You are here
Home > Afrikaans > Nova-reeks

Nova-reeks

“Die aliens het ons vasgemaak op tafels, Pa. Hulle het ’n sny in my kop gemaak … Daar was bloed. Ek kon dit voel afloop teen my slape. Ek was nog nooit so bang nie.”

Die Nova-reeks is nou beskikbaar in omnibus-vorm.

Omnibus 1 bevat die boeke: Die Begin, Vuurdoop en Bloedbroers

Omnibus 2 bevat die boeke: Sterreloper en Eindspel

 

Nova: Die Begin

WENNER: ATKV-Woordveertjie 2011

Die eerste boek in Fanie Viljoen se wetenskapsfiksie reeks gaan soos ‘n fliek in jou kop afspeel!

Iets is fout op die dorpie Nova. Watter vreemde ligte sien Lucas en die res van sy gesin een aand? En waarom is die weermag so geheimsinnig oor die projekte wat agter die hoë heinings plaasvind? Daar is ook ‘n glibberige swart ding wat Lucas in die rivier sien.

Kort voor lank beleef hy en sy vriende ‘n wilde avontuurrit vol gevaarlike raaisels.

Onderwysers: Klik op die skakel om ’n gratis Nova-studiegids af te laai.

Nova Studiegids

 

Nova: Vuurdoop

In Nova: Die Begin is Lucas en sy vriende op skrikwekkende wyse na ’n VVV weggevoer. Hulle het ontsnap en nou keer alles weer terug na normaal. Of só dink Lucas … Hulle mediese toetse wys dat alles piekfyn is, maar dan waag Lucas dit om vir sy pa te vertel wat in die VVV met hulle gebeur het: “Die aliens het ons vasgemaak op tafels, Pa. Hulle het ’n sny in my kop gemaak … Daar was bloed. Ek kon dit voel afloop teen my slape. Ek was nog nooit so bang nie.”

Hierdie woorde gooi die volgende avontuur in hierdie wetenskapfiksie-reeks in snelrat. Die geheimsinnige Sterreloper los vir Lucas twee geskenke: ’n tipe knipmes met ’n laserstraallem en ’n eCom waarmee hy kan kommunikeer. ’n Vreemde man is op Lucas se spoor en waag dit selfs in sy huis wanneer Lucas se ouers nie tuis is nie. Maar die vreemdste van alles is die skrikwekkende visioene wat Lucas onverhoeds begin teister. Wat beteken hulle? Sal hulle ooit ophou? En sal Lucas en sy vriende hulle ruimtelike vuurdoop oorleef?

Nova: Bloedbroers

Terwyl Lucas en sy vriende probeer om Ayanda se dood te verwerk, word hulle gekonfronteer met vreemde gebeure: ’n misterieuse bol lig, so groot soos ’n rugbybal, hang in die donker buite Brandon-hulle se huis; ’n massiewe swart trok ry Nova se strate binne en verdwyn in die Hok.

Die skool word ook skielik ontruim wanneer ’n vuur uitbreek en dele van die skool ontplof. Al die leerders en onderwysers soek skuiling in ’n ondergrondse bunker.

Om sake te vererger vertel Lucas se ma vir hom ’n geheim … Dit keer sy hele wêreld om en hy kan nie help as om anders na homself en sy vriende te kyk nie.

Nova: Sterreloper

Lucas ken Nova-eenheid se geheime. Hy het met sy eie oë die eksperimente in die laboratoriums gesien: die monstermense, die verskrikte ruimtewesens in die tenks. En hy verstaan nou waar sy en sy vriende se spesiale kragte vandaan kom. Hulle was ook daar, in daardie laboratoriums, jare gelede.

Hulle was ook eksperimente. Al verskil is, hulle was die suksesverhale …

Maar daar is geheime wat Lucas steeds nie ontrafel het nie. Wie is die geheimsinnige Sterreloper wat gereeld vir hom boodskappe stuur? Wat beteken die vreemde visioen wat hy in sy broer se oë gesien het? En waarom wil die grootkoppe van Nova-eenheid hom en sy vriende skielik met vakansie see toe stuur?

