Onderwêreld

“Hulle weet ek was in hulle systems. Hulle weet wat ek gedoen het. Hulle weet wie ek is.”

Greg Owen is die hoofseun van ’n privaat seunskool wanneer Eckardt Wilken, ’n buitestander, in matriek by hulle aansluit.

Reeds met die inisiasie van nuwelinge vorm ’n band tussen die twee seuns. Eckardt erken dat hy ’n voortreflike rekenaar-hacker is en lei Greg in die geheime van die onderwêreld in wat hom, onwillekeurig, in ’n gevaarlike avontuur intrek. Met Eckardt se skielike en geheimsinnige verdwyning begin Greg alles wat hy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het, bevraagteken.

Die onderwêreld ken sy naam en roep hom om te kom speel.

Die skrywer het uitvoerige navorsing gedoen oor kuberkraking en dit, tesame met ’n goed geskrewe en gekonseptualiseerde storielyn, maak vir spannende leesstof.

Klik hier en koop Onderwêreld aanlyn.

Klik hier en bestel die skooluitgawe van Onderwêreld.

Onderwêreld  in die klaskamer

Onderwêreld is vanaf 2017 die voorgeskrewe boek vir matriek (Afrikaans Huistaal). Dit is ook op 31 Oktober 2016 bevestig met hierdie omsendskrywe van die Departement van Onderwys (klik om te vergroot):

1

2

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die skooluitgawe van die roman sal sentraal deur die Departement van Onderwys aangekoop en versprei word. Indien jy egter nou al self vir jou ‘n kopie van die skooluitgawe wil aanskaf, stuur ‘n e-pos aan Mariette by lectio@iafrica.com

Of klik hier om hulle webblad te besoek. 

Werkswinkels

Die ATKV hou van tyd tot tyd kongresse waar kenners Onderwêreld bespreek. Kontak asseblief vir Rozeldi Trollip by die ATKV om jou plek te bespreek en die venue te bevestig: RozeldiT@atkv.org.za

Henk Viljoen van Best Books reël ook addisionele werkswinkels landswyd. Kontak hom by henk.viljoen@nb.co.za

StudiegidsOnderwereld studiegids

Om onderwysers verder te help, kyk gerus na die reeks van agt video’s op YouTube. Die leerders kan dit ook in die klas of by die huis kyk.

Fanie Viljoen het ook saam met dr. Riens Vosloo aan ‘n nuwe omvattende studiewerkgids gewerk. Dit het meer as 500 vrae vir Onderwêreld en is onontbeerlik vir elke klas.

Laat die skrywer self die voorgeskrewe boek vir jou en jou leerders ontsluit. Die gids is nou beskikbaar. Vra daarvoor by jou naaste boekwinkel, of klik hier om dit van die internet af te bestel.

Andersins, stuur ‘n e-pos aan henk.viljoen@nb.co.za. Henk sal jou verwys na boekhandelaars in jou omgewing.

Belangrike nota: As jy iewers op die internet nog op ‘n ou PDF-studiegids afkom, neem asseblief kennis dat dit nie op ‘n Graad 12 Huistaal- vlak geskryf is nie. Best Books se studiewerkgids is ‘n volledige bywerking van die ou gids wat jare gelede op die internet geplaas is. Daar is vollediger en meer toepaslike inligting in die Best Books-gids wat matrieks ten volle sal toerus vir die eksamen.

Kyk na die reeks video’s

Op YouTube is ‘n reeks video’s waarin Fanie oor Onderwêreld praat. Klik hier, of kyk op die YouTube-kanaal “FanieViljoenFlieks“.

Het jy geweet?

Onderwêreld is ook as e-boek en luisterboek beskikbaar. Die luisterboek is op Amazon se webblad beskikbaar.

Nuusbriewe

Klik hier en teken in op Fanie se nuusbrief vir Laerskole.

Klik hier en teken in op Fanie se nuusbrief vir Hoërskole.

Resensies

Viljoen verdien ’n veertjie in sy hoed vir die uitstekende navorsing wat hierdie boek voorafgegaan het. Hy gebruik werklike rekenaarvirusse en sisteme, en maak die prosesse van hacking vir enige leser verstaanbaar.

Wat Onderwêreld verder belangrik maak, is dat dit ’n inligtingstuk is wat jou sal ruk, omdat dit ’n deel uitmaak van ons elkeen se alledaagse, moderne lewens. Dit laat jou die moontlikheid van die Internet as slagveld besef – Wêreldoorlog III en IV tegelyk, met die natuur en die digitale (onder-) wêreld wat ons bedreig.

Onderwêreld weerspieël akkuraat die sleng wat hoërskoolleerlinge gebruik en bevraagteken die sportmal wenmentaliteit in skole. Dit beeld ook die vrylik beskikbare pornografie op die Internet, drank, dwelms en seks uit waartoe tieners hul wend.

