Betower

Poenk sal jou betower

Naaswenner in die LAPA-jeugromankompetisie (2010)

Nadia het ’n geheim.
En die geheim is die rede waarom sy by haar ouma in die Magoebaskloof moet gaan bly.
Hier ontmoet sy vir Poenk.
Bos-Poenk.
Geheimsinnige Poenk.
Poenk wat haar leer hoe paddaeiertjies ruik.
Wat haar wys dat daar kleure soos ritselgroen, bangmaakgroen, fluistergroen, kieliegroen en flikkergroen bestaan.
Poenk wie se naam sy oor en oor in haar huiswerkboek skryf.
Wat vir haar gedigte lees en vir haar sprokies vertel.
Poenk wat self ’n geheim in hom ronddra.


Het jy Dalene Matthee se bosromans geniet? Hier is nou ‘n bosroman vir tieners en almal wat nog jonk van hart is en glo in die wonder van die Lewe. Betower is ‘n boek van hoop, liefde en geheime. Sien die wêreld deur Poenk se oë en word betower …

Koop

Koop Betower in goeie boekwinkels, of klik hier om dit aanlyn te bestel.

Koop Betower, die drama aanlyn.

Resensie

Een van die keurders het die volgende gesê oor Betower:

Hierdie storie is só mooi geskryf. Ek is jaloers op die skrywer – wens dit was ek wat al die mooi sinne en woorde uitgedink het.  ’n Mens kan so maklik verval in die kies van boeke wat jy weet ’n treffer by kinders gaan wees: boeke met lekker dialoog, ligte temas en spannende storielyne, dat jy vergeet dat daar ook ruimte is vir stories wat miskien nie super aksiebelaai is nie, maar gewoon goed en mooi geskryf is. In die 2010 uitgawe van Children’s Writers’and Artists’ Yearbook herinner Gillie Russel van HarperCollins ’n mens weer daaraan: “Teenagers, like adults, need a varied diet. Teenagers like well-crafted stories in many genres  –  they love humor and history and fantasy, just as much as they like books which reflect their own worlds. They like inspirational and aspirational books where they can identify with the protagonist in a real way.”

Studiegids

Laai die gratis studiegids vir Betower af.

Drama

Betower die dramaBetower is ook beskikbaar as ’n drama.

Hierdie drama is nasionaal voorgeskryf vir graad 10 leerders (EAT).

Klik hier om te koop.

 

 

Uittreksel

Die oggendson bak op Nadia se rug. Sy staan met ’n bewende hart op die sypaadjie voor die nuwe skool. Voor haar hang die maan nog glinsterblink, amper deurskynend.
“Dis ’n teken,” prewel sy. “Iets gaan gebeur.”
Dis wat haar ma sou gesê het as sy nou hier was. Daarna sou sy ’n sigaret aangesteek het en diep ingedagte daaraan geteug het. Die dink sou in haar oë gespeel het. Dalk sou sy haar vingers stadig deur haar hare gedraai het of aan ’n droë velletjie op haar lippe getrek-trek het.
“Lekker boskasie,” grinnik ’n meisie toe sy verby Nadia loop.
“Seker nuut by die skool,” sê haar vriendin.
“Wag maar totdat die onnies haar beetkry.”
Nadia vat selfbewus aan haar bos hare en tree vinnig weg. Haar maag maak ’n nare draai. Sy voel nog net so bang soos toe sy vanoggend opgestaan het. Sy raak bewus van iets grofs wat teen haar elmboog skuur. Haar asem ruk, maar dan sien sy dit is net ’n boom se ruwe bas.
Versigtig skuif sy agter die boom in en druk haar lyf plat teen die dik stam. Sy haal diep asem. “Jy kan dit doen, Nadia,” sê sy vir haarself.
Steeds angstig loer sy om die boom. Die twee meisies het deur Magoebaskloof Hoërskool se ysterhekke verdwyn. Ander kinders loop ook nou in groepies of een-een by die hek in. Ma’s en pa’s waai uit hulle motors. Helder stemme groet mekaar. Seuns lag. Meisies gesels.
Nog net daardie twee meisies het haar raakgesien. Dalk het sy onsigbaar geword, kom die gedagte by Nadia op. Kan dit wees?
Sy kyk vinnig deur die boomtakke op na die lug. As die son en die maan saam in die lug hang, kan enigiets gebeur. Dalk kan ’n mens selfs onsigbaar word.

*

Die skoolklok begin lui. Die skel klank kramp binne Nadia. Haar vingerpunte glip vir oulaas tussen die boomstam se growwe gleuwe in. Sy wens sy kon heeldag hier bly staan. Die eggo van die skoolklok dryf nog ’n oomblik lank in die lug en toe is dit stil.
Nadia tree weg van die boom af. Sy móét nou ingaan. Die tas op haar rug is so te sê leeg, maar dit voel asof dit haar grond toe trek, asof sy kleiner word hoe nader sy aan die hoë ysterhek kom. Die skoolgebou se sandsteenmure laat haar aan ’n kasteel dink. Die rankvingers van die klimplante is soos die stekelrige nes waarin Doringrosie se kasteel verstrengel geraak het.
Nadia vee haar hare voor haar gesig in toe sy aan die sprokie dink. Op die dag waarop die vervloekte prinses vyftien word, los haar ouers haar alleen in die kasteel. Hulle kom eers weer terug toe Doringrosie klaar haar vinger met die spinwiel geprik het, maar toe is dit te laat …
“Jy is laat!” skree ’n stem uit een van die klaskamers, asof iemand die sprokie se woorde in haar kop eggo.
Nadia is nie seker of die persoon met haar gepraat het nie. Sy kyk op na die blink skoolvensters en met versigtige treë durf sy die lang paadjie na die skoolgebou aan.
Maar sy kom nie ver nie. Voetstappe klap op die sementpaadjie agter haar. ’n Seun kom verbygehardloop en gaan staan dan skielik.

*

Die seun het:

  • Deurmekaar, donker hare.
  • Bruin oë.
  • ’n Fyn mond.
  • Breë ken.
  • Knopperige arms en bene.
  • Stowwerige klere aan, asof hy oomblikke gelede nog ’n prinses uit ’n doringnes probeer red het.
*

Die seun buk en steek sy hand uit na iets op die grond. ’n Rooi veertjie. Hy kyk daarna asof dit iets ongelooflik kosbaar is. Dan vou hy sy vingers toe, kom orent en hardloop verder. Hy storm die skooltrappe op. Iets val uit sy tas, maar hy sien dit nie. Hy verdwyn in die donker gebou.
“Staan jy nog steeds daar?” skel die stem van vroeër uit die klaskamer.
Nadia stap vinnig verder terwyl vrae binne haar kolk.
By die trap stop sy voor die pers penneblikkie wat die seun verloor het. Sy kyk ’n ruk lank daarna terwyl sy besluit of sy dit moet optel. Uiteindelik buk sy tog grond toe.
Die penneblikkie is lig, asof daar nie veel in is nie. Fyn snymerkies is in die plastiek geëts en in een van die hoeke is ’n skaafmerk.
Bo-op die deksel staan net een woord: POENK.

Save

Fanie Viljoen
Fanie se eerste kortverhaal is in 1999 in Sarie gepubliseer. Daarna het nog publikasies in tydskrifte en boeke gevolg. Vandag is Fanie een van Suid-Afrika se gerekende kinderboekskrywers. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings. Fanie Viljoen woon die afgelope 9 jaar in Bloemfontein. Hy skilder en skryf voltyds.