Daar gebeur nooit iets opwindends met wurms nie. Hulle kruip maar meestal op die grond rond op
soek na iets om te eet. Of hulle seil teen
’n boomstam op om aan vars blare te kou.
Wanneer twee wurms mekaar toevallig raak seil,
praat hulle ook maar min. Die een sal
dalk vra: “Wat doen jy vandag?”
En die ander een sal antwoord: “Niks, en jy?”
“Niks.”
En dit is ook so.
Niks gebeur ooit met wurms nie.
Maar daar is altyd ’n uitsondering.
Vir
Slym is vandag net ’n doodgewone dag. Hy kou-kou aan ’n boomblaar, kyk
op na die
blou lug en sug. Hy is so verveeld. Hy wens iets wil gebeur. Skielik
hoor hy vlerke naby hom klap. ’n Skaduwee val oor hom. Hy kyk op en
sien ’n
voël bokant hom vlieg. Hy probeer wegseil, maar die voël land op die
boomtak
voor hom. Vinnig draai hy om en seil anderkant
toe. Sy asem jaag terwyl hy agtertoe
kyk. Die voël wip met ’n vaart agter
Slym aan. Hy pik na Slym met sy geel snawel.
“Help!
Help!” skree Slym, maar niemand hoor hom nie.
Die voël kry vir Slym beet en styg op met ’n vinnige
geklap van sy vlerke.
Slym weet die voël gaan hom eet. Hy sal dadelik ’n plan moet maak. Hy is nog heeltemal te jonk om voëlkos te
word. Wat kan hy tog doen? Hy voel hoe die bangheid sy lyf lam
maak. Voordat Slym kan keer, skiet daar ’n
vreeslike stink slymbol uit sy lyf.
Hierdie keer is dit die voël wat skrik. Sy oë gaan staan stokstyf van die aaklige
smaak in sy bek. Hy maak sy snawel oop
en laat Slym val.
Slym weet nie presies wat hy gedoen het nie, maar
dit het gewerk! Die wind suis om sy kop terwyl
hy grond toe val. Hy land op ’n gebou se
dak.
“Oefff!” kreun Slym.
Hy begin van die dak afrol. Hy tuimel oor die kant van die dak en land op
’n deurmatjie. Op die matjie staan daar
in groot letters: SKOOL.
Slym wou nog wonder wat “skool” beteken, toe die
rooi deur oopgaan.
“Jy
is laat mannetjie,” sê die padda wat in die
deur staan. Sy trek haar oë kleiner asof
sy probeer om vir Slym beter te sien. Sy
het ’n stok in haar een poot en bordkryt in die ander. “Gaan sit,
asseblief. Ek wil aangaan met die les. Ek is besig om te verduidelik
hoe ’n padda sy
longe gebruik om te sing.”