Nou is dit die girls se beurt,” sê Decker.
“Ek drink net nie bier nie,” sê Jane, Decker se meisie.
Sy is gewoonlik aan die stil kant en het ’n crush op James Franco. Sy skets die een prent op die ander van hom in haar tekenboek. Sy is nogal kunstig, maar soos alle kunstenaars ’n bietjie weird. Dis seker hoekom Decker van haar hou.
“Ag komaan, Jane,” sê Charlie toe hy en Em opkom vir asem en my gedagtes onderbreek.
“Bier maak ’n mens vet,” keer sy.
“Ons sal tequila shooters drink,” sê Em.
“Body shots,” sê Decker. Sy gesig helder skielik op. “Uit Trent se naeltjie.”
Wat de dinges? Ek is nie eens seker of my naeltjie skoon is nie. Daar is dalk nog seep of wolle of hare of gross kaasagtige stuff in. Naeltjies is mos vreemde goed. ’n Mens weet nooit wat binne-in hulle aangaan nie.
“Trek uit jou hemp, Trent,” beveel Charlie asof dit ’n uitgemaakte saak is.
“Wys daardie six-pack, Trent,” sê Em en lag op daardie uitdagende mooi manier wat my lyf warm botter maak. Ek en Em is albei sewentien. Dis ’n jaar jonger as die res. Hier is ’n geheim: Em weet nie ek hou van haar nie. Dit is nogal sleg vir my, maar ek wil nie tussen haar en Charlie kom nie. Dalk vertel ek Em eendag. Dalk nie. Ek is nie goed met dinge soos die liefde nie.
Vriende maak is ook ’n probleem, maar by hierdie spul pas ek soort van in. Ek werk daaraan.
Decker vee die leë blikke met sy dik voorarm van die koffietafel af. Hulle klingel en rol oor die vloer. Hy kom nadergestap en voor ek nog kan keer, pluk hy my T-hemp oor my kop. “Lê,” beveel hy en wys na die koffietafel.
As Decker vir jou sê om iets te doen, dan doen jy dit.
Die afwagtende kyke wat die ander my gee, is die perfekte voorbeeld van groepsdruk. Daar kon ’n foto of skets van ons in ’n skoolhandboek wees. En tog val ek daarvoor. Al daardie Lewensoriënteringklasse was ’n vermorsing van my tyd en ’n moeë onnie se asem.
Ek maak soos Decker sê en gaan lê op die tafel.
Vinnig grawe ek met my duim en wysvinger in my naeltjie om te red wat daar te redde is. Met my kop effe opgelig van die tafel druk ek my maagspiere uit. Ek hét ’n sespak, maar dit kom nie van gym of rugby of iets nie. Dis maar net daar. Ek is geseënd met goeie genetika. Charlie sal sê: “’n Six-pack op ’n maer ou tel so min as boobs op ’n vet girl.” Dis wat ons ’n Charlie-ism noem. Hy gooi soms sulke onderstebo filosofiese goed by ’n gesprek in.
Em streel oor my kaal bolyf, maar ek wens sy wil eerder nie. Sy weet nie wat dit aan my doen nie. Ek vat haar hand weg sodat Decker die tequila shooter kan gooi. Hy drup die drank versigtig in my naeltjie. Ek hou op asemhaal sodat die goed nie uitloop nie. Op my bors strooi hy ’n strepie sout en hy druk ’n lemmetjieskyfie in my mond. Ek knyp my oë toe teen die suur.
“Jane! Jy is eerste,” skree Charlie. Hy tel haar van die bank af op en dra haar na my toe. Sy lyk teësinnig, maar sy sak nietemin op haar knieë langs my neer. “Ready? Go!”
Sy lek die sout van my bors af. Die gevoel van haar tong op my vel is op ’n vreemde manier nogal lekker. Charlie en Em por haar aan. Nou is sy by my naeltjie. Sy slurp die tequila op, en daarna vat sy die lemmetjie vinnig met haar mond uit myne en byt daarop. Van die sap drup oor haar ken. Sy trek haar gesig. Decker lag, vat haar in sy arms en lek die lemmetjiesap op. Sy dik tong kry ’n pad na haar mond. Gross.
“Em!” kondig Charlie aan. “Kom na pappa toe.” Decker-hulle is nog besig om mangels skoon te lek, toe vat Charlie die tequila-bottel. Hy is dronker as Decker. Van die drank loop yskoud in die gleufies van my maagspiere af, ander stort oor my vel op die tafel toe hy dit in my naeltjie skink. Charlie mik om die sout op my bors te gooi, maar dan stop hy. Hy beweeg sy hand ondertoe en met ’n duiwelse glimlag gooi hy dit net bo die rand van my jeans.
“Charlie, wat doen jy?” roep Em. “Dis te laag.”
“Ag komaan, dis net Trent,” sê hy en sit die lemmetjie in my mond voor ek ook kan protesteer.
