Spookstorie

 Die wraak van Erik, die vampire

deur Fanie Viljoen



Marius sit die boek Spoke en ander gruwelike goed op sy bedkassie neer.  Hy het dit nou net klaargelees.  “Flippit, maar dit was nou ‘n cool boek,” sê hy sag vir homself.  Hy wens daar was sommer nog stapels boeke oor spoke.  Dit laat hom bietjie kriewelrig voel, maar dis oukei, hy hou daarvan om effens bang te word.  En as jy té bang word, kan jy mos die boek neersit. 

Marius gaan sit voor sy rekenaar om gou vir sy vriend, Jaco, wat die boek aanbeveel het, te laat weet dat hy dit klaar gelees het. Hy gaan sommer vir Jaco ‘n e-pos stuur. Marius kry ‘n glimlag as hy dink aan Jaco se woorde nou die dag: “Sjoe, Marius, jy MOET die boek lees.  Dis lekker scary.  ALMAL lees dit.  En die boek se prente . . .  ek het amper nagmerries gekry daarvan, maar dit AMAZING!”

Terwyl Marius wag dat sy rekenaar aan die internet koppel, onthou hy ook dat Jaco hom vertel het van ‘n ekstra storie op Storiewerf se webblad.  Miskien moet ek gou gaan kyk, besluit Marius.  Hy tik Storiewerf se Grilgrot-webadres op die rekenaar in.  Sommer gou kry hy die plek waar die ekstra storie lê.

Die eerste paar reëls van ‘n storie begin op die skerm verskyn …

Maar voordat dit klaar kan laai, gebeur daar iets vreemd.

Dit voel vir Marius of die muis in sy hand begin lewe kry. Ja!  Daar is dit weer.  Die muis begin te ruk.  En toe, skielik, skiet dit uit sy hand uit asof onsigbare vingers dit wegpluk.

Die volgende oomblik maak ‘n program sommer vanself op sy rekenaar oop.  Marius wonder of die rekenaar ‘n virus gekry het, maar toe hy sien dis geen virus nie…

Voor hom op die rekenaarskerm verskyn die volgende woorde:

Dankie dat jy gekom het. Dit is nou tyd om wraak te neem op kaptein Swart.  Gaan jy my help?

Wat? wil Marius sommer skree.  Hy kan dit nie glo nie.  Wie tik hierdie goed op my rekenaar?  Kaptein Swart … Wraak …  Toe, stadig, besef Marius wat aan die gang is.  In die spookboek was daar ‘n storie van Erik, die vampire wat deur ‘n kaptein Swart gebyt is.  Die storie se naam was Ek is ‘n vampire.  Kan dit wees dat dit Erik is wat hierdie woorde getik het?

Ja, dis ek, Erik. Gaan jy my help?

Marius voel hoe die koue oor sy hele lyf toeslaan.  Hy kan nie sy oë glo nie.  Hy het gedog dis net ‘n storie – maar nou …

Gaan jy my help wraak neem op kaptein Swart?  Ja of Nee?

 

As jy wil hê Marius moet JA tik, gaan na nommer 1.

As hy NEE moet tik, gaan na nommer 2    

_________________

 

[1]

Marius sit sy hande op die sleutelbord.  Wat sal gebeur as ek “Ja” tik? wonder hy.  Dit sal dalk ‘n dom ding wees om te doen.  Hoe kan hy tog vir Erik help wraak neem?  En wat sal dan gebeur?  Ek kan dalk my eie lewe in gevaar stel.  Hy dink nog hieraan, maar voordat hy finaal ‘n besluit kan neem, is dit asof sy vingers sommer vanself die woord tik:

JA

Marius skrik toe hy die swart letters op die skerm sien.

Maar dis nou te laat.

Die skerm voor hom word skielik swart.  Dan lyk dit of daar iets begin beweeg in die skerm.  Die volgende oomblik spat sy rekenaarskerm in stukkies.  ‘n Hand skiet uit en gryp vir Marius aan die keel.  Marius probeer loskom, maar die hand se greep is so stewig dat hy niks kan doen nie.  En toe pluk dit hom van die stoel af, ruk hom nader …

Marius se gesig is nou hier by die rekenaarskerm.  Sy beangste oë blits heen en weer.  Wat gaan aan?  Toe voel hy die pyn wat deur sy nek skiet en hy weet … Erik het hom gebyt!

