My pa tel sy
hand skielik op en sak dan stil tussen die lang gras weg. My hart begin
vinniger klop. Voor in die donker sien ek die bok se oë blink. Pa druk die
geweer teen sy skouer.
Ek draai die lantern ’n bietjie laer. Pa mik. Ek sien hoe hy een keer diep
asemhaal. Nou sal die skoot afgaan.
Ek wag, maar niks gebeur nie. Pa laat sak die geweer. Die bok is weg!
“Wouter, ek gaan kyk of hy nie ’n entjie verder is nie,” fluister pa. “Bly
jy net hier. Ons moet nie te veel geraas maak nie, anders kom hy weer weg. Ek
is nóú terug.”
Ek knik. “Pa moet net gou maak. Dis vrek koud.”
Ek sien hoe my pa in die donker verdwyn. Hy weet net waar om te trap sodat
’n takkie nie onnodig kraak nie. Ek moet dit nog leer.
Nou is ek alleen. Ek hoop regtig my pa kom gou terug. Ek is moeg en kry
koud. Ons is al heelaand in die veld. Ek
gaan sit op die grond met my rug teen ’n groot rots. My pa hoef nie te worry
nie, ek sal nie in die donker rondloop terwyl hy weg is nie. My oupa het my al
vertel wat gebeur as jy in die donker jag. Dit is dán wanneer jy een van jou
eie mense raak skiet.
Ek maak my oë toe. Die moegheid kom vat sommer gou oor en ek raak weg in
droomland. ’n Harde geluid ruk my wakker. Was dit ’n geweerskoot? Ek luister.
Nee, dalk het ek net gedroom.
“Ek is nóú terug,” hoor ek nog my pa se stem. Dit voel of hy al ure lank
weg is.
Ek kyk op en sien hoe die maan agter die wolke ingly. Behalwe die lig van
my lantern is dit donker om my.
Waar bly Pa dan? Ek sal nog ’n rukkie wag, besluit ek, maar as hy oor ’n
halfuur nie terug is nie, gaan ek hom soek. Ek kyk op my horlosie. Dit is nou
halfelf.
Skielik roep ’n uil êrens in die donker. Dit klink soos ’n noodkreet. Ek
voel hoe die koue sweet op my lyf uitslaan. Ek het al hóéveel uile gehoor, maar
hierdie een klink anders. Ouma sê uile bring bad luck. Wat as die uil se roep
’n teken is dat my pa in die moeilikheid is?
Ek spring op. Ek moet hom gaan soek. Ek weet net iets is verkeerd.
Die uil roep weer.
Met vinnige treë begin ek stap. My lantern brand al laag. Ek hou dit hoër
om beter te sien.
“Pa!” roep ek die donker in. My stem klink hol en blikkerig. Daar is geen
antwoord nie. Skielik hoor ek iets voor my. Ek gaan staan.
“Pa?”
Daar is steeds nie antwoord nie. Miskien is dit net my verbeelding. In die
donker hoor ’n mens mos goed wat jy nie anders sou hoor nie. Asof jou ore te
hard probeer omdat jy nie kan sien nie.
Ek begin weer stap. Daar voor sien ek ’n voetpaadjie. Ek weet dadelik waar
ek is. Hierdie paadjie loop verby die
plaas se begraafplaas. Dit lê onder teen die koppie se voet.
Dit is die plek waar hulle jare gelede ’n klomp misdadigers begrawe het.
Hulle het uit die tronk ontsnap en in die veld gaan wegkruip. Om te oorleef,
het hulle van die veldplante geëet. En toe hulle moeg geword het van die plante
het hulle mekaar begin eet. My oupa het vertel toe ’n kommando maande later op
hulle afkom, was daar nog net een ou oor. Die ander se kaalgestroopte bene het
om hom gelê. Die kommando het die bene begrawe. Vir die man wat oorgebly het,
was daar net een straf: hy is lewend begrawe.
Ek ril. Dit moet aaklig gewees het.
“Pa!” roep ek weer. “Waar is pa?”
Ek voel vies vir myself. My stem klink bang en bewerig. Ek is darem al
twaalf, maar ek kan dit nie help nie. Hoe nader ek aan die begraafplaas kom,
hoe meer voel dit vir my of ’n onsigbare hand my hart vas druk.
In die donker glim iets wits. Kan dit ’n grafsteen wees? Nee, dis seker ’n
lantern! My pa se lantern!
“Pa!”
Skielik verdwyn dit. En ’n paar tree verder verskyn dit weer. Ek gaan staan
stil. My oë volg die lig in die donker.
Dit raak weer weg.
Ek begin stadig stap. Onrustiger. Kyk kort-kort om. Ek dink aan die
mensvreters. As ’n mens so ’n aaklige dood gesterf het, sal jy dalk . . . Nee,
moenie eens daaraan dink nie! Maar wat as een van hulle agter my aankom? Wat as
hy sy koue hand op my nek sit?
Ek hoor voetstappe. My asem raak skielik weg. Die gras ritsel kort-kort.
Daar is dit weer!
Die uil se skelroep klink op uit die donker. Dit voel of die bloed in my
are vries. Ek gaan staan. Daar’s ’n lig. Nou is ek seker. Dit is my pa!
“Pa!” roep ek verlig en hardloop oor die veld na hom toe.
“Pa?” sê ek vir die man hier voor
my. Sy rug is nog op my gedraai. Maar toe hy omswaai, sien ek sy oë. Dit is
soos gloeiende kole onder die rand van sy hoed. Sy gesig is ’n skedelbeen. Die
tande is weggevrot van die lank lê onder die grond.
“Ja-a-a-a-a-a?” sê hy. Sy suur asem slaan teen my gesig vas.
Hy kom nader.
Ek sien die donker gat waar sy neus moet wees. Groen slym drup draderig
grond toe. Hy steek sy hand na my toe uit asof hy aan my gaan vat.