Ek en Cobus maak al vir twee weke
lank spinnekoppe bymekaar. Grotes, kleintjies, hariges, gladdes – enige
spinnekop wat dit met sy agt pote waag in die veld agter ons huis. Ons sit al
met ’n hele boks vol. Ten minste een van die spinnekoppe is ’n dodelike soort.
Dit moet wees, want ons kry nou die dag een met al agt pote in die lug. Ek is
seker hy is gebyt deur die giftige spinnekop. Hy kon nie gevrek het van honger
nie. Ons gooi genoeg goggas in die boks waaraan hulle kan smul terwyl hulle wag
vir die GROOT DAG.
O ja, jy weet
natuurlik nog nie van die GROOT DAG nie. (Moenie bekommerd wees nie – die spinnekoppe
weet ook nie daarvan nie.)
Vandag is die
GROOT DAG waarvoor ons al so lank wag. Dit is Maandag. Ons is by die skool. Die
klok gaan nou enige oomblik lui vir pouse. Ek kyk na die boks langs Cobus se
tas. Niemand weet wat daarin is nie. Net ek en hy, want ons is mos beste pêlle.
My hande begin
sweet. Ek vee hulle aan my broek af. Ek hoor lankal nie meer wat juffrou Beneke
sê nie. Ek kyk net na die boks, en vir Cobus . . .
Die klok lui hard
en skril. Voor juffrou Beneke kan keer, spring almal op en storm raserig
buitentoe.
“Komaan,
Stephan!” sê Cobus. Sy oë blink. Hy knyp die boks onder sy arm vas.
“Wat het jy daar,
Stephan?” vra juffrou Beneke skielik hier agter ons. Ek vries. Juffrou Beneke se stem is so skel soos ’n
motoralarm. Ek hoor al hoe sy met daardie stem vir diewe kan gil: “Hei jy! Jou
sluwe skurk! Hou jou vuil pote van die motor af! Dief! Dief! Die-ie-ief!”
Ek en Cobus draai
na juffrou Beneke toe. Sy rek haar oë groter. Sy doen dit altyd as sy wag vir
’n antwoord. Die antwoord wat jy nie het nie. Die antwoord wat jou pêlle vir
jou moet fluister anders is jy diep, diep in die moeilikheid . . .
“Dis sommer niks
Juffrou,” sê Cobus. Ek sien hoe hy sluk. “Dis sommer net rugbytoks, dis al.”
Voor juffrou
Beneke nog ’n woord kan uitkry, skiet ek en Cobus by die klasdeur uit.
“Dink jy nóg ons
moet dit doen?” vra ek. ’n Paar weke gelede, toe ons die GROOT DAG beplan het,
het dit cool geklink. Maar nou is ek nie meer so seker nie.
“Natuurlik. Jy
wil nie nou uitchicken nie, hé?”
“Nee, ek wil maar
net seker maak jý wil nie uitchicken nie,” sê ek met ’n onseker stem.
“Gnf!” snork
Cobus. “Kom dan!”
Ons hardloop na
die agterkant van die skoolgebou. Hier is nie so baie kinders nie. Die meeste
van hulle is in die vierkant voor die geboue, of op die rugbyveld. Ons sluip al
met die gebou langs. Hier is baie bome, so niemand sal ons kan sien nie.
Nou is ons aan
die agterkant van die meisies se kleedkamer . . .
“Klim op my
skouers, dan gooi jy hulle in,” sê Cobus en hou die boks na my toe.
“Aikona, dit was
jóú plan. Ek is in elk geval groter as jy. Klim jy op my skouers dan gooi jy
hulle in.”
’n Grynslag sprei
oor Cobus se lippe. “Oukei, sak!”
Ek buk en Cobus
klim op my skouers. Ek loop al nader aan die oop venster van die meisies se
kleedkamer. Dit is nogal hoog.
“Is jy nog
oukei?” fluister Cobus.
“Ja, maar maak
net gou!”
Ek hoor hoe hy
die boks oopmaak. “Nog ’n bietjie,” fluister Cobus.
Ek gee ’n tree
nader aan die muur.
Ek wil opkyk om
te sien wat Cobus doen, maar ek kan nie.