Lucas vermoed dit gaan nie net ’n gewone vakansie wees nie. Dit voel asof dinge nou op ’n manier in plek begin val. Eendag sal hy dalk die groter prentjie kan sien en nie meer net die legkaartstukke nie … Is Lucas en sy vriende gereed om die grootste geheim van almal te ontdek?

Nova: Eindspel

In elke spel is daar twee opponente. Elkeen dink die ander span is die vyand. Elkeen dink hy gaan wen. En as hy wen, is die titel – die mag – syne. Dis wat hier aan die gang is. Die Eindspel is ’n spel vir mag. Wie sal die sterkste wees? Die lig of die donker?

Lucas Niemand keer terug na Nova. Maar dan kom die skok: Sy vriende onthou glad nie meer van hulle ontmoetings met ruimtewesens of hulle spesiale kragte nie. Hulle weet ook nie waar Lucas al die tyd was nie – vasgevang in ’n nagmerrieagtige, donker ruimteskip waar aaklige goed met hom gebeur het nie.

Die Eindspel het reeds begin, besef Lucas.

Maar sal hy uit die kloue van die donker ruimtewesens kan bly? Watter geheim dra Troy in hom? Waar kom die drie nuwe alien-tieners vandaan en wat wil hulle van Lucas hê? Hoekom vind Lucas nou eers van die Slaper uit – iemand wat nie is wie hy voorgee om te wees nie?

Maar die belangrikste van al die vrae: Sal Lucas Niemand die skrikwekkende Eindspel oorleef …?

 

Koop die omnibusse

Die twee Nova-omnibusse is beskikbaar in goeie boekwinkels.

Klik hier om omnibus 1 by Takealot te koop.

Klik hier om omnibus 1 by Loot te koop.

Klik hier om omnibus 1 by Lapa Uitgewers te koop.

Klik hier om omnibus 1 se e-boek by Amazon te koop.

Klik hier om omnibus 1 se e-boek by Lapa Uitgewers te koop.

 

Klik hier om omnibus 2 by Takealot te koop.

Klik hier om omnibus 2 by Loot te koop.

Klik hier om omnibus 2 by Lapa Uitgewers te koop.

Klik hier om omnibus 2 se e-boek by Amazon te koop.

Klik hier om omnibus 2 se e-boek by Lapa Uitgewers te koop.

Die individuele Nova-boeke kan ook as e-boeke by Lapa Uitgewers en Amazon aangeskaf word. Die individuele papierboeke is ongelukkig uit druk, maar kontak fanieviljoenbooks@gmail.com – dalk is daar nog ‘n enkele kopie of twee beskikbaar.

 

