You are here
Home > Afrikaans > Brand

Brand

‘n Storie oor obsessies.

Arian en Estie is in Graad 11 in dieselfde skool. Na hulle op sosiale media vriende word, begin Estie vir Arian stalk: Aanlyn, en later ook in die werklikheid.

Eers is hy vir haar net nog ‘n misterieuse vreemdeling, maar soos wat sy hom dophou openbaar hy onwetend sy diepste geheime aan haar.

Maar Estie het geheime van haar eie, wat sy ten alle koste verberg, selfs toe sy en Arian later vriende word: Geheime wat haar haar enigste vriend kan kos.

There may be a great fire in our soul, yet no
one ever comes to warm himself at it, and
the passers-by see only a wisp of smoke.
– Vincent van Gogh

what matters most is
how well you
walk through the
fire.
– Charles Bukowski

Koop

Brand is beskikbaar by alle goeie boekwinkels, of aanlyn.

Koop die boek by Takealot.

Koop die boek by Loot.

Koop die e-boek by Amazon.

Gratis studiegids

Laai ‘n gratis studiegids af.

Brand Leesgids

Onderwysers – as jy Brand in grootmaat vir jou klas wil aankoop, kontak vir Henk Viljoen by henk.viljoen@nb.co.za

Resensie

Lees Magdel Vorster se resensie op Netwerk24

Uittreksel

1

“Ek like hamburgers met tonne sous wat oor jou vingers drup as jy dit eet. En krakerige chips met vuurwarm chilli. Ek hou ook van musiek. Nie die soort wat julle like nie, want julle luister seker na goed waarop ’n mens kan dans. Ek dans nie. O ja, ek moes seker eerste my naam gesê het. Dis . . . um . . . Arian. Soos Adrian, maar sonder die ‘d’.”

Dis hoe hy hom destyds in graad agt aan die kinders in sy nuwe registerklas van Hoërskool Staatsberg bekendgestel het. In sy verbeelding sien Arian homself weer voor die witbord staan: ’n bleek laitie met donkerbruin hare soos diep modder, en selfs donkerder oë soos nog dieper modder.

Jis, die goed wat hy kwytgeraak het, was flippen simpel. Maar die onnie het gevra elkeen moet iets oor homself sê, toe sê hy dit. Hy praat oor souserige hamburgers en dansmusiek, en hy leer die ouens en meisies spel.

Vanjaar is hy in graad elf. Graad agt is ’n leeftyd gelede, maar party dae voel dit soos gister.

“Adrian, is jy met ons?” vra meneer Britz vandag voor in die wiskundeklas.

Hy antwoord aspris nie. As die meneer nou nog nie sy naam reg onthou nie, kan hy gaan vlieg.

“Adrian?” vra die onderwyser harder.

“Dis Arian, meneer. A-ri-an. Sonder die ‘d’,” kap hy terug. “Dit beteken ‘silwer’, en het iets te doen met Poseidon se perd of stuff. A-ri-an.”

Die kinders in die klas lag. Hulle kan ook gaan vlieg.

“Dis genoeg!” maak meneer Britz hulle stil. Hy trek-trek aan sy das. “Kom sien my ná klas, A-ri-an.”

“As meneer wil,” mompel hy ergerlik.

Met ’n sug keer die onnie terug na die les. Arian weet hy sal netnou weer vergeet dat hy hom wou sien. As die klok lui, is dit pouse. Meneer Britz sal dan so vinnig moontlik na die personeelkamer vlug om die toebroodjies wat in die plastieksakkie langs sy rekenaar lê en sweet, met tee te gaan afsluk.

Maar eers gaan meneer Britz aan met die les. Die hele ding is op ’n PowerPoint-aanbieding op sy skootrekenaar. Arian noem dit “Death by PowerPoint”, want alle klasnotas is deesdae op dié program. Hulle skool se onnies dink hulle is nou tegnologies gevorderd omdat hulle PowerPoint baasgeraak het.

Terwyl die wiskundeklas aan die gang is, dwaal Arian se oë oor die ander kinders. Van agter in die hoek kan hy hulle almal dophou. Die meeste is valser as daai Nike-tekkies wat jy by ’n vlooimark koop.

Langs hom hoor hy twee ouens vir mekaar fluister. Thomas en Byron het seker ook nou belangstelling in die algebra verloor. Daar is net twee goed waarin ouens soos hulle belangstel: supervinnige karre en superwarm meisies.

“Ek sê jou, Thomas, daardie Maddy, sy’s ’n wilde een,” sê Byron onderlangs.

“Vra haar vir ’n date, man,” fluister Thomas.

“Wat? Ek wil nie date nie, ek wil vry.” Byron bly stil en kyk reguit na Arian. “Hei, luister jy ons af, hè?”

