“O-o-o! Nee-ee-ee! Los my uit! Los my, jou skurk!”
Klits
Kronkel spring regop in sy bed. Hy het pas wreed wakker geword. Die tien hare
op sy kop staan in tien rigtings en sy ogies kyk verwilderd om hom rond. Selfs
sy krulsnorretjie krul meer as gewoonlik. Net een van sy pajamabaadjie se knope
is nog vas en mens kan sy boepmagie onder die gestreepte nagklere sien
uitsteek. Sy hande is gereed om enige aanval uit enige rigting moeiteloos af te
weer.
Teleurgesteld
sien Klits dat daar geen gevaar in die onmiddellike omtrek van sy enkelbed is
nie. Maar net om seker te maak, spring hy van die bed af, sy hande steeds voor
hom uitgestrek. Hy loer agter die kamerdeur en skrik hom byna oorhoeks vir sy
japon wat hy die vorige aand daar opgehang het.
Dan is die
gevaar onder die bed! Ja, dis waar skelms die graagste wegkruip – onder jou
bed! Hy buk stadig . . . Hy is gereed
vir enigiets. Dalk is dit ’n draak!
Hoe graag
sal hy nie weer met ’n draak wil stoei nie! Maar drake is deesdae maar skaars.
En hulle is nog skaarser in sy kamer. As hy mooi dink, was daar nog nooit ’n
draak in sy kamer nie. Ook nie eens in sy tuin nie.
Daar is
altyd ’n eerste keer, Klits, sê hy vir homself. Jy moet versigtig wees. ’n Mens
kan nooit te gerus wees nie. Dalk het een die huis binnegesluip terwyl hy
geslaap het . . .
Klits knip
nie ’n oog nie. Sy hand bewe toe hy dit uitsteek na die beddegoed wat oor die
rand van sy bed hang. Toe, vinnig, pluk hy die beddegoed weg.
Niks!
Hy wil net
uitroep: “Niks gevaarliks gebeur ooit meer met my nie!” toe hy die harige poot
op sy kaal voet voel.
“Aa-aa-aa!
Aa-aa-aa! Los my uit!”
Met een
sprong is Klits bo-op die bed en met nog ’n groter sprong sit hy bo-op die kas.
Sy hart klop vinnig onder sy pajamabaadjie. Hy klou paniekerig aan die
kasdeure. Wat was dit? Is dit dieselfde ding wat hom oomblikke gelede laat
wakker skrik het?
’n Privaat
speurder soos Klits Kronkel moet altyd op sy hoede wees. Gevaar skuil op die
plekke waar jy dit die minste verwag. Soos in jou eie slaapkamer. Soos op jou
knieë voor jou eie bed . . .
“Wat maak
jy op die kas, Klits?”
“Wie’s
dit? Waar’s jy? Ek is nie bang nie. Kom uit, laat ek jou sien!”
Japtrap,
Klits se kat, steek sy kop onder die hoop beddegoed uit wat in ’n bondel op die
vloer lê. Hy draai sy kop skuins en lek aan sy voorpoot. “Dis ek, Horrelpyp,
wat praat.”
“Horrelpyp?
Wat soek jy in my kat?”
“Jy weet
mos ek kan nie self na jou huis toe kom nie. As iemand sien dat ’n lid van die
Kring na jou toe kom, sal hulle weet daar is weer moeilikheid. Dan gaan die
stories weer links en regs vlieg soos almal bespiegel oor wat aan die gang is.
Nou gebruik ek maar jou kat. Ek hoop nie jy gee om nie.”
“Nee, nee.
Dis . . . dis net . . . jy het my vreeslik laat skrik.”
“Wat? ’n
Ervare privaat speurder soos jy skrik tog seker nie vir ’n pratende kat nie?”
“Natuurlik
nie. Ek het immers ’n reputasie om te handhaaf.”
Horrelpyp
lag. “Ja, ja, ek weet. Hmm, gaan jy die hele tyd daar bo bly sit, of gaan jy
afkom sodat ons kan praat?”
Klits kyk
af grond toe. Dis nogal ver. Dalk moet hy weer op die bed spring, of miskien
moet hy maar so stadig op sy maag afseil.
Hy besluit
om geeneen van die twee te doen nie. Nie terwyl Horrelpyp deur Japtrap se oë
vir hom sit en kyk nie, in elk geval.
“Ek is
heel gemaklik hier bo, dankie. Ek sit mos gereeld op my kas. Alles lyk so
anders van hier af, jy weet.”
“Goed dan.
Ek kan nie langer tyd mors nie. Klits, die lede van die Kring het gevra ek moet
jou hulp inroep. ’n Vreeslike ding het gebeur. Ons het jou hulp nodig.”
“Wat het gebeur?”
vra Klits angstig.
“Ek
kan nie nou vir jou sê nie. Jy weet mos, die mure het ore . . .”
“Is dit
iets gevaarliks?”
“Dit kan
wees, ja. Ek sal jou alles vertel in die Ringpaleis.”
Klits se
oë begin vonkel – uiteindelik gaan daar iets gevaarliks met hom gebeur!
“Wanneer moet ek daar wees?”
“Vanaand
nog, as jy kan. Ek sal vir jou wag.”
Nou is
Klits baie opgewonde. Hy wil Horrelpyp nog verder uitvra, maar die kat draai
net om en gee ’n lui miaau, en toe weet Klits Horrelpyp is weg en Japtrap is
terug.
“Jippie!
Ek gaan weer ’n belangrike saak moet oplos! Wat sal dit dié keer wees? Dalk is
iemand getoor, of dalk het ’n draak ’n gawe prinses ontvoer. O, ek hoop dis ’n
draak! ’n Gevaarlike draak! Uiteindelik gebeur iets gevaarliks met my!”
Toe onthou
Klits dat hy nog op die kas sit en eers moet afkom. “Juffrou Splinter! Juffrou
Spli-i-innn-te-e-er! Bring asseblief ’n leer en kom help my om van die kas af
te kom!”