 

As jy wil hê Marius moet in ‘n vampier verander, gaan na nommer 3.

As jy wil hê hy moet nie in ‘n vampier verander nie, gaan na nommer 4.

_________

 

[2]

Marius skuif stadig vorentoe … Hy weet nie of hy té na aan die rekenaar moet kom nie.  Nie nadat die muis netnou uit sy hande geruk is nie.  Netnou gebeur daar nog iets as hy aan die sleutelbord vat.  Maar Erik het nou al drie keer gevra of hy hom sal help. Miskien moet ek net vinnig die antwoord tik, besluit Marius.  En dan sit ek die rekenaar af.

Hy sit sy vingers op die sleutelbord en tik vinnig:

NEE

Toe, skielik, breek daar ‘n aaklike skree-geluid uit die rekenaar los.  Marius val agteroor op sy stoel.  Sy hart jaag in sy borskas.  Sy rekenaarskerm begin sommer vanself in die rondte te tol, maar knoop dit self vas in die kragkabel.  Die skree-geluid verander nou in ‘n onaardse brul wat deur die vloer beweeg en die lessenaar laat ruk.

Toe is dit stil.  Nie ‘n geluid kan meer gehoor word nie.

Marius sit versteen.  Hy was nog nooit so bang in sy lewe nie.  En asof dit nie genoeg is nie, hoor hy nou iets buite sy kamervenster … Hy kyk na regs en sien dat die wêreld buite in ‘n digte mis gehul is.  Marius weet nie wat dit kan beteken nie, maar hy kry ‘n gevoel dat dit niks goeds kan wees nie.

Hy moet hulp gaan soek …  Dadelik!

 

Waar gaan soek Marius hulp? 

Bel hy die polisie?  Gaan dan na nommer 5. 

Gaan soek hy hulp by die bure?  Gaan dan na nommer 6 

_________


 

 

[3]    

Die hand los vir Marius.  Hy val vooroor op die grond.  Hygend na asem.  Sy nek pyn nog.  Dit voel ook of die pyn nou deur sy hele lyf versprei.  Hy skrik toe hy sien hoe die are op sy hande en arms begin te bult. Nou voel hy iets in sy mond.  Dis sy tande – hulle begin te groei!  Hy is besig om in ‘n vampier te verander!

Maar Marius kry nie behoorlik kans om die skrikwekkende besef te verwerk nie.  Skielik voel dit vir hom of iets sy hele lyf oorgeneem het.  Nee, nie iets nie – iemand. Erik! 

Hy begin te beweeg, uit sy kamer en uit by die huis se voordeur.  Iets binne Marius weet waarheen hulle op pad is … kaptein Swart!

‘n Uur later staan Marius voor kaptein Swart se huis. Die huis is donker, behalwe vir ‘n enkele lig wat in een van die vensters brand. 

 

As jy wil hê Marius moet in die huis ingaan, gaan na nommer 7.

As jy wil hê hy moet buite wag totdat die kaptein uitkom, gaan na nommer 8.

 

_________

 

[4]

Uit die donker binnekant van die rekenaarskerm breek ‘n koggelende lag uit.

Maar toe hou dit op.  Die lag verander in ‘n geskree.  Daar is nou ander stemme ook …  Drie stemme. Die een wat die duidelikste opklink is kwaai, asof dit ‘n onderwyseres is.

“Jy dink jy kan maak soos jy wil, Erik!  Jy dink nog steeds jy is ‘n vampier, selfs al het daardie kaptein jou geleer mens speel nie met vampiere nie.  Maar laat ék vir jou vertel – jy speel ook nie met spoke nie!”

Marius besef skielik wie nou daar praat.  Dis mevrou Theron vir wie Erik eerste doodgebyt het in die storie.

Hy hoor Erik se benoude stem eggo uit die rekenaarskerm. Toe is daar ‘n harde geluid.  En Erik se stem word skielik stil.  Marius weet meteens wat gebeur het: mevrou Theron het nou finaal met Erik afgereken.

