Barney Simon van 5FM
Music is nou die presenter. Hy gooi BreinBliksem T-shirts na die mense toe. Sê
hy gaan ons netnou in die moshpit join. En terwyl ’n nuwe band opstel, begin
iemand met vuur te juggle. Die betowerende ligstrepe gly deur die donker. As jy
jou verbeelding gebruik, kan jy dink dis twee vuurvliegies wat perfek saam
dans. (Magtig, ek raak nou liries – ek is dalk verlief of iets. Of dalk net
lekker gerook.)
Sky Eyes het nou ook
heeltemal gerelax. Ek dink hy het al drie of so biere weggesluk en het selfs
hardop begin lag. Moet die hitte wees.
Toe 16 Stitch op die
stage kom, begin ons verstaan waar die naam BreinBliksem vandaan kom. Dis
Afrikaans vir headbang. Mosh. Donder jou kop. Spring. Raas. Fok rond. Crash and
burn, baby. BreinBliksem!
Ons is al drie in die
moshpit – ek, Kerbs en Sky. En toe kom Partygirl ook by. In die malende massa.
Unorganized chaos, soos ons koppe. En somehow maak dit sense om teen die ander
ouens se lywe te stamp. Te val. Op te staan en dit weer te doen. Dis
self-expression sonder limits. Dis 'n vergete oerritueel wat in ons koppe kom
lê. Soekend vir pyn om ons weer soos mense te laat voel. Self-sacrifice.
En niks matter nie.
Dis jy en die music.
Jy en jou
disfunctional self.
Jy en jou loneliness
tussen al die mense.
En die music blast by
die swart speakers uit. Ons dans ons lywe warmer en warmer. Nog 'n bier, nog 'n
splif. En alles voel ligter. Jy vergeet, soos jy dink die ander al van jou
vergeet het.
Die bands wissel. Arno
Carstens is volgende. Partygirl gaan crazy. Sy vertel vir almal om haar Arno is
haar favourite sanger. Dit lyk nie of die mense om haar 'n fok omgee nie. Jy
sien dit in hulle oë. Hulle veraf oë.
Bottels en blikke op
die grond maak dit moeilik om nie jou enkels te swik nie. Elkeen probeer seker
vir hom 'n spot skoonskrop.
Die musiek begin eers
stadig, dan vinniger, vinniger, harder. Die band beweeg onder die rooi ligte.
Rook blaas oor die stage. Hulle word spoke uit die land van rock. Arno gryp die
mike vas terwyl hy sing.
Partygirl skree vir
die mense om haar: “Hy sing net vir my!”
En deur die newels wat
in my brein dwarrel, dink ek aan wat sy my vroeër vertel het toe ons na die FMX
show gekyk het. Van hoe arm hulle is. Van haar pa se hartaanval en sy dood. Die
doktersrekeninge wat begin inkom het. Van haar ma wat haar uit die skool gehaal
het. Hoe sy nou in die Champion Supermarket werk op Winburg, en soms geld
wegsteek van haar ma om te spaar vir ‘n CD. Hoe sy ‘n hele klomp geld gevat het
om die BreinBliksem-kaartjie te betaal. Van haar ma wat haar uit die huis
gejaag het vanoggend toe sy uitvind. Dat sy nie mag teruggaan huis toe nie.
Ja, Arno sing vanaand
net vir Partygirl, want sy het nou niks meer nie. Net sy songs.
Partygirl staan
doodstil tussen die springende lywe.
Sy huil.
Wil jy verder lees?
Koop BreinBliksem nou by Kalahari.net
Die boek is ook beskikbaar in die meeste groot boekwinkels.