Die note van die Lamentum-serenade van Volaticus,
Juvenis se gunsteling wat sy soms vir hom speel. Die musiek wat Volaticus vir
sy vrou gekomponeer het ná haar wrede dood aan die kake van ’n weerwolf, so
word vertel.
Miserella probeer die snikke wat uit haar bors wil
bars, in toom hou. Haar oë is vasgenael op die vaas met die as.
Dit word stil. Skielik. Die windjie draal vir net
’n oomblik langer en raak dan ook weg.
Is dit verby? kom die vraag in Miserella op. Soos
gister? Gaan daar niks gebeur nie? Het Mortallus dit weer nie reggekry om uit
die as op te staan nie?
Vrae wat oor en oor deur haar spoel.
Maar toe! ’n Weerligstraal. Blitsend! Van die dak
af, vloer toe. Die tafel spat in stukke, splinters hout klief deur die lug. Die
kerse ontplof. Hulle vlamme gaan dood, maar die kamer is nou gehul in ’n helder
wit lig, wat dring tot in elke donker skeur en vergete hoek. ’n Geluid soos
botsende treine, skeurende metaal en hartverskeurende gille.
Meubels skuif na die mure toe van die impak in die
middel van die vertrek. Miserella gryp haar bene vas. Arms beskermend oor haar
lyf. ’n Stoel tref haar teen die skouer. Sy byt op haar tande van pyn. Byt haar
wang aan die binnekant raak en proe bloed in haar mond.
En in al hierdie waansin tuimel die vaas daar voor
haar grond toe, saam met die glaskissie. Miserella sien dit in stadige aksie, draaiend.
Die vaas se deksel gly af, as wolk mistig uit die vaas se tollende bek. Die
aswolk wat dan onnatuurlik begin krul, groter word.
Buite die deur hoor Miserella nou iemand gil.
Aanhoudend. Juvenis, dink sy, maar haar gedagtes is vasgevang in dit wat sy
hier voor haar sien.
Nog ’n weerligstraal wat die mure ruk en ’n gordyn
voor die venster wegskeur. Die venster breek oop, glas spat, blare en sand waai
in.
Maar die aswolk bly onaangeraak, word digter,
digter. Miserella moet haar oë knip teen die trane en vrees.
“Miserella!” hoor sy weer vir Juvenis.
En uit die as verskyn daar nou ’n bonkige figuur, eers
dofgrys soos uitgebrande stompe in ’n dooie vuur. Die as begin effens wegsyfer.
Die silwerwit lig word nou dowwer, maar is steeds helder genoeg vir Miserella
om te sien hoe die silhoeëtagtige figuur in die wolk sy hande oplig, aan sy
gesig vat.
Dis ’n man, kan Miserella uit sy houding aflei, breë
skouers, voete uitmekaar.
Toe is daar ’n geluid soos iets wat val. Iets geels,
sien Miserella. Metaalagtig. Goue muntstukke wat uit die as op die vloer
neerkletter en wegrol onder die meubels teen die mure in.
Die man is blykbaar nie eens daarvan bewus nie. Hy
vee nog met sy hande oor sy lyf. Toe steek hy sy hand voor hom uit. En die hand
kry ’n kleur: doodsbleek vel met blou, bultende are. Nou die ander hand, ’n
silwer ring aan een vinger, ’n ring met ’n kraai op.
Miserella trek haarself kleiner teen die muur.
Die man gee ’n tree vorentoe. Vuil swart skoene,
grys langbroek, gekreukelde baadjie. Vergeelde hemp met ’n dun, swart strikdas
wat uitrafel aan die punte.
Sy kop is bles, sien Miserella, want hy kyk af
vloer toe, sy gesig gehul in skadu’s. Miserella hou haar asem op.
Hy lig sy kop op.
Die skadu’s val van sy gesig af soos vlermuise van
’n grot se dak.
Sy vel is grof, groot neus met dun neusvleuels. Sy
bokaak strek ver verby sy onderkaak. En dan . . . sy wrede groen oë onder die
wilde wenkbroue.
Hy knip sy oë een keer, draai sy kop skuins, snuif,
glimlag boosaardig. Sy verrotte botande steek uit onder die bloedlose lippe.
Mortallus!
Hy draai sy kop in Miserella se rigting. Sy
wenkbroue lig en laat sy oë nog groter lyk, sodat sy die wit aan die bo- en
onderkant kan sien.
“Ná al die jare . . .” grom hy binnensmonds. Sy
stem skuur oor sy lippe.
Miserella lê steeds in ’n bondeltjie teen die
deur. Mortallus kom nader. Afgemete treë, nader. Nou eers los sy haar bene wat
steeds in haar arms opgetrek was. Sy begin wegkruip, al met die muur langs, stoot
meubels uit haar pad.
“Moenie bang wees nie . . .” sis Mortallus.
Nader.
Miserella voel die kamer se hoek teen haar rug. Sy
kan nie verder nie, maar Mortallus kom steeds nader.
Sy gesig verander heeltyd, vriendelik, boos, treurig,
asof hy nie sy emosies onder beheer kan kry nie. Sy mond wat heeltyd oop- en
toegaan. Hy steek ’n hand uit, die een met die silwer ring aan.
“Miserella, nie waar nie?” draal sy growwe stem.
Sy hand is nou hier by haar gesig. Sy ruik sy vel.
Dit ruik na as.
Mortallus vat aan haar ken. Miserella probeer haar
gesig wegdraai. Hy vat haar ken stewiger vas, draai haar gesig terug.
Nou kom sy gesig nader.
En sy ander hand, die een met die mes wat Miserella die dag op
die tafel agtergelaat het toe sy geskrik en weggehardloop het.
Miserella se oë val bang op die mes se lem. Haar
asem ruk.
Die lem blink naby haar keel.
Toe hoor sy hoe die deur oopgebreek word.
Wil jy verder lees?
Koop Miserella nou by Kalahari.net
Miserella is ook besikbaar in die meeste groot boekwinkels.