Spoke en ander gruwelike goed

Is die deure en vensters toe … dan kan jy begin lees.

Jy het seker al gewonder oor spoke en ander gruwelike goed. Bestaan hulle regtig? Of is dit net goed wat grootmense opmaak om kinders mee bang te maak? In Spoke sal jy lees dat daar rêrig goed is soos spoke, zombies, vampiere en dooie dinge wat in die donker rondsluip … Dit is hulle wat die hare op jou kop kan laat regop staan. Dis hulle wat jou laat omkyk as jy alleen in die donker loop. Dis hulle wat jou drome kan omtower in nagmerries!

So, skakel al die ligte in die huis aan, maak seker die vensters is dig toegemaak en die deure is gesluit – en dan kan jy begin lees …

Spoke en ander gruwelike goed bevat 16 lekker-lees spookstories. Soos Die mensvreters se begraafplaas waar Wouter saam met sy pa gaan jag, maar hom dan vasloop in ’n spul mensvreter-spoke wat jare laas mensvleis geproe het.

In Die kat kom terug bring ’n ou, verflenterde man Elsabé se kat, Tinka, terug nadat sy weggeraak het. Maar alles is nie pluis met Tinka nie. Het die ou man haar teruggebring uit die dood?

Daar is ook ander stories soos Bene in die Bos, Die spookperd uit die hel en Ek is ’n vampire.

Die boek word aanbeveel vir lesers van 9 tot 14, of vir almal wat net hou van ‘n lekker spookstorie.

Koop die boek by goeie boekwinkels, of klik hier en bestel dit aanlyn.

Uittreksel

Die mensvreters se begraafplaas

DanserSend - CopyMy pa tel sy hand skielik op en sak dan stil tussen die lang gras weg. My hart begin vinniger klop. Voor in die donker sien ek die bok se oë blink. Pa druk die geweer teen sy skouer.

Ek draai die lantern ’n bietjie laer. Pa mik. Ek sien hoe hy een keer diep asemhaal. Nou sal die skoot afgaan.

Ek wag, maar niks gebeur nie. Pa laat sak die geweer. Die bok is weg!

“Wouter, ek gaan kyk of hy nie ’n entjie verder is nie,” fluister pa. “Bly jy net hier. Ons moet nie te veel geraas maak nie, anders kom hy weer weg. Ek is nóú terug.”

Ek knik. “Pa moet net gou maak. Dis vrek koud.”

Ek sien hoe my pa in die donker verdwyn. Hy weet net waar om te trap sodat ’n takkie nie onnodig kraak nie. Ek moet dit nog leer.

Nou is ek alleen. Ek hoop regtig my pa kom gou terug. Ek is moeg en kry koud.  Ons is al heelaand in die veld. Ek gaan sit op die grond met my rug teen ’n groot rots. My pa hoef nie te worry nie, ek sal nie in die donker rondloop terwyl hy weg is nie. My oupa het my al vertel wat gebeur as jy in die donker jag. Dit is dán wanneer jy een van jou eie mense raak skiet.

Ek maak my oë toe. Die moegheid kom vat sommer gou oor en ek raak weg in droomland. ’n Harde geluid ruk my wakker. Was dit ’n geweerskoot? Ek luister. Nee, dalk het ek net gedroom.

“Ek is nóú terug,” hoor ek nog my pa se stem. Dit voel of hy al ure lank weg is.

Ek kyk op en sien hoe die maan agter die wolke ingly. Behalwe die lig van my lantern is dit donker om my.

Waar bly Pa dan? Ek sal nog ’n rukkie wag, besluit ek, maar as hy oor ’n halfuur nie terug is nie, gaan ek hom soek. Ek kyk op my horlosie. Dit is nou halfelf.

Skielik roep ’n uil êrens in die donker. Dit klink soos ’n noodkreet. Ek voel hoe die koue sweet op my lyf uitslaan. Ek het al hóéveel uile gehoor, maar hierdie een klink anders. Ouma sê uile bring bad luck. Wat as die uil se roep ’n teken is dat my pa in die moeilikheid is?

