Monsterrugby

Is die nuwe ou in die skool ’n monster?

Ampie droom daarvan om sy skool se rugbyheld te word. Maar ongelukkig is sy bene maar aan die dun kant en hy vaar nie altyd te waffers op die rugbyveld nie. Daarom weet hy sommer hy gaan sy plek in die span verloor toe Max Swart sy opwagting in hul skool maak.

Max is groot en sterk, hy lééf vir rugby en hy is ’n regte boelie. Kort voor lank vind Ampie uit dat Max ’n nare geheim het … Hoe gaan Ampie die res van sy rugbyspan oortuig dat die skool se nuwe ster-speler in werklikheid ’n MONSTER is?

Het jy murg of melkskommel in jou pype? Maak reg vir ’n rugbywedstryd soos jy nog nooit gesien het nie – en die verloorders gaan geëet word!

Klik hier en koop Monsterrugby aanlyn.

Uittreksel

’n Nare dag op Breekkloof

Breekkloof is bobaas,
Breekkloof is tops!
Breekkloof maak maalvleis
van jou skool se tjops.
Ons knoop jou, ons knak jou,
ons skree en ons raas.
Want ons is die brekers
en ons is die baas!

Dit is hoe die rugbykreet eintlik moes klink. Maar Laerskool Breekkloof se spelers kom skaars by “maalvleis”, toe word Ampie Coetzee naar.
“Sies!” roep van die ander spelers.
Ampie word altyd naar as die rugbyspan te hard oefen. Hy waarsku gewoonlik, maar nie vandag nie. Of dalk het die rugbykaptein, Ludolf de Beer, en die ander ouens hom net nie gehoor nie. Hulle het mos gesing. En Ampie praat sag. Veral as hy naar is.
“Lekker, ou Ampie!” terg Tonie, die vleuel. “Reg op die middellyn.”
Ampie is so bleek soos bordkryt.
“Ugh!” steun al die spelers gelyk.
“Is jy oukei, Ampie?” vra meneer Jansen, die afrigter.
Hy is gebou soos ’n wensbeentjie: dun en benerig. Dit lyk of hy enige oomblik kan breek. Dalk moet hy maar eerder Laerskool Breekkloof se gelukbringer word. Daardie ou wat in ’n pienk flamink-kostuum langs die veld rondhardloop. Ampie se bene lyk nogal soos ’n flamink s’n.
Die oefening is uiteindelik verby. Ampie stap na sy sportsak toe. Ludolf draf verby. Hy gee hom ’n klappie op die rug om hom te bemoedig. “Sien jou by die volgende oefening, Ampie!”
Ampie glimlag vir hom. Ludolf is Ampie se held. As Ludolf ’n bal onder sy arm vasknyp en hardloop, kan niemand hom keer nie. As hy wat Ampie is net eendag so goed soos Ludolf kan speel …
Met ’n sug trek hy sy sweetpakbaadjie aan. Meteens vang sy oog iemand langs die paviljoen. Dis ’n groot ou met kortgeskeerde hare.
Hy hou Ampie-hulle fyn dop en gee ’n vieslike grynslag.
Ampie knip sy oë, maar toe hy weer sien, is die ou weg …

Wil jy verder lees?

Kry Monsterrugby nou by jou naaste boekwinkel. Of klik hier en koop Monsterrugby aanlyn.

Save

Save

Fanie Viljoen
Fanie se eerste kortverhaal is in 1999 in Sarie gepubliseer. Daarna het nog publikasies in tydskrifte en boeke gevolg. Vandag is Fanie een van Suid-Afrika se gerekende kinderboekskrywers. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings. Fanie Viljoen woon die afgelope 9 jaar in Bloemfontein. Hy skilder en skryf voltyds.