Kyk na die Nova-video waarin Fanie ’n paar geheime verklap

Uittreksel uit Eindspel

Die badwater voel soos die hemel vir Lucas, al brand dit in die snyplekke. Dis so lekker om net weer daar in die water te lê met sy oë toe. Hy voel hoe sy spiere uiteindelik begin ontspan. Dis wat hy nodig het.
  In daardie oomblik van oorgee aan die warmte wat om hom vou, gaan sy ooglede toe. Hy haal diep asem en blaas dit stadig uit sodat die stoomwolke voor sy gesig wegdraai. Sy kop val skuins teen die bad se rand en toe hy sy oë vir net ’n oomblik weer effens oopmaak, vang sy blik sy eie weerkaatsing in die badkamerspieël.
  Skielik is dit asof ’n vuishou hom reg binne-in sy kop tref. Hy het nog nooit so iets beleef nie. Sy lyf ruk en hy snak na asem toe een van die onderdrukte herinneringe oor die donker wesens se ruimtetuig in beelde uit die spieël stoot.
  Dan is Lucas binne-in die beelde asof hy terug is in die tuig. Asof hy alles weer van voor af beleef, nes toe.
  Hy is in ’n ovaalvormige tenk. Vloeistof – dis nie water nie, sien hy – styg op om hom. Die vloeistof is silwer en bollend soos giftige kwik. Hoër en hoër styg dit. Enige oomblik nou gaan dit bo sy kop wees, om sy kop vou. Dan gaan hy nie meer kan asemhaal nie. Tensy hy ’n plan maak. Hy sal sy mond so lank as moontlik bo die vloeistof moet probeer hou. Dalk, dalk kry hy ’n plekkie waar daar lug oorbly in die tenk. Net een borrel lug … vir asemhaal … vir bly lewe.
  Hy gooi sy kop agteroor, die kwik kruip blink oor sy ore en glip oor sy wange, sy ken. Hy hou sy mond nog hoër. Die beweging dompel sy oë onder. Sy kop voel skielik gloeiend warm tot in sy brein. Nog hoër styg die kwik en dan glip dit by sy neus in. Onmiddellik is dit in sy keel. Hy stik – van skrik en van die metaalagtige vloeistof in sy lugpyp. Hy hoes en sluk ’n mondvol kwik.
  Asem! Hy kan nie asem kry nie!
  Nou is die hitte in sy hele lyf asof ’n elektriese golf deur die metaal stuur. Hy gaan sterf. Hy weet dit … weet dit … Maar dit gebeur nie. Nog nie, dink hy.
  Nog ’n elektriese golf pols deur die vloeistof. Deur sy toegeperste ooglede sien hy vonke. Dit blits helder deur die vel waar are rooi vertak oor sy oogballe. Maar hy durf nie sy ooglede
oopmaak nie. Toe die derde skok kom, voel dit vir Lucas of hy van binne af oopgeruk word. Of sy vleis aan die brand is. En net toe hy dit nie meer kan verdra nie, los die visioen hom.
  Dis asof hy deur die verdwynende beelde terug na die werklikheid tuimel.
  Hy is terug in die badkamer. Water lê die hele vloer vol. Hy sukkel lomp uit die bad en syg op die badkamermatjie neer. Sy hande klou krampagtig aan sy arms wat om sy opgetrekte
bene vou. Hy is verward. Kyk wild rond. Gaan aan die bewe van skok. Sy vingers gryp na ’n handdoek. Hy kry net die punt beet en trek dit nader oor sy koorsig warm lyf. Die handdoekpunt druk hy in sy mond. Hy byt daarop. Dit help hom om nie te skree nie.
  Hy kan nie verstaan wat nou gebeur het nie. Dit was alles so werklik.
  Die klop aan die badkamerdeur laat hom regop sit, langs die bad, met die wasbak se ronding hier net bo sy kop. Hy gooi die handdoek oor hom. Gavin kom binne. Sy oë groot. “Is jy oukei? Ek kon jou in my kamer hoor … stoei … of iets …”
  Gavin praat nie verder nie. Hy staan net daar asof sy woorde skielik opgedroog het.
  Toe lig hy sy wysvinger op na sy gesig, sy oog.
  Steeds sê hy geen woord nie. Hy wys dieselfde vinger na Lucas.
  “My oë?” sêvra Lucas sag.
  Gavin knik. “Dis swart …”
  Die woorde ruk binne Lucas.
  Versigtig draai hy sy kop spieël toe. Hy wil eintlik nie, want hy weet nie of die skrikwekkende visioen weer sal kom nie. Of dit sal voortgaan waar dit opgehou het nie.
  Sy hele borskas ruk.
  Hy kyk, en terwyl hy kyk, is dit asof die swart wat sy oë se oppervlak heeltemal bedek het, wegbloei en sy oë weer blou daar lê in sy oogkasse. Nes tevore.

Kyk na Glaskas se Nova-temaliedjie

Save

Save

Save

Save

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top