Marius sit nog daar op die vloer voor die rekenaar.  Hy voel na sy nek.  Dit pyn nog en daar is bloed aan sy vingers, maar daar is ook bloed aan die glasskerwe in die skerm.  So dit was al die tyd nie Erik wat hom gebyt het nie, maar net die glasskerwe wat in sy nek gesteek het …                                                 

[end]

 

_________

 

[5]

Sy pa-hulle is nie by die huis nie.  Dan moet ek moet die Polisie bel, weet Marius. 

Hy hardloop telefoon toe.  Sy vingers bewe toe hy die nommer skakel: 10111.  Sy stem klink bang toe hy sy storie vertel vir die konstabel wat antwoord.  Toe hy klaar vertel het, weet hy nie of die konstabel hom sal glo nie.  Dit klink nou so simpel.  Hy verwag dat die konstabel hom moet vertel dat hy minder spookstories moet lees as dit hom so bang maak, maar dit is nie wat die konstabel doen nie. Die konstabel sê net:  “Hou asseblief aan.  Ek skakel jou deur na iemand wat sal help.”

Marius is sommer baie verbaas, maar sy bloed stol amper in sy are toe die stem aan die ander kant van die lyn antwoord en sê: “Kaptein Swart hier, hoe kan ek help?”

 

Gooi Marius die telefoon neer?  Gaan dan na 9.

Vertel Marius vir kaptein Swart wat gebeur het?  Gaan dan na 10. 

_________


[6]

Marius wens sy ma-hulle was nou hier.  Sy pa sou weet wat om te doen.  Maar hy is alleen by die huis.  Miskien moet hy na hulle buurman toe hardloop.  Hy kan hom vertel wat gebeur het.  En al is die omie bietjie weird, sal hy sekerlik vir Marius kan help. 

Marius stap versigtig in die lang gang af voordeur toe. Hy sluit die deur oop … Die mis vloei by die deur in.  Dit lyk vir ‘n oomblik vir Marius of die mis vingers het wat hom aan die enkels gaan gryp en hom pootjie.  Hy ril toe hy net daaraan dink.

Die misbank lê soos ‘n wit-grys muur voor hom.  En al klop sy hart nou hoe vinnig, weet hy hy sal dit moet waag om die mis binne te stap.  Die mis omvou hom oombliklik.  Dit voel vir Marius of hy in ‘n wolk instap.  Hy moet voel-voel loop sodat hy nie by die stoeptrappie aftuimel nie.  Na ‘n ruk voel hy die gras onder sy voete. Dit voel of ‘n ewigheid verbygaan. Hoe ver is dit nog na die hek toe? Hy voel die stekelrige blare van sy ma se roosbome onder sy vingers en weet dit is nog so tien treë.  As hy net voor hom kon sien, sou dit vinniger gaan!

Marius haal diep asem,  hy moet nie nou paniekerig begin raak nie.  Hulp is naby.

Die volgende oomblik voel Marius iets onder sy voete. Sy enkel swik en hy val vooroor … in ‘n gat.

Hy keer met sy arms.  ‘n Boomwortel skraap die velle van sy arm af.  Die pyn skiet deur sy lyf.  Marius moet op sy tande byt om nie te begin huil nie.  Toe sien hy watse gat dit is – dis ‘n graf!

Hy sien iets beweeg bokant hom.  ‘n Donker figuur wat nou afbuk.  Marius herken Erik se gesig dadelik.

“Sien jy wat maak ek met mense wat my nie wil help nie?” grinnik Erik.

Marius kan sy oë nie glo nie.

Hoe gaan hy uit die graf kom?  En wat beplan Erik met hom?

Hy hoef nie lank te wonder nie.  Hy voel hoe ‘n graaf vol grond op hom val.  Toe nog grond.

Erik gaan hom lewendig begrawe!

Marius se hart ruk tot stilstand vir ‘n oomblik.

