Ek vind eers uit van die ding wat
Christiaan kan doen die dag toe tannie Janet begrawe word.
Grys wolke hang laag
oor die begraafplaas en omarm byna die mense om die graf. Swart klere, hartseer
gesigte, trane. Ek staan ook tussen hulle. Ek is die outjie met die skewe das,
swart langbroek en platgekamde kuif. My gesig is vertrek van pyn, maar nie
omdat dit ’n begrafnis is nie – pyn omdat my skoene my so druk.
My ma pluk ’n slag aan
my hemp. Staan nou stil, Liam! raas haar blitsende oë. Ek byt op my tande. My ma
weet nie hoe dit voel om skoene te dra as jy gewoond is aan kaalvoet loop nie.
Ek kyk weer na die kis.
Dis so naby dat ek een tree kan gee en daaraan sal kan vat. ’n Ruiker wit
blomme staan in die middel van die kis. Die blomkelke lyk eintlik vaal in die
grou lig.
My oë beweeg oor die
mense. Hulle skouers is vooroor gebuig. Sakdoeke druk teen hulle oë.
Daar sit oom Hennie
ook. Dis sy vrou wat dood is. Hy lyk verslae. Dis ’n woord wat ek onlangs in
die skool geleer het. Verslae – dit is hoe jy voel as iets belangrik van jou af
weggevat word en jy nie weet wat jy nou gaan doen nie.
Ek sug. Ek wens iemand
wil my skoene wegvat dat ek verslae oor húlle kan wees.
Maar genoeg daarvan.
Hierdie storie gaan eintlik oor Christiaan.
Dit is hy wat daar voor
sy ma en pa staan. Voete bymekaar en ’n bleekgeel vel soos ou melk. Daar is donker
kringe om sy oë. Hy is omtrent my ouderdom, maar grillerig verby. Ek het hom
nog net een keer vantevore gesien. Vandag is die tweede keer.
“... ons geliefde
Janetta Gertruida Kleinhans ...” gaan die dominee treurig voort.
Ek luister nie. Ek kyk
verby die kisruiker na Christiaan en wonder wat presies dit is wat hom so
grillerig maak. En toe weet ek – dis daardie modderswart oë van hom. Hulle kan so
diep, diep in jou kyk asof hulle na die geheime soek wat jy in jou kop bêre.
Toe die eerste
reëndruppels val, is daar ’n beroering onder die mense. Maar Christiaan staan
doodstil voor sy pa-hulle. Sy gesig is strak en sy lippe blou, bloedloos van
die skielike koue.
Meteens kyk hy reguit
na my. Ek skrik. Daardie modderdonker oë kom soek iets in my. Ek kyk vinnig weg.
“Stop!” onderbreek
iemand die dominee se stem.
Dis Christiaan. Sy eens
saamgeperste lippe is nou effens oop. Almal kyk na hom. ’n Frons plooi op sy voorkop.
Dit is stil, behalwe vir die reën wat nou harder slaan teen die kis, en teen
die seil van die sambrele.
“Christiaan?” fluister
sy ma sag.
Sy skouer ruk, ruk. Sy
oë word nog donkerder. Hy knip hulle nie, maar kyk nou stip na oom Hennie.
“Tannie Janet is nie
dood nie,” sê Christiaan met ’n helder stem.
“My kind?” sê-vra sy ma
weer sag.
“Kyk daar staan sy
agter die oom ...”
Wil jy verder lees?
Kry 13 Spookstories by jou naaste boekwinkel of klik hier om dit aanlyn by Kalahari te koop.