Prooi

Wie is die jagter, en wie is die prooi?

Drie lewens raak onomkeerbaar inmekaar verstrengel:

  • Cody Young, die player, wat met losbandige seks desperaat op soek is na homself;
  • Owen Jooste, die hokvegter, met die drome, woede en jaloesie;
  • en tussen hulle staan Lauren Cooper, die beeldskone verleidster, wat op ’n pad van selfvernietiging beland.

Wie is uiteindelik die jagter, en wie die prooi? En wat gaan aan by die sinistere nagklub – Black Valentine?
Sluip daar moontlik nóg ’n jagter rond?

Prooi gaan die leser stadig maar seker in sy verleidelike kloue kry … en voor jy weet, is dit te laat om te ontsnap.

Prooi sal waarskynlik uiteenlopende reaksie ontlok. Dit ontsien immers geen sensitiewe siel nie. Daar sal lesers wees wat hier vergeefs na Viljoen se jeugverhale gaan soek. Daar sal dié wees vir wie die blatante erotiese aard van Prooi en die ontbloting van die donker siel van die mens onaanvaarbaar sal wees, veral gesien in die lig van die ouderdom van die hoofkarakters. Maar dan sal daar diegene wees vir wie die felheid, die intensiteit van die emosies vreeslik (maar tog so mooi) sal wees – diesulkes wat daardie dramatiese, angst-gevulde en stomende tydperk tussen adolessensie en volwassenheid sal herken en so ’n ontstellende, onvergeetlike leeservaring sal geniet.

Henriëtte Loubser (Litnet – Lees die volledige resensie hier.)

Viljoen klap die spanningsweep kliphard sonder om vir een oomblik in die slaggat van oorbeklemtoning of preek te verval. Hy vel nie ’n morele oordeel oor sy karakters se (moontlike) ondergang nie en stel dalk eerder daarin belang om die leser se eie grense uit te daag, sonder sensasie. Prooi, met sy gestroopte, kragtige prosa en intuïtiewe verstaan van die kontrak tussen skrywer en leser, is slaggereed om toe te slaan.

Jonathan Amid (Netwerk24 – Lees die volledige resensie hier.)

Koop Prooi  by jou naaste goeie boekwinkel, of klik hier en bestel dit aanlyn.

Uittreksel

“Ek is klaar met hierdie plek.” Owen Jooste se stem slaan na hom toe terug in Diana se halfverligte kantoor. “Dis verby. Finish.” Hy trek sy skouers terug en die hemp span oor sy arms en bors. Hy kyk Diana vas in die oë. Sy moet weet hy maak nie grappies nie.
Diana sit daar voor hom. Sy draai rustig heen en weer in die leerstoel agter die lessenaar.
Hy haat hierdie vrou. Haar mondhoeke trek stadig in ’n effense glimlag asof sy haar nie deur sy harde stem sal laat afskrik nie. “Ek is seker ek kan jou oortuig om te bly. Wat wil jy hê, Owen? Meer geld?”
“Dit gaan nie oor geld nie.”
“Nou wat dan? Sit, Owen, laat ons praat.”
“Ek wil niks verder van jou hoor nie, Diana. En ek wil ook nie sit nie, ek het jou net kom sê ek waai nou. Dis al.” Hy probeer hard om nie nog kwater te word nie. Dis gevaarlik, weet hy.
“Owen, skat,” gaan sy aan asof sy nie ’n woord gehoor het wat hy sê nie.
Wat is dit met haar?
“Wees nou redelik, toe? Jy kan my tog seker sê wat jou pla voordat jy gaan?”
Die woorde ril deur hom. Dis deel van die probleem. Dis nie net hierdie plek nie. Nie net Black Valentine nie. Dis sy ook – Diana met haar mooi woordjies waaragter donker goed skuil. Soos duiwels wat jou inwag.

