Klits Kronkel en die vloek van die Swart Jakkals uittreksel
2. Die
seedraak
Almal
het soms ’n vakansie nodig. Selfs ’n ervare en hoogs bekwame privaat speurder
soos Klits Kronkel moet die een of ander tyd vergeet van misdaad en net ontspan
. . .
Of nee, wag, ons praat darem nou van
dié Klits Kronkel, die man wat daarvan hou om teen drake te veg (al is hulle so
bitter skaars deesdae). Klits se vernuftige brein skakel nóóit af nie. Hy is
gedurig op die uitkyk vir gevaar in die een of ander vorm.
Selfs hier waar hy nou in die blou
branders baljaar, kan jy maar weet daar snel ’n duisend gedagtes deur sy kop.
Jy kan dit sien aan die rukbeweginkies van sy krulsnor. Ja, selfs daar waar
daardie groot brander nou agter hom opwel, analiseer hy, interpreteer hy,
memoriseer hy elke klein dingetjie wat om hom aangaan.
En dan breek die brander. Tuimelend,
tollend en kragtig. Klits verdwyn in die skuimende massa water. Hy het nooit
eens die brander gesien nie, want hy het op die klein dingetjies gekonsentreer.
En die brander was, om die minste te sê, enorm.
Terwyl hy spartel vir asem en soek na
’n plek om sy voete te anker, doem iets donkers voor hom in die water op. Klits
weet eers nie of hy sy oë moet glo nie. Kan dit wees? ’n Seedraak, hiér? En dit
terwyl hy op sy kwesbaarste is?
Sy hand skiet dadelik na sy sy – daar
waar sy swaard gewoonlik hang. Maar Klits het vergeet ’n mens swem mos nie met
jou swaard nie.
Die seedraak kom nader . . . Klits se
hartklop versnel. Wat gaan hy doen? Om hom is ook nie enige rotse wat hy kan
gebruik om die draak mee oor die kop te moker nie. Daar is net ’n klein
krulstert-seedonkie wat, onbewus van die dreigende gevaar, voor Klits
verbyswem.
Soos die seedraak naderkom, sien Klits
’n ry ontblote tande blink. Hy sien die kloue van die draak, die gepunte stert
. . .
Asem!
Klits se aandag was só vasgevang deur
die seedraak dat hy skoon vergeet het dat hy nog moet asemhaal!
Die malende water van die groot
brander het teruggetrek. Aangehelp deur sy effense boepmagie skiet Klits soos
’n kurkprop na die oppervlak. Hy spoeg om die seewater uit sy mond te kry. Sy
lyf is soos ’n styfgespande boog.
Klits is nie ’n goeie swemmer nie,
maar nóú swem hy. Vinniger as ooit tevore, pylreguit strand toe. Daar waar ’n
horde mense verbaas opkyk toe hy begin gil: “Help! Seedraak! See-ee-draa-aak!
HE-E-ELP!”
Nou gil almal. Natuurlik het nie een
al ooit ’n seedraak gesien nie, maar dit beteken nie daar kan nie so iets wees
nie. Daar is mos talle vreemde en verskriklike kreature in hierdie wêreld.
Klits hol oor die strand. Na die plek
waar sy huishoudster, juffrou Splinter, oomblikke gelede rustig gesit en kyk
het na die poskaart wat Japtrap, Klits se kat, vir hulle gestuur het van haar
kattemaai-vakansie. Maar juffrou Splinter is nou skoonveld en Japtrap se
poskaart lê vergete langs Klits se swaard tussen die voue van die rooi strandhanddoek.
Die mense gil. Klits kyk oor sy
skouer. Een van die draak se liederlike rugvinne het nou net bokant die water
verskyn.
Klits sal moet gou speel, voordat die
bloed van al hierdie mense vandag op sy hande is. Hy gryp sy swaard en trek dit
uit die skede. Tjienk! maak die lem.
Klits hou die swaard voor hom gereed.
Nou kan daardie draak maar kom.
En ja, die seedraak is vinnig op pad.
Sy swart lyf verskyn ook nou bokant die branders. Klits sluk benoud, maar hy
neem hom voor dat niemand sal sien dat hy eintlik ’n bietjie bang is nie. Met afgemete
treë stap hy terug water toe. Hy hoor die brulgeluide wat diep uit die draak se
lyf kom.
Klits kyk af. Hy het sowaar heeltemal
uit sy swembroek geswem! En nou staan hy hier met slegs ’n swaard aan. Gelukkig
sien die mense net sy agterkant. Behalwe die seedraak, wat vir Klits in sy
volle . . . uhm . . . glorie sien. Maar sover Klits weet, is drake nie
uitsoekerig oor wat hulle slagoffers aanhet nie.
Die hele seedraak is nou sigbaar. Dit
lê daar in die vlak water . . . onheilspellend, wagtend op sy prooi.
Nee, wagtend vir die deur aan die kant
om oop te gaan.