13 Spookstories Afrikaans Boeke vir Kinders by Fanie Viljoen - 1st January 201216th October 20230 Het jy senuwees van staal? 13 Spookstories Glo jy aan spoke? Word jy bang vir vreemde goed wat ronddwaal in die nag? 13 Spookstories gaan sorg dat jy die komberse tot onder jou ken trek vanaand. Wie weet wat vir jou wag as jy die lig afsit? Hierdie bundel bevat 13 super-grillerige verhale oor vreemde besoekers uit nog vreemder plekke … Die skrywers is Fanie Viljoen, Francois Bloemhof en Jaco Jacobs. Tanja Joubert se illustrasies gaan jou verbeelding laat spook. Nog 13 Spookstories Is jy nie bang om laatnag alleen in die bed te lê en lees terwyl die wind buite waai en die takke teen jou ruite krap nie? Dan is dit net die boek vir jou! Hierdie splinternuwe versameling bevat nog 13 spookstories wat jou bloed yskoud sal laat word. So, trek toe die gordyne, klim in jou bed … en maak gereed om allerlei gedaantes te ontmoet wat snags in die donker ronddwaal. Koop Koop die boeke by goeie boekwinkels. Indien jy sukkel om hulle in die hande te kry, stuur ‘n boodskap aan fanieviljoenbooks@gmail.com – daar is dalk nog enkele boeke beskikbaar. Koop 13 Spookstories by Lapa Uitgewers. Koop 13 Spookstories se e-boek by Lapa Uitgewers. Koop 13 Spookstories by Takealot. Koop 13 Spookstories se e-boek by Amazon. Koop Nog 13 Spookstories se e-boek by Lapa Uitgewers. Koop Nog 13 Spookstories by Takealot. Koop Nog 13 Spookstories se e-boek by Amazon. Kyk na die spokerige video Uittreksel Modderdonker Christiaan Ek vind eers uit van die ding wat Christiaan kan doen die dag toe tannie Janet begrawe word. Grys wolke hang laag oor die begraafplaas en omarm byna die mense om die graf. Swart klere, hartseer gesigte, trane. Ek staan ook tussen hulle. Ek is die outjie met die skewe das, swart langbroek en platgekamde kuif. My gesig is vertrek van pyn, maar nie omdat dit ’n begrafnis is nie – pyn omdat my skoene my so druk. My ma pluk ’n slag aan my hemp. Staan nou stil, Liam! raas haar blitsende oë. Ek byt op my tande. My ma weet nie hoe dit voel om skoene te dra as jy gewoond is aan kaalvoet loop nie. Ek kyk weer na die kis. Dis so naby dat ek een tree kan gee en daaraan sal kan vat. ’n Ruiker wit blomme staan in die middel van die kis. Die blomkelke lyk eintlik vaal in die grou lig. My oë beweeg oor die mense. Hulle skouers is vooroor gebuig. Sakdoeke druk teen hulle oë. Daar sit oom Hennie ook. Dis sy vrou wat dood is. Hy lyk verslae. Dis ’n woord wat ek onlangs in die skool geleer het. Verslae – dit is hoe jy voel as iets belangrik van jou af weggevat word en jy nie weet wat jy nou gaan doen nie. Ek sug. Ek wens iemand wil my skoene wegvat dat ek verslae oor húlle kan wees. Maar genoeg daarvan. Hierdie storie gaan eintlik oor Christiaan. Dit is hy wat daar voor sy ma en pa staan. Voete bymekaar en ’n bleekgeel vel soos ou melk. Daar is donker kringe om sy oë. Hy is omtrent my ouderdom, maar grillerig verby. Ek het hom nog net een keer vantevore gesien. Vandag is die tweede keer. “… ons geliefde Janetta Gertruida Kleinhans …” gaan die dominee treurig voort. Ek luister nie. Ek kyk verby die kisruiker na Christiaan en wonder wat presies dit is wat hom so grillerig maak. En toe weet ek – dis daardie modderswart oë van hom. Hulle kan so diep, diep in jou kyk asof hulle na die geheime soek wat jy in jou kop bêre. Toe die eerste reëndruppels val, is daar ’n beroering onder die mense. Maar Christiaan staan doodstil voor sy pa-hulle. Sy gesig is strak en sy lippe blou, bloedloos van die skielike koue. Meteens kyk hy reguit na my. Ek skrik. Daardie modderdonker oë kom soek iets in my. Ek kyk vinnig weg. “Stop!” onderbreek iemand die dominee se stem. Dis Christiaan. Sy eens saamgeperste lippe is nou effens oop. Almal kyk na hom. ’n Frons plooi op sy voorkop. Dit is stil, behalwe vir die reën wat nou harder slaan teen die kis, en teen die seil van die sambrele. “Christiaan?” fluister sy ma sag. Sy skouer ruk, ruk. Sy oë word nog donkerder. Hy knip hulle nie, maar kyk nou stip na oom Hennie. “Tannie Janet is nie dood nie,” sê Christiaan met ’n helder stem. “My kind?” sê-vra sy ma weer sag. “Kyk daar staan sy agter die oom …” Save Share on Facebook Share 0 Share on TwitterTweet Share on Pinterest Share 0 Share on LinkedIn Share Share on Digg Share 0 Total Shares