As dit nie vir sy buurvrou Ava was nie, het Owen nooit eens van die plek geweet nie. Sy het een middag na hom toe gekom, sommer net by sy woonstel ingestap asof die plek aan haar behoort. Hy moes die veiligheidshek gesluit hou, maar wat sal nou met hom gebeur as hy dit nie doen nie?
Ava het haar op sy stukkende sitkamerbank neergeplak, haar bene oor die kant gegooi. Sy het haar wysvinger deur daardie wilde rooi hare gedraai. Gekleurde tattoos haar arms vol, soos lang moue. Sleeves, noem sy dit. Daar was een op haar rug ook. Dit het oor die ronding van haar skouers teen haar nek opgekrul. Dis ’n swaan, het sy hom eenkeer vertel. Iets van die Griekse mitologie, of wat de duiwel, hy weet nie. Leda en die swaan. So iets. Asof dit nie erg genoeg was nie, was daar twee silwer ringe by haar mondhoek ook. Dit het so om haar onderlip gevou.
Sy het probeer storietjies maak. Maar dit het nie gewerk nie. Hy het niks gesê nie. Net gewonder wat de hel sy daar doen.
Ná ’n ruk het sy stilgebly, hom so aangekyk en toe skielik regop gesit en in ’n sagter stem as gewoonlik gevra: “Hei, Owen, wil jy ’n job hê?”
Hy het eers gedink sy bedoel iets anders. ’n Blow job. Ava met daardie swart klere en tattoos en stuff is weird. Weird verby, eintlik. En hy weet sy like hom al het sy ’n ou.
“’n Job, Owen. Werk,” het sy weer gesê.
Op ’n manier was hy bly dat hy verkeerd verstaan het, want hy het ook iemand. Lauren. Al is dinge tussen hulle partykeer nie lekker nie, probeer hy dit ten minste cool hou. “Ek het ’n werk, Ava.” Sy behoort te weet hy is ’n bouncer by ’n klub in die stad.
“’n Beter een,” het sy steeds gefluister.
“Vir wat praat jy so verdomp sag, Ava?”
“Want dis ’n geheim.”
“’n Geheim? Jy is nie meer op hoërskool nie, Ava.”
Sy het so ’n simpel glimlag gegee. “Die job, dis dieselfde as wat jy nou doen. Maar meer professional. En vir meer bucks.”
“Hoe weet jy dit?”
“Dis waar ek naweke sing, Owen.”
Hy weet sy sing by ’n koffiewinkel of ’n kroeg of ’n ding. Maar hy het nooit verder uitgevra nie. Hy hou hom uit sy bure se sake. “Wat is die catch?”
Ava het haar tongring tussen haar tande vasgebyt, die silwer knop wat tussen haar voortande blink. Toe het sy geglimlag en ’n kaartjie by haar borste uitgehaal.
Dit was swart, met skrif wat so uitstaan, ook in swart. Black Valentine, het Owen gelees toe hy dit teen die lig hou. Daar was ’n adres ook.
Ava het die tongring in haar mond laat terugglip. “Gaan praat met Diana,” het sy weer gefluister. “Sy soek iemand. Maar jy moet my belowe, Owen, jy vertel vir niemand hiervan nie, oukei?”
“Vir wat nie? Ek kan seker vir Lauren sê?”
“Nie eens vir Lauren nie.”
“Sy weet alles van my. Ek steek niks weg nie.”
“Owen, luister,” het Ava aangehou. “Jy vertel vir niemand nie. Nie jou pa-hulle nie, nie jou pelle by die gym nie, nie vir Lauren nie! Promise. As Diana uitvind . . .” Ava het net daar ophou praat. Haar donker oë met die swart eyeliner het hom ernstig aangekyk.
Black Valentine, het Owen weer die naam op die kaartjie gelees. Hy ken die Kaap, maar hy het nog nooit van die plek gehoor nie. En wie is hierdie Diana?
Dis hoe dit alles begin het, met Ava en die visitekaartjie.
Vanaand stop dit.

