Pleisters vir die Dooies

’n Boek oor seerkry en wraak

In een hellenag konfronteer die swerwende, naamlose hoofkarakter sy duiwels kaalvuis; ontmoet hy vreemde en skrikwekkende karakters wat sy innerlike demone laat lewe kry; vertroetel hy sy wraakgedagtes soos ’n magasyn vol koeëls; lek hy die wonde van sy tienerseerkry. Hierdie is ’n nie ’n boek vir sensitiewe lesers nie. Dis ’n boek wat tieners én hul ouers moet lees. Dis ’n boek oor seerkry en wraak. En tog is dit ’n boek wat onverwags troos en begrip, soos pleisters, uitdeel. Dis ’n vuishou van ’n boek.


Met Pleisters vir die dooies het Viljoen baanbrekerswerk gelewer en sodoende ’n grensverskuiwende oomblik in die Afrikaanse jeuglektuur teweeg gebring. Hierdie roman is Afrikaans se eie Catcher in the Rye wat die tienerpsige tot op die been ontgin ten spyte van die “donker” onderwerpe wat aangeraak word.

Dewald Koen (Litnet – Lees die volledige resensie hier.)

Pleisters vir die Dooies is beskikbaar in goeie boekwinkels, of klik hier en bestel dit aanlyn.

Kyk na Pleisters vir die dooies  se video

Uittreksel

Die nag is donker en gevaarlik soos ’n begraafplaas waar niemand meer kom nie.
Ek sit op my deurmekaar bed in my kamer en ek dink. Iewers buite is daar geluide, maar dit is ver en dof. Net ’n flou bedliggie brand hier binne. Ek kyk na die vloer, maar ek sien nie regtig iets nie. Iets anders hou nou al my aandag. Ek sit stil om te kyk of dit weer gebeur.
Daar …
Dit voel of iemand anders binne-in my lyf is. Sy hande in my hande. Sy voete in my voete. Sy kop in my kop. Ek voel dit beweeg. Stadig. Diékant toe, dan daardie kant toe. Net effens, maar genoeg om my te laat weet hy is hier.
Skielik voel ek hom agter my staan. Hy kreun. Sy sterk hande lê swaar op my skouers. Hy laat sak hulle af oor my boarms, skuif hulle oor my bors … stadig … Meteens gryp sy hande mekaar vas. Sy arms trek vas om my. Ek wil keer, my arms opruk, maar ek kan nie beweeg nie. Die asem pers uit my longe. Vir ’n ruk sit ek só totdat dit voel of ek gaan vrek. My lyf word koud en dood. Die greep trek stywer, stywer. Ek probeer loskom. Ek probeer weer om iets te voel. Maar dit help nie.
Ek bly net so vooroor sit en probeer om nie paniekerig te raak nie.
“Dis oukei, dis oukei,” rasper my stem.
Daar kom ’n bloedsmaak in my mond. Ek sluk dit weg. Ek weet die greep sal weer verswak. Nie baie nie, maar ek sal weer kan beweeg. Tot dan moet ek net wag.
“Vat dit kalm!” fluister ek vir myself. “Jy ken mos al dié gevoel.”
Kort hierna sal die hartseer kom. Ek probeer ’n tyd onthou toe ek nie so stukkend gevoel het nie. Ek weet daar was sulke tye, daar móés gewees het, maar ek sukkel om dit te onthou. Was daar ’n tyd toe ek gelukkig was?
Beelde van dinge by die skool flits voor my verby. Die gesigte van die kinders. Hulle kyk my aan asof my siel uithang. Die slim frats. Die weirdo, die freak. Dis ek.
Uiteindelik verslap die greep om my lyf. Die lug stort my longe binne. Dit brand in my keel. Stadig sit ek regop en probeer weer ’n vaste voet in die realiteit kry. Ek kyk na die oop deur se kant toe. Die res van die huis is donker. My pa slaap nou. Sy storm van vroeër is verby. Ek het met net ’n vuishou teen die oog weggekom.
Jy was hierdie keer gelukkig, Pa. Volgende keer bliksem ek terug!
Volgende keer?
Ek het vergeet.
Daar gaan nie ’n volgende keer wees nie.
Ek verstar skielik. Het ek iemand in die huis hoor beweeg? Dalk my pa, of my broer? Nee, dis weer stil.
Ek gaan staan by die oop venster. ’n Ligte wind laat die geskeurde kantgordyne beweeg. Dit laat my dink aan die beweging wat ek netnou binne my gevoel het. Die donkerte s’n. Of was dit my siel? Ga, my siel. Wat dit ook al is – ek weet myne is dun geskuur.
En dis hoekom ek gaan doen wat ek gaan doen.
Môre gaan alles verander. Vir my gaan dit eindig. Vir ’n klomp mense by die skool ook.
Môre gaan ek ’n pistool saamvat skool toe.
Ek het genoeg gehad. Ek weet wat ek moet doen, en ek gáán dit doen. Niemand gaan my keer nie.
Ek vat van nou af beheer oor my lewe. Ék besluit. Klaar.
Hierdie is my laaste aand. Ek hoef nie vanaand te slaap nie. Vanaand gaan ek fare-bloody-well vir alles sê, gaan die aftelling na die oordeelstyd begin.
Ek verwag iets ongeloofliks wanneer ek die sneller trek. Dit sal wees soos ’n moerse vuurwerkvertoning waar die vonke oopspat oor die donker.
Dwa! Dwa! Dwa!
Ek verwag dat bloed só sal oopspat teen die skoolmure.
Dwa! Dwa! Dwa!
Ek verwag afgryse in die kinders se oë. Ek gaan kyk hoe hulle siele uit daardie selfde oë sypel.
Dit sal asemrowend wees. Ek weet dit net.
Asemrowend.

Pleisters vir die Dooies is beskikbaar in goeie boekwinkels, of klik hier en bestel dit aanlyn.

Save

Fanie Viljoen
Fanie se eerste kortverhaal is in 1999 in Sarie gepubliseer. Daarna het nog publikasies in tydskrifte en boeke gevolg. Vandag is Fanie een van Suid-Afrika se gerekende kinderboekskrywers. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings. Fanie Viljoen woon die afgelope 9 jaar in Bloemfontein. Hy skilder en skryf voltyds.