“Natuurlik nie,” keer Arian.

“Natuurlik nie,” spot Thomas. Hy lag. “Het jý al ’n meisie gevry?”

Arian draai reg in sy bank. Hy antwoord nie.

“Hè, Arian, het jy?” vra Byron ook.

“Jis, julle, kry ’n lewe,” sis hy.

Vreemd, dis eintlik wat hy vir homself ook kan sê: “Arian sonder die ‘d’: KRY ’N FLIPPEN LEWE!”

Met die entoesiasme van ’n lykbesorger dreun meneer Britz voort: “En as x gelyk is aan y plus die vierkantswortel van-”

Die skyfies op die skerm rits meteens vorentoe, skynbaar vanself. Hulle jaag verby die volgende vyf oefeninge en die antwoorde van die latere evaluering, wat veronderstel was om ’n geheim te wees. Dan blits hulle weer terug tot aan die begin van die skyfies waar die doelwit van die les blink.

Pandemonium bars los. Meneer Britz spring op van sy stoel. Die dataprojektor gaan vanself af. Net ’n klein kolletjie blink in die middel van die skerm, maar gou is dit ook weg.

“Wat gaan nou weer met die ding aan?” vra die meneer in sy minder tegnologies vaardige stem. Hy klik-klik met die afstandbeheer na die dataprojektor. ’n Frons plooi diep oor sy voorkop.

Onderdrukte lagbuie klink op. Almal in die klas weet wat aangaan. Thomas het sy selfoon met die projektor gesinchroniseer, nou is sy selfoon die afstandbeheer. Hy skakel die projektor aan en af, en glip deur die aanbieding soos hy lus het terwyl die onnie sweet.

Dis groot pret as dit jou idee van pret is. Maar nie vir Arian nie. Hy klap sy wiskundeboek toe, sug en kyk by die venster uit na waar die fietse staan en blink by die fietshokkies.

As die res van sy lewe so sielsvertrappend sleg gaan wees, wil hy eerder ’n skerp vurk in sy kopbeen indruk en dit van binne af skoonskraap. So kan dit nie aangaan nie.

* * *

Dis uiteindelik pouse. ’n Groep matriekseuns drentel op die stoep voor Estie Swart. Soos altyd laat sak sy vinnig haar kop toe sy haar lyf klein maak om verby te stap.

“Hei, ouens, kyk!” roep een hulle. “Dis mos daardie meisie wat altyd so eenkant sit en miere dooddruk.”

“Arme miere,” spot ’n ander matriekseun.

Estie hoor hulle lag en verder grappies maak. Hulle dink dis oukei. Maar dit is nie. Elke vieslike woord laat haar binnekant pyn. Sy vou haar arms om haar lyf asof dit sal help dat sy nie uitmekaarval nie. Sy is al ’n ent weg, maar sy voel steeds hulle oë op haar brand. Sy druk g’n miere dood nie, maar dis wat hulle van haar dink. Hulle maak goed op en lag daaroor. Nee, hulle lag vir háár.

Selfbewus dwaal sy weg en probeer tussen die ander kinders op die skoolgrond verdwyn. Haar oë is vasgenael op die stoflagie op haar skoenpunte terwyl haar gedagtes ander paaie loop.

By die waterfontein buk sy om ’n slukkie water te neem. Haar beeld blink in die druppels. Groen oë soos klam mos. Steil skouerlengte hare – bruin met fyn strepies goud. ’n Vel soos koffie met te veel melk in.

Sy hoor weer die ouens en waag ’n vinnige kyk. Dié keer bondel hulle by die seunstoilette saam. Hulle raak stil toe sy verbystap. Bars dan uit van die lag, sommer hard en ongeskik.

“Hei, dude, daar gaan jou laaste kans!” sê een van hulle vir ’n pel.

“Ag, voertsek, vat jý haar as jy haar wil hê.”

“Hei, Estie, soek jy ’n date?” roep die eerste ou toe sy wegstap. “Ons kan begraafplaas toe gaan. Jy sal dit like.”

Estie knyp haar oë toe. Die ouens se gespot vou soos ’n swaar kombers om haar. Die begraafplaas . . . Sy en haar pa gaan nog af en toe soontoe om blomme op haar ma se graf te sit. Sy sal November al twee jaar dood wees.

Nee, sy moenie by die skool aan haar ma dink nie. Dis nog ’n seer wat sy in haar lyf moet wegsteek.

Vinnig maak sy haar uit die voete. Daar is ’n plek op die skoolgrond waar sy altyd gaan sit wanneer sy van die kinders af wil wegkom: die trappie by die gym se agterdeur. Pousetyd gooi die boom langsaan ’n lekker skaduwee oor die trap. Niemand kom ooit daar nie, nie eens die ander rokers nie.