Jane se tong op my vel was netnou lekker, maar ek weet dadelik: Nou kom moeilikheid. Ek voel dit al in my lyf nog voordat Em naderkom. Dan is haar tong by die sout en lek sy dit op. Dit voel of iets in my ontplof. Haar lippe is meteens oor my naeltjie. Dit is sag soos spookasem, maar dit is nie spookasem nie. Dit is lippe. Em se warm lippe op my vel, daar om die sagte rand van my naeltjie. Haar soepel tong in die holtetjie … net ’n rukkie lank, dan is haar lippe op my lippe. Ek voel haar asem teen my vel stoot en voel my lyf lewe kry. Em se tong raak aan my onderlip toe sy die lemmetjie uit my mond wil vat. Die oomblik is te groot. Ek byt per ongeluk hard op die lemmetjie. Die suur sap spuit in my mond in. Ek skrik my brein tot stilstand. My lyf ruk. Onder my kraak die glasblad van die tafel. Dit klap meteens soos ’n geweerskoot en breek skouspelagtig.
Ek val minder skouspelagtig tussen die glasstukke. Die pyn skiet ’n oomblik lank deur my waar klein snymerkies in my vel kerf. Die verleentheid word groter soos almal lag en selfoonfoto’s van my en my tentbroek neem.
Met my hande oor my lyf gevou, staan ek sukkelend op. Decker sit sy arm om my nek en hou ’n bier na my toe uit. “Dit gebeur in die beste families,” sê hy soos ’n ou kameraad. Ek vat ’n sluk van die bier en Decker drink die res.
“Sorry,” sê ek vir Em. Die trane loop oor haar wange soos sy lag.
“A, jy is so snaaks,” sê Charlie. “Is hy nie snaaks nie, Jane?”
“Skreeu,” sê Jane.
“Snaaks,” volg Em in ’n koor.
Jane doop haar vinger in die bloed wat uit die snymerkies op my rug loop en teken ’n hartjietatoe daarmee op my arm.
Decker gooi nog ’n rondte tequila. Hierdie keer in shooter-glase. Ons drink en ons vergeet my verleentheid. Dis net nog iets waaroor ons eendag sal terugdink en van voor af ons gatte sal skeur.
Ek gaan sit vir ons ander musiek op. Charlie en Em verdwyn in een van die kamers. Decker en Jane is op die bank. Hulle is so into mekaar dat hulle skaars agterkom dat ek nog in die vertrek is. Dit maak my verleë. Ek gaan kyk of daar nog chips in die kombuis is. Tussen die blikke met koffie en tee kry ek ook ’n blik met groen goed. Ek ruik daaraan.
Jip, dis beslis giggelgras.
Net Decker-hulle sal so iets in die kombuis hê. Sy pa-hulle is totale junkies en omtrent nooit by die huis nie. Hulle het eenkeer Decker se gewigte waarmee hy in die garage oefen pandjieswinkel toe gevat. Decker was vir weke befoeterd totdat sy pa dit gaan terugkoop het.
“Bring die weed,” roep Decker van die sitkamer af. “Ek het dit by Charlie gekoop. Dis goeie stuff.”
Oukei, so dis syne, nie sy pa-hulle s’n nie.
Ek maak soos Decker sê en bring die blik na hom toe. Hy stoot Jane ’n entjie weg en staan dan op. Versigtig vir die glasstukke wat orals lê, stap hy na die TV-kas. Daar kry hy dun velletjies Rizla-papier om ’n joint mee te rol. Dit doen hy op sy knie toe hy weer langs Jane sit. Hy lek die papier in die lengte, druk dit toe en draai die punte vas.
“Liggie?” sêvra Decker en Jane hou die lighter vir hom. Hy steek die joint aan. Met toe oë trek hy die rook in. Jane vat die joint by hom. Sy lê in sy arms toe sy ’n trek vat. Sy hou die joint vir my. Ek wil eers nie. Ek sal nog alkohol drink, maar ek doen nie drugs nie.
“Wat?” vra Decker spottend. “Al die cool kinners rook. Is jy bang, Scooter?”
Hy noem my partykeer Scooter omdat ek op ’n stadium een gery het. Dit was so ’n tweedehandse padkriek wat skaars veertig kilometer per uur kon haal. My ma was bang ek val, dis hoekom die ding so stadig was. My ma is bang vir baie goed. Ek het intussen ’n beter motorfiets gekry, maar Decker gebruik altyd die Scooter-naam as hy my wil spot, soos nou omdat ek te versigtig is.
Jane lag ’n siniese laggie. “Probeer dit net, en as jy nie daarvan hou nie, hoef jy mos nie weer nie.”
Ek vat die joint by haar. Toekomsbeelde van my uitgeteerde lyf met ’n naald in die arm in ’n agterstraat flits deur my gedagtes. Jane sê: “Probeer dit net.” En ek doen dit, want ek wil inpas. Almal wil iewers inpas, al is dit nou by ouens soos Decker.
Ek weet my ma-hulle is nie mal oor Decker-hulle nie, maar ek gee nie om nie. Ek hou van hulle.
Die joint brand vinnig nader aan my vingers toe ek die rook intrek.
En ek beland op dieselfde lekker plek as Decker en Jane.

Afkop is nou beskikbaar by goeie boekwinkels, of klik hier en bestel dit aanlyn.

Save

Fanie Viljoen
Fanie se eerste kortverhaal is in 1999 in Sarie gepubliseer. Daarna het nog publikasies in tydskrifte en boeke gevolg. Vandag is Fanie een van Suid-Afrika se gerekende kinderboekskrywers. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings. Fanie Viljoen woon die afgelope 9 jaar in Bloemfontein. Hy skilder en skryf voltyds.