BreinBliksem resensie

Wat sê die resensies van BreinBliksem?

Van die allitererende eksplosiewe in die titel tot by die verrassende slot, doen Fanie Viljoen se BreinBliksem letterlik dit wat die titel sê. Dit is 'n onthutsende, maar boeiende leeservaring. Die boek verg oopkop-lesers . Dit belig 'n groep jonges wat ons nie kan wegwens nie. Dis 'n boek wat die moontlikheid inhou om Afrikaanse tieners te oortuig dat daar Afrikaanse boeke is wat hulle kan uitdaag. As jy dapper is, koop die boek vir 'n tiener, lees dit self ook. Dit is goeie gespreksmateriaal.

Prof Maritha Snyman (Beeld) 20 Desember 2005


 

Lanklaas was ‘n manikuur in soveel gevaar om afgekou te word! BreinBliksem, Fanie Viljoen se debuutroman, wys uit die staanspoor waarom dit die Sanlam-prys vir Jeuglektuur ontvang het – jou mond hang oop as jy die boek klaar gelees het. Viljoen skryf gemaklik en die direkte 'hard core'-styl is verfrissend. Die storie ontwikkel vinnig en die ontnugterende wending 'breinbliksem' die leser behoorlik.

Mariana Loots (Die Burger) 15 Oktober 2005


Met BreinBliksem gaan Fanie Viljoen nog verder met die skok van die leser. Hy skets die hedendaagse tiener as asosiaal en immoreel. Die taalgebruik en optrede van die karakters is kru en selfs walglik. Die outeur wil reaksie ontlok en die leser kan nie anders as om te reageer nie. Baie lesers sal die boek ná 'n paar bladsye wil neersit, maar dit sal jammer wees, want hier is wel sprake van vernuwing en van daardie 'iets anders'.

Thomas van der Walt (Rapport Perspektief) 11 Desember 2005



Koop BreinBliksem nou by Kalahari.net
Die boek is ook beskikbaar in die meeste groot boekwinkels.

Afrikaans - Tuisblad
English - Home page