“Uit my pad!” brul
die meisie met die rooi hare en sproetgesig. Zelda skouer ’n seun uit die pad.
Nog een klap sy – net so, BAM!, met haar oop hand. Hy val plat op sy boude. “Wil
mos nie luister nie!” gil sy. Die kinders spat bang en grootogig voor haar weg.
Iemand het haar bitterlik kwaad gemaak. Iemand wat binne oomblikke ’n tand of
twee gaan verloor, dalk gaan sit met ’n gebreekte neus.
Daardie
iemand is Devon Hendriks. Die stilste outjie in graadsewe.
“Ek
het dit nie bedoel nie!” skree Devon.
“Klein
miswurm!” gil Zelda.
“Ek
is jammer!”
“Te
laat, Miswurm!”
Devon
hardloop. Hy wil nie omkyk nie, dit sal tyd mors. Elke sekonde is kosbaar. Dis
’n sekonde wat hy langer kan leef voor Zelda hom in die grond intrap en daar
net ’n nat kolletjie van hom oorbly.
En
dit net oor ’n simpel wiskundetoets. En ’n glimlag.
“Jy
wil mos vir my lag, Miswurm.”
“Ek
het gelag omdat ek volpunte gekry het. Ek het nie vir jóú gelag nie,
Zelda-a-a!”
“Jy
dink ek is dom omdat ek net één som reg het. Maar ek sal jou wys!”
Die
sweet tap van Devon af. Sy bene is lam. Hy kan nie eens behoorlik één keer om
die atletiekbaan hol nie, en nou moet hy weghol van Godzelda.
Seunsbadkamer.
Hy
is verlig toe hy dit voor hom sien. Sy sal dit nie waag om hom daar te kom uithaal
nie. Hy moet net daar kom. Nog net ’n paar treë! Hy hoor voete agter hom. Die
aarde bewe. Hy byt sy lip vas en sit ekstra krag in sy treë.
Amper.
Hy
ruik al die stink toilette, sien al die deur hier reg voor hom.
En
toe . . . ’n hand gryp hom en pluk hom terug. “Nee! Ek wil nie nou al doodgaan
nie!” gil Devon. Dit klink amper soos ’n meisie se gil. Hy is dadelik spyt daaroor.
“Het
jou, Miswurm!” Zelda se vrot vistoebroodjie-asem blaas in sy gesig.
“Asseblief,
Zelda, ek sal enigiets doen. Enigiets. Los my net!” Devon se stem bewe. Hy wil
huil, maar hy durf dit nie doen nie. ’n Klomp kinders staan en kyk, nuuskierig
om te sien wat met ouens gebeur wat met Zelda sukkel.
“Enigiets,
sê jy, Miswurm?” sis Zelda.
“Ek
belowe,” knik Devon. “Los my net.”
Daardie
belofte moes Devon liewer nooit gemaak het nie.
Devon besef sy
fout toe hy na pouse terug is in die klas. Zelda het hom gelos, maar eintlik
het sy hom vir ’n groter wolf gegooi. Juffrou Willemse.
“Ek
sal jou wys wie is dom,” het Zelda gesê net voor sy hom gelos het. “Jy weet hoe
juffrou Willemse ons altyd waarsku om nie dom vrae in haar klas te vra nie?”
Devon
het geknik.
“Voor
die dag verby is, Miswurm, gaan jy vir haar die domste vraag ooit vra. Oukei?
Ek wil sien wat gebeur as iemand dit waag.”
Devon
sluk. Hy kyk op na die swartbord. Juffrou Willemse is besig om iets te skryf.
Hy weet nie eens wat nie. Hy dink net aan daardie opdrag van Zelda.
“Toe!
Doen dit, nou!” hoor hy Zelda skuins langs hom fluister.
“Wag . . . ek dink nog . . .”
“Stilte!”
roep juffrou Willemse skel. “Een piep uit julle en die hele klas sit vanmiddag
detensie.” Haar oë dwaal oor die klas. Sy kners op haar tande.
Devon
sug. En wat gaan sy doen as hy dit sou waag om ’n dom vraag te vra? Hom die
hele jaar laat detensie sit?
’n
Opgevoude stukkie papier land op sy tafel. Met bewende vingers vou hy dit oop:
Vra
haar! Nou!
Devon
frommel die papiertjie op. Voor hy dit kan weggooi, pluk juffrou Willemse dit
uit sy hand. Sy lees dit met ’n frons. ’n Spiertjie spring onder haar oog. Nou
is sy briesend, weet Devon.
“Wat
is hierdie?” gil sy. Devon wens ’n olifant wil liewer bo-op hom val. “Wat moet
jy vir wie vra?”
Hy
sluk beangs. Hy kan maar netsowel die vraag vra. Die domste vraag ooit. Dan
weet hy ten minste Zelda sal hom nou uitlos.
“Um,
juffrou,” stotter Devon. “Ek . . . ek het net gewonder . . . gaan seerowers ook
skool?”
“Dít Devon Hendriks,” ontplof juffrou Willemse,
“is seker die domste vraag wat enige kind al ooit – OOIT! – in my klas gevra
het!” Haar skel stem eggo deur die klaskamer. Stoele bewe. Lessenaars rittel.
En toe is daar ’n harde klop aan die deur.
Devon knip sy oë. Verbeel hy hom of sien hy iets
swart bokant die klaskamer se hoë venster beweeg? Iets wat lyk soos ’n
seerowerhoed?