Maar toe hoor hy ‘n stampgeluid en hy voel hoe iets langs hom in die graf val.  Dis … Erik …

Iemand kry Marius se hand beet.  Hy kan nie sien wie dit is nie, maar dit trek hom regop. Uit die graf.  Hy lê op die gras, hygend na asem.  Hy sien hoe die persoon wat hom gehelp het die graf haastig begin toegooi.  Erik gil, maar sy gille word mettertyd gesmoor. En later is dit heeltemal stil.

Marius kom regop.  Hy wil sien wie hom gehelp het. 

Die persoon begin stadig wegbeweeg, maar sy draai vir ‘n oomblik om.  En in daardie oomblik sien Marius haar bleek gesig, die bytmerke aan haar keel.  Dit lyk vir hom vir ‘n oomblik of sy ‘n supermark uniform aan het …                                  

[end]

 

_________

 

[7]

 

“Gaan in!” sê Erik se stem binne Marius.  “Een van die vensters is oop.  Jy kan daar insluip sonder dat hy daarvan weet.  Dan kan jy hom verras!”

Marius maak soos Erik sê.  Hy kry die oop venster.  Dit gly geluidloos oop …  Hy loer benoud na binne.  Sy hart klop al vinniger en vinniger.  Hoe het ek in hierdie gemors beland? wonder hy.  Ek wou net die ekstra storie op die internet gaan lees het, en nou staan ek hier vlak voor die huis van een van die karakters in die boek.  O, ja, en moenie vergeet nie, ek het intussen in ‘n vampire verander.  Wie gaan my glo as ek dit vir hulle vertel?  As ek oorleef om dit te vertel …

Marius lig homself oor die venster se rand.  Dit is pikdonker binne in die vertrek, maar omdat hy nou ‘n vampier is, kan hy in die donker sien.  Helder, asof dit daglig is!

Hoe cool is dit! wil Marius nog uitroep, maar die volgende oomblik is daar ‘n geluid agter hom.  Hy sien die bleek gesig van ‘n ander vampier.  Hy sien sy skerp tande … en toe sien hy die houtpen in sy hande … Die houtpen wat kaptein Swart skielik in sy borskas druk, regdeur sy hart!  Marius voel hoe die lewe uit sy liggaam vloei. Die laaste ding wat hy hoor is kaptein Swart se stem.

“Jou klein twak!  Jy het seker gedink jy kan my flous, Erik,” sê kaptein Swart met ‘n grynslag. “Maar jy het vergeet, ek is ook ‘n vampier.  Ek was op die uitkyk vir jou.  Ek het geweet jy sou probeer wraak neem.”

                                                                                                                     [end]

__________________

 

[8]

Ek gaan nie in nie, besluit Marius.  Die huis lyk so spookagtig in die maanlig. 

“Jy moet ingaan!” sê Erik se stem van binne af.

“Nee!” skree Marius.  Sy stem is so hard.  Dit eggo in die donker. 

Skielik gaan die lig in die huis af.  Het die kaptein my gehoor? wonder Marius benoud.  Natuurlik – hy is ‘n vampire.  Hy sal goed op ‘n duisend myl hoor.  Dit was nou dom van my.  Ek moet hier wegkom!

Marius wil net omdraai om weg te hardloop toe hy hom vasloop … Hy het nooit gesien daar staan drie mense agter hom nie … En al het hy hulle nog nooit van tevore gesien nie, weet hy dadelik wie hulle is.  Mevrou Theron, Jannie van die Internetkafee en die vrou van die supermark.  Al die mense vir wie Erik in die storie in die boek doodgebyt het.

Hulle lyk vreesaanjaend.  Oë gloeiend soos kole.  En hulle kom nader …  Hulle hande uitgestrek voor hulle. 

Ek het nog ‘n kans om weg te kom, dink Marius nog. Hulle lyk nie of hulle baie vinnig kan wees nie.  Maar Marius is verkeerd.  Nog voordat hy twee treë verder kan gee, staan die drie spoke om hom.  Hulle trek die kring om hom al nouer.  Dit voel vir Marius of hulle al die suurstof ook uit die lug uit trek.  Sy bors voel benoud.  Hy probeer asem haal, maar hy kan nie.  “Los my uit! Wil hy skree, maar hy weet hy kan nie.  Om te skree het mens lug nodig – en hulle is besig om nou al die lug uit sy longe te pers.

