Leeus met Letsels

Waar hoort jy?

Buyi voel soos ’n vreemdeling in Londen – die plek waar hy gebore is en grootgeword het.

Maar toe hy vir die soveelste keer moeilikheid by die skool optel, besluit sy ma hy moet by sy pa, wat hy nooit geken het nie, in ’n wildreservaat in Suid-Afrika gaan bly. Maar ook hier voel hy nie tuis nie, veral omdat hy en sy bombastiese pa van dag een af nie oor die weg kom nie en die plek vol vreemde bedreigings is.

Hy kom gou agter Afrika bestaan nie net uit wonderlike landskappe en eksotiese diere nie, maar ook gevaar. ’n Mensvreter-leeu sluip in die wildreservaat rond op soek na sy volgende prooi . . .

Hoe gaan die avontuurlike André en saggeaarde Simoshile hom uiteindelik help om die letsels wat die leeu agterlaat, maar ook dié in hy hart, verwerk?

Die boek kyk na ’n moderne Suid-Afrika en ontwyk die gebruiklike romantiese clichés oor Afrika. Daar is volop humor en avontuur en selfs ’n skoot romanse – die soort boek wat ’n mens hoop ’n tiener wat nie normaalweg lees nie, met ander oë na die leeservaring gaan laat kyk.

Derick van der Walt (resensie op Litnet)

Skooluitgawe

Leeus met Letsels is ook beskikbaar in ‘n skooluitgawe. Die boek is nasionaal goedgekeur vir CAPS (KABV) vir Graad 9 EAT.

Agterin die boek is volledig uitgewerkte vrae en inligting vir klasgebruik. (Jy kan nou maar saans 7de Laan kyk, die werk is klaar vir jou gedoen!)

Die boek se skryfstyl maak dit ideaal vir sukkelende of eerste addisionele taalsprekers: kort sinne, maklike woorde, maar met ‘n hoë belangstellingsvlak.

ISBN nr: 978-0-7981-5958-6

Het jy geweet?

Leeus met Letsels is ook in Engels beskikbaar as Scarred Lions. Die uitgewer is Ransom Publishing.

 

Uittreksel

Daar is bloed op Buyi se vuiste. En bloed op die ou voor hom se gesig. Sy naam is Jonathan. ’n Klomp leerders drom saam om hulle in die skoolgang. Jonathan lê nog op die vloer. Hy kyk op na Buyi. Sy oë uitdagend. Hy glimlag toe hy die bloed van sy oogbank wegvee.

“Lucky shot!” sê hy.

“You want some more then?” In ’n oogwenk speel die vuishou wat Jonathan vloer toe gestuur het, oor in Buyi kop. Die spanning in sy spiere. Knersende tande. Die oomblik toe hulle oë ontmoet. Pyn skiet deur sy vuis en blits op met sy arm toe die hou val.

Die spul ouens en meisies om hulle is soos ’n trop hiënas, steeds honger vir meer.

En toe kom die onderwyser.

Daar is moeilikheid aan die broei. Buyi weet dit net. Dae lank al voel hy dit aan. Dit stoot op deur die koue, nat strate. Oral waar hy gaan, asem hy dit in: die oorvol treine van die Londen Underground, klaskamers, die koerantstalletjie op die straathoek. Dit gaan nou al vir weke so aan. En dit maak hom bang.

Dit is laatmiddag. Vrydag. Hy vat die roltrap en uiteindelik ontsnap hy uit die bedompige ondergrondse treintonnels. Agter hom hoor hy nog ’n straatmusikant se saksofoon. Die oggendreën lê steeds op die strate. Spikkels lig van winkelvensters spieël op die nat sypaadjies, soos diamante onder die sole van verbygangers.

Hy hoor mense se voetstappe en wonder skielik of hulle syne kan hoor. Hy wonder of hulle ooit luister, of hulle ooit omgee.

Natuurlik nie, dis Vrydag. Hulle wil so gou moontlik by die huis kom. Grys wolke hang swaar oor die stad. Dit gaan binnekort weer reën.

Moeilikheid, dink hy. Daar is beslis moeilikheid aan die broei.

Die benouende vrees maak dat hy sy pas versnel. Hy soek na troos in die warmte van sy baadjie, in die bekende omgewing, die mure oortrek met graffiti. Maar die onrustigheid bly op sy hakke. Dit jag hom soos ’n dier.

Terwyl hy loop, vang sy oog sy weerkaatsing in ’n winkelvenster. Swart gesig, kake geklem van die koue. Die sny op sy lip.