Dit skets die harde werklikheid waarin hoërskoolleerlinge hul vandag bevind – ek kan jou waarborg dit is nie meer die sorgelose dae waarin kaalvoet-Boksombendes gestig word nie.

Hierdie boek is daarom belangrike kritiek op ons samelewing. As jy wil, kan jy glo dat ons nog in die era leef waar dinge in rekenaarterme óf “OK” óf “Cancel” is.

Onderwêreld, nes Viljoen se BreinBliksem, verdien om as Afrikaanse jeuglektuur bekroon en, belangriker nog, geléés te word.

Pieter Schuurman (Beeld) 7 November 2008



Onderwêreld
is ’n spanningsvolle eietydse verhaal, wat so reg in die smaak van baie tienerseuns behoort te val. Hulle behoort al die rekenaar/internet-inligting interessant te vind; ekself het maar ’n bietjie ‘gebattle’ met al die rekenaarterminologie!  Maar dan kan selfs ’n rekenaarongeletterde nie anders as om betrokke te bly nie, want die storielyn is so spanningsvol.

Ek dink nie ons het al voorheen ’n soortgelyke tema vir tieners in Afrikaans gehad nie. Lekker leesstof veral vir seuns, waar die skrywer ook deeglik navorsing oor sy materiaal gedoen het met die gee van ’n Bronnelys; en die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies.

’n Deeglike stukkie werk. Aanbeveel.

Lona Gericke (IBBY SA) Desember 2008


Die boek is goed nagevors en die hantering van die aanloklike gegewe oor kaping is pluspunte. Die leser word subtiel teen verleiding op daardie gebied gewaarsku. Die boek boei enduit en die taalgebruik is tipies van dit wat ’n mens van daardie wêreld verwag.

Rapport Tydskrif – 26 Oktober 2008


Selde sit ek helder oordag by my lessenaar en lees skelmpies ’n storieboek. Onderwêreld het my van meet af meegesleur. Viljoen vleg ’n tiener-met-’n-probleem-storie en ’n speurverhaal netjies saam binne die koshuis-milieu.

Die inligting wat hy oor kubermisdaad inwerk, verleen ’n nuwe dimensie aan bekende patrone en help spanning bou.

Meer ervare rillerlesers sou dalk beter as ek die spore kon volg en vooruitloop, maar Viljoen se jakkalsdraaie het my telkens uitasem gelaat. Soos in sy vorige boek vir jong volwassenes, BreinBliksem, slaan sy verhaal ’n mens tussen die oë, maar van lekkerkry lees jy voort, ook omdat die karakters se emosionele motivering oortuigend is.

Viljoen skep leesaas vir lui seunslesers, en plesier vir enigeen wat ’n slim uitgewerkte riller geniet.

Coenraad Walters – Boeke Insig #6 Somer


Soos met BreinBliksem, is hier weer ’n treffer vir Millenniërlesers uit die pen van die veelsydige en bekroonde jeugskrywer, Fanie Viljoen.

Deur middel van uitstekende navorsing word die eietydse probleme van kubermisdaad en tienerselfmoord verweef in ’n tipiese rykmanskool- en koshuisstorie.

Die boek bevat kort, vinnig leesbare hoofstukke, met ’n nabootsing van virtuele tipografie en  hipernetwerk-woordeskat wat die elektroniese wêreld van kommunikasie en transaksies treffend uitbeeld.

Die teks sal as jeugletterkunde die verbeelding van (waarskynlik hoofsaaklik manlike, maar selfs ook nuuskierige vroulike) lesers kan aangryp om ’n spanningsvolle leeservaring te verseker.

Die verhaal voldoen aan die funksies van jeugliteratuur daarin dat dit die emosionele krisisse van die hoofkarakter waarmee lesers kan identifiseer uitbeeld, sonder pretensie die maatskaplike konteks van korrupsie ontmasker, en die verwagtingshorison en leefwêreld van tienerlesers in tienerafrikaans betekenisvol uitbrei en verryk.

Dr. Estelle Kruger


Lees prof. Johan Anker, Assistentdekaan: Onderwys, Fakulteit vir Onderwys, Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie (CPUT), Wellington-kampus, se artikel : Fanie Viljoen se Onderwêreld as voorbeeld van die gesag- en magstryd in die jeugroman.

Save

Save

Save

Save

Save

Fanie Viljoen
Fanie se eerste kortverhaal is in 1999 in Sarie gepubliseer. Daarna het nog publikasies in tydskrifte en boeke gevolg. Vandag is Fanie een van Suid-Afrika se gerekende kinderboekskrywers. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings. Fanie Viljoen woon die afgelope 9 jaar in Bloemfontein. Hy skilder en skryf voltyds.
  • Leandri

    Kom daar dalk moontlik iewers n fliek van ‘Onderwêreld’ ??