Marius probeer een van hulle uit die pad stoot, maar hulle is spoke.  Sy hand gaan net deur hulle.  Daar is niks meer wat Marius kan doen nie.  Hy val in ‘n klein hopie op die grond neer.  Bewusteloos.

Dit is waar kaptein Swart hom oomblikke later kry. “Ek sien jy was toe nie die enigste een met wraak gedagtes nie, of hoe, Erik?” sê kaptein Swart net voordat hy ‘n houtpen in Marius se hart indryf …

[end]

_________

 

[9]

 

Marius gooi die telefoon se gehoorstuk neer.  Hy het nie gedink daar is regtig iemand soos kaptein Swart nie.  Beteken dit die ander mense in die storie is óók werklik?

Erik ook?

Maar Marius kry nie kans om daaroor te dink nie.  Hy hoor ‘n geluid uit die kombuis kom en onthou dat die venster nog oopstaan.  Sy ma het dit oopgelos sodat die kat kan inkom. 

Marius voel hoe die bangheid hom bekruip.  Hy wens sy pa was nou hier, hy sou weet wat om te doen. 

Daar is die geluid weer.  Dit klink soos ‘n krap-geluid

Wat is dit?

Ek gaan nie kyk en uitvind nie, besluit Marius.  Hy hardloop vinnig terug na sy kamer toe. Sy krieketkolf staan langs sy bed. Hy gryp dit.  Net toe hy omdraai hoor hy die geluid kom nou al vanuit die gang. Dit agtervolg hom!

Marius staan versteen.  Hy is nou vasgekeer.  Hy lig die kolf na sy skouer.  Gereed om wie ook al nou by die deur in kom, vir ‘n ses te moker. 

Maar Marius se aandag word afgetrek van die geluid in die gang.  Sy rekenaar het meteens weer aangeskakel.  Sommer vanself!  Hy hoor hoe die rekenaar laai.  Hy weet nou nie meer waar om te keer nie.  Daar is iets in die gang en iets by sy rekenaar.  Hy tree agteruit sodat hy met sy rug teen die muur staan.  Sy asem raak weg toe hy sien hoe mis bollend by sy kamerdeur inrol.  En in die mis maak hy ‘n figuur uit.  Iemand met … puisies … Dis die outjie van die internetkafee waarnatoe Erik gegaan het … Jannie met die plastiek naamplaatjie: “Vra as ek kan help.”

Moet ek hom vra om my te help? wonder Marius.  Sal dit werk?  En voor hy dit kan keer, doen Marius dit:  “Jannie, help my, asseblief …”

‘n Skewe glimlag verskyn op Jannie se spookagtige gesig.

“Natuurlik …” krys sy stem.

Hy gly oor die vloer na die rekenaar toe … steek sy hand dwarsdeur die rekenaarskerm.  Marius sien hoe are blou begin bult op sy arms soos hy iets beetkry aan die binnekant. 

En toe ruk hy amper die rekenaarskerm van die tafel af. Nee … nie heeltemal nie …  Hy ruk iemand dwarsdeur die skerm!  Dis Erik!

Erik skop en skree om los te kom, maar Jannie draai hom vinnig vas met die rekenaar se kragkabel. 

“Los my!” skree Erik.  Dit pla blykbaar nie vir Jannie nie.  Inteendeel, dit lyk of hy nou net meer aangespoor word.  Hy kry nog drade en draai vir Erik stywer vas.  Erik kan naderhand glad nie beweeg nie.  Hy lê net daar op die vloer, toegedraai in rekenaardrade.

“Lyk my jou rekenaarprobleem is opgelos,” sê Jannie toe hy vir Erik in die miswolke insleep … en verdwyn …                   

 [end]

_________

 

[10]

“Kaptein Swart?” sê Marius met ‘n benoude stem.

“Dis reg ja …”

Marius sluk ‘n paar keer voordat hy die moed kry om te praat. En toe vertel hy vir kaptein Swart die hele storie.

“Wag net daar.  Ek kom dadelik soontoe,” sê kaptein Swart. 