En hy voel soos ’n vreemdeling.

Hoekom? Hy woon nog sy hele lewe lank in Londen. Hy bly hier saam met sy ma in ’n tweeslaapkamer-woonstel bo die bakkery. Hy gaan hier na ’n staatskool toe.

Maar op ’n manier ís hy ’n vreemdeling.

Buyisiwe. Sy naam eggo in sy kop. ’n Vreemdeling se naam. Hoekom nie James, Chris of Peter nie? Of dan selfs Jonathan? Hoekom nie enige ander naam soos die meeste ouens in die skool nie?

*

Hy is skaars ’n blok van hulle woonstel af toe die reën in harder vlae uitsak. Hy het intussen stadiger begin loop, maar sit nou weer spoed aan. Sy klere is koud en nat toe hy uiteindelik voor die deur staan. Hy blaas sy asem hard uit, vasberade om sy vrees buite te los. Toe stap hy in, sonder om terug te kyk.

Binne voel dit warm. Veilig.

Hy stoot sy hoodie terug en vat die trappe na die tweede vloer.

Skreeuende stemme klink op uit een van die woonstelle. Hy ignoreer dit soos altyd. Hulle sal een of ander tyd ophou, maar nie voordat daar ’n geklap van deure en ’n gebreek van glas is nie. Hy ken nie die mense wat om hulle bly nie. Elke nou en dan sien hy een van hulle in die portaal, op die trappe of in die gang, maar hy weet nie eens wat hulle name is nie.

Hulle ken ook nie syne nie.

Hulle gee nie om nie, hy ook nie.

Sy ma is nog nie terug nie, sien Buyi toe hy die woonsteldeur oopsluit. Hy sit die TV aan op pad kombuis toe. Agter hom doof die strokiesprentklanke van Tom and Jerrydie res van die wêreld uit. In die kombuis vat hy ’n paar slukke melk sommerso uit die kartonhouer. As sy ma hom nou moet sien . . .

“How many times do I have to tell you to use a glass?”

Dis wat sy sal sê. Hy doen dit soms net om haar kwaad te maak.

Hy sit die melk terug, krap deur die yskas en kom af op die vorige aand se oorskiet-pizza. Die kaas het intussen verkleur na ’n onsmaaklike vaalgeel met olywe, pynappel en stukkies salami bo-oor gestrooi. Hy gril, maar sy maag skree so dat hy dit tog maar uithaal en in die mikrogolfoond druk.

Terwyl die pizza opwarm, slenter hy terug sitkamer toe. Hy val op die bank neer en maak homself gemaklik met ’n paar kussings. Eindelose beelde flits oor die TV-skerm, maar hy gee nie eintlik aandag daaraan nie; sy gedagtes bly teruggaan na die geveg by die skool. Daardie verpeslike Jonathan verdien alles wat hy gekry het, sê Buyi vir homself en vou sy arms oor sy bors.

“Zulu!” hoor hy nog Jonathan se stem in sy ore.

“What are you doing here, Zulu? Why don’t you go live with your people?”

Your people. Jou mense.

Hierdie ís sy huis. Hy ken nie ’n ander plek nie.

Vies verander Buyi die TV-kanaal en staan op om die pizza te gaan haal.

Maar tog weet hy dis nie net Jonathan se woorde wat hom vandag so pla nie. Daar is iets anders: vanoggend se haastige gesprek tussen hom en sy ma.

“Ons moet praat,” het sy gesê.

“Nie nou nie, ek’s laat.”

“Dis belangrik, Buyi.”

“Ma!”

“Vanaand dan. Wanneer ek terugkom van die werk af.”

Hy weet iets pla haar ook. Dit gaan nou al vir meer as ’n maand so aan. Hy wou haar nie daaroor vra nie. Hy het geweet sy ma sou hom vertel wanneer sy gereed is.

Moeilikheid, sê ’n stem in sy agterkop.

Daar is moeilikheid aan die broei. En dit is nie iets wat ’n mens sommerso buite kan laat nie. Die moeilikheid is reeds binne die woonstel.

Fanie Viljoen
Fanie se eerste kortverhaal is in 1999 in Sarie gepubliseer. Daarna het nog publikasies in tydskrifte en boeke gevolg. Vandag is Fanie een van Suid-Afrika se gerekende kinderboekskrywers. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings. Fanie Viljoen woon die afgelope 9 jaar in Bloemfontein. Hy skilder en skryf voltyds.