Die geheime bestanddeel in Petra Pienk se piesangbrood uittreksel
Petra
Pienk wil ook alles hê wat sy sien
Al sou dit dalk snaaks gewees het,
is Petra Pienk nie regtig pienk nie. Almal noem haar net só omdat sy van pienk
goed hou: Pienk klere, pienk skoene, pienk linte in haar hare. Verder lyk sy
maar net soos ek en jy. Jy weet mos – sommer doodgewoon. Goed dan, daar is
seker ’n paar mense wat nie heeltemal soos Petra lyk nie. Mense soos Karin
Kleingeld.
Karin is die
dogter wat alle ouers wil hê. Mooi soos die maan en die sterre. En daarom kan
sy haar ouers vir enigiets vra en sy kry dit. Enigiets!
Nee, Petra lyk
glad nie soos Karin nie. Petra is ’n bietjie mollig. Haar blou oë is ’n bietjie
te groot en haar pienk lippe bietjie te pienk. Miskien is dit hoekom ek nie
alles kry wat ek wil hê nie, dink Petra. Ek is gans te lelik.
Vandag is Petra
by die netbal. Die oefening is verby. Sy sit op die pawiljoen en rus, skerm
haar oë teen die son. Daar anderkant staan Karin en spog met haar nuwe tekkies
en netbalrok. Sy draai in die rondte en lag vrolik. Gooi haar kop agteroor asof
sy wag dat iemand ’n foto neem.
Al die meisies
oe en aa tesaam.
Petra kyk af na
haar eie tekkies. Dit is vaal, oud en stowwerig. Sy frommel haar neus vies.
Sy hoor
voetstappe nader kom. Kyk op. Ai, genade, dis Karin wat haar sportsak kom haal.
Petra skuif haar tone so oormekaar. Sy wil nie hê Karin moet sien dat een van
haar tekkies ’n gaatjie in het nie.
“Hallo, Petra!”
groet Karin en gryp haar sak.
Karin wag nie
dat Petra teruggroet nie. Sy wip weg na die blink motor wat vir haar wag. Haar
pa, Karel Kleingeld, sit agter die stuurwiel. Hy knyp ’n vet sigaar vas tussen
sy ewe vet vingers. Sigare is iets wat mens rook om vir ander mense wys jy is
stink ryk. Petra weet nie hoekom nie. Sy dink dit laat jou maar net stink.
Klaar!
Petra kyk hoe
die motor wegry in ’n bol stof. Sy sug. Haar pa, Pieter, sal haar nooit kom
haal nie. Hy werk altyd, altyd, altyd. Maar hulle bly arm.
Petra staan
stadig op van die pawiljoen. Sy tel haar pienk sweetpakbaadjie op en groet haar
spanmaats. Haar stem klink vrolik, maar sy voel hartseer. Terwyl sy huis toe
stap, wonder Petra: hoekom kry net ánder mense alles wat hulle sien? Ek wil dit
hê. Ek wil ook ryk wees soos Karin-hulle.
Later, toe Petra by die huis
instap, besluit sy: Van nou af gaan alles verander. Sy gaan ook ryk word. Sy
moet nog net uitvind hoe.