Marius weet nie of hy die regte ding gedoen het nie. Kaptein Swart kan hom help, maar … kaptein Swart is ook ‘n vampier.  En hy het vir Erik doodgemaak in die storie.  Wat as hy nou oorkom om vir Marius dood te maak? 

Marius kyk na die mis buite die venster.  Dit lyk of die mis nou digter word.  Gelukkig is al die huis se vensters toe.  Sy ma het daarvan seker gemaak voor hulle weg is. Nee, wag, een van die venster is nog oop sodat die kat in die huis kan kom.  Die kombuisvenster!

Marius hardloop kombuis toe.  Hy is reg – die venster staan nog wawyd oop.  Hy steek sy hand uit om dit toe te maak, toe die mis skielik bollend by die venster inwaai …

Marius ruk sy hand terug.  Hy tree stadig agteruit … Al meer en meer mis kom by die venster in. Nou lyk dit asof daar iemand in die mis staan.  Marius herken hom dadelik van die illustrasie in die boek … Dis Erik!

“So, jy dink jy is te goed om my te help, né!” sis Erik. Dit lyk of hy saam met die mis oor die kombuisvloer gly.

“Ek dog ek het klaar met jou afgereken …” sê ‘n stem skielik agter Marius.  Dis kaptein Swart.  Marius kan nie nou dink hoe hy in die huis gekom het nie, maar hy gee ook nie om nie. Die kaptein is hier om hom te help.

Dit lyk vir Marius of Erik skrik toe hy die kaptein sien. Erik draai om en wil net weer by die venster uitglip, maar die kaptein storm agter hom aan in die mis.  En albei van hulle verdwyn in die wit wasigheid. 

“Nee!” hoor Marius vir Erik nog gil.  Hy probeer kyk wat aangaan, maar kan niks sien nie.  Na ‘n vreeslike struweling kom kaptein Swart uit die mis uitgestap.  Daar is bloed aan sy hande en aan sy mond.

“Hy sal jou nie weer pla nie,” sê die kaptein en verdwyn weer so vinnig soos hy verskyn het. 

Marius staan verdwaas daar.  Toe die mis begin lig is daar nie ‘n teken van Erik nie.  Die kombuis is ook nog net so netjies soos sy ma dit laas gelos het …                     

[end]

_________


Het jy Die wraak van Erik, die vampire geniet?  Dan moet jy DADELIK Spoke en ander gruwelike goed gaan koop! 

 


Spoke en ander gruwelike goed

Jy het seker al gewonder oor spoke en ander gruwelike goed. Bestaan hulle regtig? Of is dit net goed wat grootmense opmaak om kinders mee bang te maak? In Spoke sal jy lees dat daar rêrig goed is soos spoke, zombies, vampiere en dooie dinge wat in die donker rondsluip … Dit is hulle wat die hare op jou kop kan laat regop staan. Dis hulle wat jou laat omkyk as jy alleen in die donker loop. Dis hulle wat jou drome kan omtower in nagmerries!

So, skakel al die ligte in die huis aan, maak seker die vensters is dig toegemaak en die deure is gesluit – en dan kan jy begin lees …

Spoke en ander gruwelike goed bevat 16 lekker-lees spookstories. Soos Die mensvreters se begraafplaas waar Wouter saam met sy pa gaan jag, maar hom dan vasloop in ’n spul mensvreter-spoke wat jare laas mensvleis geproe het.

In Die kat kom terug bring ’n ou, verflenterde man Elsabé se kat, Tinka, terug nadat sy weggeraak het. Maar alles is nie pluis met Tinka nie. Het die ou man haar teruggebring uit die dood?

Daar is ook ander stories soos Bene in die Bos, Die spookperd uit die hel en Ek is ’n vampire.

Die boek word aanbeveel vir lesers van 9 tot 14, of vir almal wat net hou van 'n lekker spookstorie.


Lees 'n uittreksel uit Spoke en ander gruwelike goed

Kleur 'n spookprent in


Uitgewer: Human & Rousseau

ISBN
: 978-0-7981-4566-4

Blaaie
: 126 met volkleur illustrasies deur Janine Henning

Bestel: Klik hier om nou die boek te bestel
Afrikaans - Tuisblad
English - Home page