Lees 'n uittreksel uit Fanie se nuwe boek - Nova: die Begin
1
Lucas
Niemand roer onrustig in sy slaap. Hy lê inmekaargetrek op die motor se
agtersitplek. Sy vingers krul in vuiste. ’n Droom pluk aan sy ooglede. Dit
dring deur na sy brein en beelde begin vorm.
Hy het hierdie nagmerrie al verskeie kere gehad: Hy staan in ’n
doolhof, vasgevang tussen blinkblou metaalwande. Helder lig stroom uit die
vloer en laat dit soos glimmende water lyk.
Angs laat sy bors toetrek. Hy weet nie waar hy is nie. Hy weet
nie hoe om uit te kom nie. Hy weet nie wat buite die metaalwande op hom wag
nie.
’n Geluid laat hom omdraai. Dit was byna onhoorbaar, maar hy is
seker daar was iets. Dalk was dit skuifelende voete. Hy wag en kyk, maar sien
niks nie – totdat ’n hand uit die metaalmuur langs hom reik. Hy probeer wegkom,
maar die mure om hom het nouer getrek. Hulle hou hom vas.
Die hand kom nader. Vingers huiwer bo sy arm. Toe vat dit aan
hom.
Die aanraking is doodskoud.
Lucas ruk wakker. Die benoudheid bewe nog in sy bors.
“Lekker gedroom, Luc?” vra sy pa met ’n glimlag.
Lucas kyk verward om hom. Toe onthou hy: Hulle is in die motor op
pad huis toe ná ’n vakansie by Stilbaai. Die motor is omtrent gepak met al die
vakansiegoed: kussings, CD’s, ’n rugbybal, krieketkolf en nog drie plante op
die vloer. Sy ma ry mos nie ’n kwekery mis nie. Sy karwei al wat ’n groen ding
is terug huis toe, om te “kyk of dit in die tuin sal aard”.
“Moenie hom terg nie,” lag sy ma. “Die kind is moeg.”
Lucas skud sy kop. Hoekom moet sy ma hom altyd “die kind” noem.
“Die kind is altyd moeg,” sê ’n stem onder die hoop kussings.
Lucas skop na die lyf onder die kussings. ’n Oog loer uit.
“Ja, jy moet lekker loer, jou wirkop,” snou Lucas vir Gavin, sy
jonger broer, toe.
“Ek klap vir jou dat jy net sterre sien,” kap Gavin terug.
“Dis donker buite. Ek sien hulle in elk geval. En jy sal ook as
jy soos ’n normale mens met jou kop óp ’n kussing slaap en nie ónder ’n kussing
nie.”
“Hei, julle twee!” waarsku hulle pa.
“Gavin het daarmee begin,” sê Lucas vinnig.
Gavin trek die kussing weer oor sy kop. “Gavin het eerste daarmee
begin,” koggel hy.
Lucas mik ’n vuishou na sy broer, maar besluit om dit liewer te
los. Dit help tog nie. Die vakansie is nog lank. Daar sal later baie tyd wees
om die klein wirkop op sy plek te sit. En dan sal sy ma en pa nie kan keer nie.
Lucas soek vir sy PSP tussen al die goed op die motorsitplek. Hy
kry dit half onder sy linkerbeen. “Vrekkit,” sê hy sag en sit dit aan.
“Sit sagter daai ding,” sê sy ma dadelik.
“Oukei, Ma!” Lucas rol sy oë. Dis nie iets wat hy sal durf waag
om voor haar te doen nie. Sy sal hom gou wys wie is baas. Sy ma se tong kan
skerper wees as enige kombuismes. Maar sy het ook ’n sagte kant wat sy nie te
dikwels wys nie.
Ná ’n paar minute se speel, gooi Lucas die PSP verveeld langs hom
neer. Hy kyk hoe die landskap in die donker verby die motor flits. “Pa, kan ons
nie ’n bietjie stop om die dou van die lelies af te skud nie?” vra hy.
“Ag nee, Lucas. Wag nog ’n rukkie. Ons is amper op Nova.”
“Asseblief, Pa. My oë swem al, so vol is my blaas.”
Sy ma skud haar kop. “Soek tog maar ’n aftrekplek.”
Hulle ry nog ’n ent voor hulle ’n stilhouplek kry. Lucas is soos
blits uit die kar. Met bene nog styf van die lang sit, kies hy koers na die
naaste boom. Agter hom hoor hy sy ma soek na die waterbottel. Sy pa vra of daar
nog padkos oor is. Gavin is stil. Hy het seker aan die slaap geraak onder die
hoop kussings.
Iemand skakel die motorradio aan. Die musiek verdwaal in die
naglandskap om hulle. Daar is geen ander motors op die pad nie. Dis asof die
aarde geduldig wag vir dagbreek.
Toe hy klaar is, stap Lucas traag terug motor toe.
Die motorradio kraak.
“Kyk tog na die ding,” sê sy ma ergerlik. Sy pa skuif onder die
geel dakliggie in. Met een arm oor die stuurwiel en die ander hand op die radio
se knoppies soek hy na ’n stasie, maar almal kraak.
Sy ma klik haar tong. “Hier, sit liewer ’n CD in,” sê sy.
“Oh brother,” sug Lucas sag, “opera-getjank hier kom ons.”
Hy is reg. Maria Callas se stem dryf by die motor uit. Lucas skop
vies na ’n klip. Hulle gaan nou na daardie kermende kat moet luister tot by die
huis.
Maar hy is verkeerd. Die kermende kat knyp nog aan ’n hoë noot en
toe is sy skielik stil. Die CD-speler is morsdood.
Die motor se ligte doof ook oombliklik asof iemand sy hande
skielik dig oor hulle vou.
“En nou?” vra sy ma bekommerd.
“Dis die battery,” sê sy pa. “Moet wees.”
“Jy het dit ’n maand gelede vervang. Hierdie kar gaan ook deur
batterye soos kinders deur ’n bak fudge.”
Die enjinkap klap oop. Sy pa se voete knars op die grys. Lucas
hou hom van ’n afstand dop. Dit lyk of hy iets in sy hand het. Hy skud dit.
Klik-klik, probeer hy die lig aanskakel.
“Die flitslig werk ook nie,” sê sy pa.
“Genade tog,” sug sy ma.
Lucas glimlag onderlangs. Ten minste is Maria Callas nou stil. Hy
sien ’n vae skadu beweeg onder die enjinkap. Sy pa probeer in die donker die
batteryklampe ontkoppel. Hy praat sag met homself en vloek een keer.