Ingedagte gaan sit sy, haar skouer teen die reling. Met haar maer bene onder haar ingevou, haal sy ’n pakkie sigarette uit haar baadjie se binnesak. Sy klap die boksie oop, kry ’n sigaret en steek dit aan. Diep trek sy die rook in. Die kooltjie gloei oranje en laat die kalmte deur haar walm. Dis beter. Sy rook nie omdat dit cool lyk nie. Die sigaret help om haar kop stil te kry. Sy vat nog ’n teug, dan haal sy haar selfoon uit.

Sy gaan op Instagram, daarna op Facebook. Sedert vanoggend volg vier ouens haar terug op Instagram, en drie ouens het haar Facebook-vriendskapsversoeke aanvaar. Sy ken hulle van geen kant af nie, maar hulle is nou haar vriende. Omdat hulle vriende is, het Facebook hul profiele oopgegooi.

Sy is by die eerste ou, Deon, s’n en loer nuuskierig rond in sy lewe. Almal doen mos Facebook stalking, sê sy vir haarself. Deon is nog op skool. Hy bly in Kaapstad, maar hy lyk soos iemand wat in ’n Hollywoodfliek sou kon speel: fris gebou, blou oë, blond.

Eers lees sy Deon se statusse van die afgelope maand of twee.

Hangin’ out with my buddies.
Early mornings after a late night are the worst.
What happened to the weekend?

Daar is tonne meer soos hierdie. Estie lees omtrent almal. Af en toe bekruip ’n glimlag haar. Dis asof sy die ou ken, al het hulle nog nooit ontmoet nie.

Later gaan sy na sy foto’s. Sy speel met die punt van haar hare oor haar lippe terwyl sy deur elke album van sy lewe blaai. Sy sien hoe hy en sy pelle partytjie hou, aan sport deelneem, lag. Sy kyk hoe wonderlik sy lewe is. Hoe gelukkig hy is. Dit maak haar ’n bietjie hartseer, en op ’n vreemde manier ook ’n bietjie gelukkig.

Sy hoor iemand van die stoep se kant af aankom. Flippit! Sy laat val die selfoon vinnig in haar sak. Druk haastig die sigaret, wat al kort tussen haar vingers brand, dood. Die stompie skiet sy eenkant toe terwyl haar hart teen haar ribbes stamp.

Sy probeer voorgee dat alles oukei is. Sy sit mos maar net op die trap, dis al.

Uit die hoek van haar oog sien sy die ou. Hy loop koponderstebo en skop-skop na die gras terwyl hy verbyloop.

Estie het hom al by die skool gesien. Hy is in een van die ander graadelfklasse. So ’n weirderige ou met ’n weirderige donker kyk. Sy naam is Adrian of iets. Adrian Foster, dink sy. As sy reg onthou, het hy ’n jonger suster en ’n ouer broer. Die broer en suster is van daardie tipe leerders wat jy gereeld met skoolopening op die verhoog sien.

Vandag kry hulle ’n simpel ou medalje, môre kry hulle ’n diploma. Dis seker hoekom hulle so ’n helse scheme van hulleself het: omdat hulle sulke totale uitblinkers is.

Estie is seker dan ’n “insinker”. Sy doen niks buitemuurs of iets wat haar sal laat uitstaan nie. Sy is net hier.

Dalk soos Adrian. Hy was nog nooit op die verhoog nie. Sy weet nie eens of hy aan sport deelneem nie. Sy gaan nooit na die skool se verpligte sportbyeenkomste toe nie, al dreig die onderwysers hoe. Dis ’n pot tjol.

Sy wonder of Adrian na sulke goed toe gaan. Eintlik weet sy niks van hom af nie.

Ingedagte grawe Estie in haar sak vir ’n pakkie kougom. Sy druk ’n stukkie in haar kies om die sigaretrook weg te steek. Dan kyk sy op na Adrian. Hy gee so ’n effense glimlag in die verbyloop, maar hy lag nie vir haar nie. Dis net ’n glimlaggie, soos in: Hallo, ek sien jou, Estie.

’n Hallo-ek-sien-jou-glimlag sal sy enige dag vat. Enige hartseerdag soos vandag.

Adrian Foster. Vanmiddag gaan sy hom op Facebook soek.

Wil jy verder lees?

Brand is beskikbaar by alle goeie boekwinkels, of aanlyn.

Koop die boek by Takealot.

Koop die boek by Loot.

Koop die e-boek by Amazon.

 

Gratis studiegids

Laai ‘n gratis studiegids af.

Brand Leesgids

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top