Slym-reeks

‘n Wurm beland by ‘n spul paddas en die grootste avontuur van sy lewe begin.


Langs die riete, in Paddavlei,
daar waar al die paddas bly,
onder die grote hemelruim,
woon daar ook ’n wurm, Slym.
’n Geheime wapen sit onder my stert
en ek sing o-parra in ’n paddakonsert!
Al my avonture is amper om,
maar ek sal graag weer terug wil kom.
So met ’n lag en met ’n traan
moet ek, Slym, nou huis toe gaan.


Slym: Die wêreld se eerste wurm in ’n paddakonsert

SlymSlym, ‘n slymerige wurm, word deur ‘n voël gevang. Slym skrik so groot dat hy ‘n bol vrotterige slym in die voël se bek skiet. Die voël skrik op sy beurt weer so groot dat hy vir Slym laat val by ‘n skool vir paddas.

By die skool vind Slym uit dat hulle besig is om ‘n paddakonsert te reël. Dit laat Slym se kop oortyd werk, en met sy vriend, Paddavoet, se aanmoediging besluit Slym om die eerste wurm te word wat in ‘n paddakonsert optree.
Maar dit is egter nie so maklik nie. Slym sal eers by juffrou Plat Anna, Paddarotti en Giftand die slang moet verbykom …

Slym en die gogga-sirkus

Slym en die goggaDie gogga-sirkus is hier! Slym en die paddas in juffrou Plat Anna se klas is baie opgewonde oor die pragtige rooi-en-wit sirkustent.

Daar is slakke wat suigstok-toertjies doen, sprinkane baljaar op trampoliens en die krieke oefen vir die sirkus-simfonie.

Maar iewers sluip ‘n skelm met bose planne rond …

Sal Slym en sy beste vriend, Paddavoet, ‘n plan kan maak voordat dit te laat is?

Slym en die beker van geluk

Slym en die beker van gelukWENNER: ATKV-Woordveertjie vir die teks en die illustrasies (2010)

Koning Kwaak, die paddakoning, kom Paddavlei toe! En hy bring boonop die Beker van Geluk saam. Enigiemand wat daaruit drink, sal sewe jaar lank dolgelukkig wees.
Slym en die paddas in juffrou Plat Anna se klas kan nie wag om te sien wie gekies gaan word om uit die beker te drink
nie.

Maar dan gebeur ’n vreeslike ding …
Hierdie is die derde titel in die opwindende Slym-reeks.

Slym en die towertapyt

Slym die wurm en sy paddavriend, Paddavoet, is in die moeilikheid omdat hulle in juffrou Plat Anna se klas gelag het. As straf moet hulle die hele klas én die stoorkamer skoonmaak. Maar in die stowwerige stoorkamer ontdek hulle iets ongelooflik – ’n towertapyt waarop jy soos blits deur die lug kan skiet. Dis vet pret!

Daardie aand toe Slym in sy bed lê, kry hy ’n blink plan. Sal die towertapyt hom kan help om weer sy ma en pa te sien?

Slym vertrek op ’n betowerende avontuur om sy ouers te soek. Maar beteken dit dat hy nooit weer sy paddavriende gaan sien nie?

Fanie Viljoen
Fanie se eerste kortverhaal is in 1999 in Sarie gepubliseer. Daarna het nog publikasies in tydskrifte en boeke gevolg. Vandag is Fanie een van Suid-Afrika se gerekende kinderboekskrywers. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings. Fanie Viljoen woon die afgelope 9 jaar in Bloemfontein. Hy skilder en skryf voltyds.
  • Niel Steinmann

    Ek het drie van die 4 slym boeke in die reeks maar kort die gogga-sirkus een. Ek kry hom nie? Help asb!

    • Fanie Viljoen

      Niel, dankie vir jou navraag. Ek stuur vir jou ‘n e-pos.