Owen kyk hoe Diana van die swaar lessenaar af opstaan. Haar maer vingers trek oor die swart blad terwyl sy om die lessenaar na hom toe loop. Die donker rok sit styf aan haar. Nes ’n slangvel. Owen draai sy kop weg. Hy wil nie langer na haar kyk nie. Hy moet waai. Hy het gesê wat hy wou sê.
En tog hou iets hom terug.
Dis sy.
Diana glimlag weer. Plooie trek oor die sagte oumensvel. Haar oë blink. Sy is al in haar vyftigs. Sy moes seker eens op ’n tyd iets soos ’n beauty queen of ’n ding gewees het, want daar is op ’n manier nog iets moois aan haar. Nee, sy is oud. Fokkit.
Sy kom sit haar hand teen sy bors. Hy kyk af daarna. Hy weet nie wat sy try doen nie, maar hy gaan nie weer vir haar stories val nie, sê hy vir homself. Vanaand maak hy klaar met Black Valentine.
Maar toe kom Diana se fluisterende bevel: “Sit, Owen.” Daardie kyk wat sy hom gee, sê: Jy is nou in my plek en jy sal maak soos ek sê.
Sy druk hom agtertoe, in die rooi stoel in. “Sien? Dit was nou nie so moeilik nie. Jy moet nie alles kompliseer nie, hartjie. Daar is genoeg verwikkeldhede in hierdie lewe. Om te sit en te praat behoort nie een daarvan te wees nie.” Haar vingers is op sy arm. Sy vryf oor sy bultende boarm, met sy skouer langs na sy nek toe terwyl sy agterom die stoel stap. “Wat kan ek vir jou gee om te drink?”
“Niks, dankie.”
“Kyk hoe stel jy my weer teleur. Dis nie asof ons mekaar se vyande is nie. Ek bied jou net ’n onskuldige drankie aan en jy wys dit af.”
“Dis omdat ek niks wil drink nie,” antwoord hy hard. “Ek train. Ek drink nie as ek train nie.”
“Nie eens water nie?” vra sy en die spot slaan deur haar woorde.
Hy kyk hoe sy vir haarself iets gooi. Whiskey en soda, dalk. Hy weet nie. Die drank staan op ’n blink skinkbord, in sulke grênd flesse. Waar Owen vandaan kom, bly die dop in die bottel waarin jy dit gekoop het totdat jy dit in jou plein Checkers-glas gooi en uitsuip. Hierdie ryk mense wil mos alles anders maak om te wys hulle is beter as jy.
“Praat, Owen,” sê Diana. Sy kom weer nader. Hy hoor die ys in haar glas. Sien die dop blink.
“Ek like nie die plek nie,” sê hy.
“Hoe so?”
“Dis . . . Ek is nie so grootgemaak nie.”
“Natuurlik nie, hartjie,” sê sy en maak ’n ag-shamebekkie met haar dun lippe. “Jy het ’n goeie opvoeding gehad. En kyk net hoe goed het alles vir jou uitgedraai. Reg? Bly jy nog by jou pa-hulle? In daardie afskuwelike huisie in Parow?”
Hy antwoord haar nie. Sy gaan hom nie verder afpiss nie.
“O nee,” gaan Diana aan, “jy het mos ’n woonstelletjie. Langs Ava. Ewe verwerplik. Die woonstelletjie, nie die liewe Ava nie. Sy is nogal mooi op haar manier, en talentvol.”
Owen se vuiste bal soos hy stip voor hom uitstaar, verby Diana se lessenaar, verby die diep lessenaarstoel na die skildery van die kaal vrou teen die muur oorkant hom. Hy kyk nie omdat sy vir hom mooi is nie. Hy wil net nie vir Diana kyk nie, want hy weet sy is besig met haar speletjies.
“Wat julle hier doen, is . . .” Hy maak nie sy sin klaar nie. Hou net jou bek, sê hy vir homself.
“Is wat, Owen?”
“Jy weet, Diana!”
Sy gee ’n skewe lag en vat ’n stadige sluk uit die glas. “Ai, skat, jy moet jou kop oopmaak vir nuwe ervaringe.”
“Nie dáárvoor nie,” sê hy hard en spring op uit die stoel. Hy storm verby Diana, hoor haar lag, maar hy is al by die kantoordeur. Hy maak dit oop en dis asof ’n koue deur hom waai. Hoendervel slaan op arms uit. Hy kyk net een laaste keer terug. “Totsiens, Diana.”
“Sien jou weer, Owen.”
“Daar is nie ’n kans nie.”
“Natuurlik is daar. Daar is altyd ’n kans.”
Hoe verkeerd is sy nie, dink Owen toe hy buite in die straat kom en die koue Kaapse wind hom tref. Hy trek sy baadjie aan en pluk die hoodie oor sy kortgeskeerde kop en dink: Ek is vry.
Dit was ’n jaar gelede.

 

Koop Prooi  by jou naaste goeie boekwinkel, of klik hier en bestel dit aanlyn.

Save

Save

Fanie Viljoen
Fanie se eerste kortverhaal is in 1999 in Sarie gepubliseer. Daarna het nog publikasies in tydskrifte en boeke gevolg. Vandag is Fanie een van Suid-Afrika se gerekende kinderboekskrywers. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings. Fanie Viljoen woon die afgelope 9 jaar in Bloemfontein. Hy skilder en skryf voltyds.