Veldiep

Die verkeerde vraag kry soms die regte antwoord.

Amber is onseker van haar voorkoms. Is sy mooi? Sy maak ‘n anonieme YouTube-video waarin sy mense vra om haar voorkoms te beoordeel, maar dit beland per ongeluk op haar Facebookblad.

Tim is gewild, maar sy meisie het hom sopas afgesê vir een van die rugby-ouens. ‘n Toevallige ontmoeting in die skadu’s van die landgoed waar hulle albei woon, lei tot ‘n ongewone vriendskap, maar sal Amber die moed hê om haar spoke te konfronteer? En sal Tim die skadu-meisie se ware skoonheid kan raaksien?

Koop

Veldiep is beskikbaar by alle goeie boekwinkels, of klik hier en koop die boek aanlyn.

Lees ’n uittreksel

1
Wanneer die wêreld gaan staan

“Ek het iemand anders ontmoet, Tim,” sê Jessica.

Tim Muller sit roerloos op Hoërskool Caldwell se paviljoen. Net sy inmekaargevlegte vingers trek saam toe hy die woorde hoor, en in sy keel maak sy asem ’n sagte plofgeluid.

Jessica staan voor hom: kort, donker krulle in haar bleekmooi nek, haar oë net so bruin en haar lippe rond, sag en rooi. En nou ook verraderlik.

Op die rugbyveld daar anderkant, agter Jessica se rug, speel van die ouens rugby. Hulle roep opgewonde na mekaar en probeer ’n laaste drie inkry voor die skoolklok lui.

Hiervan sien Tim niks. In ’n oomblik het sy wêreld tot stilstand gekom. Dit trek kleiner totdat daar niks meer oorbly nie behalwe die pyn wat sy hele lyf toerank. Hy
staar voor hom uit, deur die pyn.

“Wie is dit?” vra hy uiteindelik sag.

“Dis net ’n ou,” antwoord sy ontwykend. “Ek is jammer,” sê Jessica voor sy omdraai en wegstap. Van hóm af wegstap.

Dis hoe dit eindig.

“Jess,” roep Tim. Dis die naam wat hy vir haar gefluister het wanneer hulle alleen saam was. “Jess, ek is lief vir jou.” Dis wat hy dan gesê het. Toe was die wêreld nog groot. Haar naam het dit só laat voel. Oneindig en ewig.

Maar vandag stap sy van hom af weg en is haar naam soos ’n bitter plek op sy tong.

Sy draai nie terug nie. Sy kyk nie om nie. Sy los hom daar, al het hy haar lief.

“Ek het iemand anders ontmoet, Tim.” Haar woorde kom na hom toe terug, en wéér tref die gedagte hom soos ’n vuishou. Die intensiteit daarvan maak hom lighoofdig. Hy byt die trane weg wat dreig om te kom. Hy wil huil. Ouens is nie veronderstel om dit te doen nie, maar stuff dit. Hy wil.

“Dis net ’n ou.”

Die belaglikheid daarvan maak vraagtekens in sy kop. Hy is lief vir haar en sy los hom vir “net ’n ou”.

Tim vee oor sy oë.

Die skoolklok lui. Op die rugbyveld draf die ouens ’n laaste paar treë. Hulle skouers val en stadig draai hulle na die klaskamers toe. “Môre speel ons verder,” roep een.

Môre voel vir Tim soos ’n vloek.

Hy wil sy lewe terugdraai na vanoggend toe alles nog oukei was. Nee, dan bluf hy net homself. Vanoggend was dinge beslis nie oukei nie. Hy moes vanoggend al gesien het daar is iets verkeerd. Jessica het haar lyf van hom af weggedraai toe hy haar ’n vinnige soen op die wang wou gee. Hy moes haar nader getrek en haar tóé gesoen het. As hy meer oplettend was, sou hy die teësin in haar
lyf gevoel het, maar hy het nie. Hy het vanoggend nog gedink alles is oukei.

Jis, hy was blind.

As hy die tyd nie na vanoggend toe kan terugdraai nie, dan eerder verder terug na verlede week of verlede maand. Hy het haar gevat vir ’n piekniek langs die dam op die wildlewe-landgoed waar hulle woon.

Hy en Jess was alleen daar. Die dag was blink en helder. Sy ma het hom gehelp met die eetgoed en die mooi glase en borde. Jessica het daardie dag gelag en in sy arms gelê. Hy het haar happies kos gevoer.

Haar vingers het sy gesig verken. Sy het een liggies in die kuiltjie in sy wang gedruk. “Alle engele het dimples,” het sy gesê.

“Hoe weet jy dit?”

“Wat anders kan jy wees?” het sy geterg. Later het haar vingers sy oë bereik. Sy het ’n liedjie van Coldplay begin sing: “Honey you should know that I could never go on without you. Green eyes, green eyes . . .”

Haar stem het soos asem in hom kom lê.

Hy het sy kop oor haar gebuig en haar op haar voorkop gesoen en toe op haar mond. Haar lippe was sag en agterna het sy vir hom geglimlag. Hy het in haar oë gekyk en hy was gelukkig.

Nou wil hy daardie oomblik terughê. Elke dag wil hy net dáárdie oomblik hê.

“Jessica,” sê hy sag, en haar naam voel soos dié van ’n vreemdeling. Hy gaan dit nooit weer sê nie.

Nee, hy gáán – ’n miljoen keer in sy kop – en steeds sal dit die hartseer nie wegvat nie.

 

Wil jy verder lees?

Klik hier en koop Veldiep aanlyn.

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.