Ek spring op. Ek moet hom gaan soek. Ek weet net iets is verkeerd.

Die uil roep weer.

Met vinnige treë begin ek stap. My lantern brand al laag. Ek hou dit hoër om beter te sien.

“Pa!” roep ek die donker in. My stem klink hol en blikkerig. Daar is geen antwoord nie. Skielik hoor ek iets voor my. Ek gaan staan.

“Pa?”

Daar is steeds nie antwoord nie. Miskien is dit net my verbeelding. In die donker hoor ’n mens mos goed wat jy nie anders sou hoor nie. Asof jou ore te hard probeer omdat jy nie kan sien nie.

Ek begin weer stap. Daar voor sien ek ’n voetpaadjie. Ek weet dadelik waar ek is.  Hierdie paadjie loop verby die plaas se begraafplaas. Dit lê onder teen die koppie se voet.

Dit is die plek waar hulle jare gelede ’n klomp misdadigers begrawe het. Hulle het uit die tronk ontsnap en in die veld gaan wegkruip. Om te oorleef, het hulle van die veldplante geëet. En toe hulle moeg geword het van die plante het hulle mekaar begin eet. My oupa het vertel toe ’n kommando maande later op hulle afkom, was daar nog net een ou oor. Die ander se kaalgestroopte bene het om hom gelê. Die kommando het die bene begrawe. Vir die man wat oorgebly het, was daar net een straf: hy is lewend begrawe.

Ek ril. Dit moet aaklig gewees het.

“Pa!” roep ek weer. “Waar is pa?”

Ek voel vies vir myself. My stem klink bang en bewerig. Ek is darem al twaalf, maar ek kan dit nie help nie. Hoe nader ek aan die begraafplaas kom, hoe meer voel dit vir my of ’n onsigbare hand my hart vas druk.

In die donker glim iets wits. Kan dit ’n grafsteen wees? Nee, dis seker ’n lantern!  My pa se lantern!

“Pa!”

Skielik verdwyn dit. En ’n paar tree verder verskyn dit weer. Ek gaan staan stil. My oë volg die lig in die donker.

Dit raak weer weg.

Ek begin stadig stap. Onrustiger. Kyk kort-kort om. Ek dink aan die mensvreters. As ’n mens so ’n aaklige dood gesterf het, sal jy dalk . . . Nee, moenie eens daaraan dink nie! Maar wat as een van hulle agter my aankom? Wat as hy sy koue hand op my nek sit?

Ek hoor voetstappe. My asem raak skielik weg. Die gras ritsel kort-kort. Daar is dit weer!

Die uil se skelroep klink op uit die donker. Dit voel of die bloed in my are vries. Ek gaan staan. Daar’s ’n lig. Nou is ek seker. Dit is my pa!

“Pa!” roep ek verlig en hardloop oor die veld na hom toe.

“Pa?” sê ek vir die man hier voor my. Sy rug is nog op my gedraai. Maar toe hy omswaai, sien ek sy oë. Dit is soos gloeiende kole onder die rand van sy hoed. Sy gesig is ’n skedelbeen. Die tande is weggevrot van die lank lê onder die grond.

“Ja-a-a-a-a-a?” sê hy. Sy suur asem slaan teen my gesig vas.

Hy kom nader.

Ek sien die donker gat waar sy neus moet wees. Groen slym drup draderig grond toe. Hy steek sy hand na my toe uit asof hy aan my gaan vat.

Koop die boek by goeie boekwinkels, of klik hier en bestel dit aanlyn.

Save

Fanie Viljoen
Fanie se eerste kortverhaal is in 1999 in Sarie gepubliseer. Daarna het nog publikasies in tydskrifte en boeke gevolg. Vandag is Fanie een van Suid-Afrika se gerekende kinderboekskrywers. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings. Fanie Viljoen woon die afgelope 9 jaar in Bloemfontein. Hy skilder en skryf voltyds.