You are here
Home > Afrikaans > BreinBliksem

BreinBliksem

Is jy gereed om jou brein te bliksem?

Wenner: Sanlam-prys vir Jeuglektuur 2005 en M.E.R-prys vir jeuglektuur 2005

Viljoen se jeugverhaaldebuut BreinBliksem speel af in Bloemfontein, waar hy woon. Die skrikwekkende storie word vertel soos gesien deur die benewelde brein van die hoofkarakter, Chris Burns.

“Ek maak vir jou die hel oop” lees die SMS wat Chris Burns aan sy pêl, Kerbs een reënerige aand in Bloemfontein stuur. En al is dit net ‘n tikfout, voorspel hierdie SMS dat die volgende paar dae hel gaan wees.

Burns help vir Kerbs om by sy ma se motor in te breek. Die goed wat hulle steel gaan verkwansel Kerbs by ‘n pandjieswinkel. Hulle beplan om die geld te gebruik vir hulle trip na die BreinBliksem rockfees wat by Allemanskraaldam gehou gaan word.

‘n Paar dae voor die konsert kry Sky Eyes, hulle ander pêl, ‘n epileptiese aanval in die Mystic Boer, ‘n uithangplek vir jongmense. Maar Burns weet dit was méér as net ‘n aanval. Hy ken vir Sky. Hy kan dit in sy bang oë sien. En dit is ook so – Sky vertel later vir Burns dat hy ‘n visioen gehad het van bloed en dat hulle moet wegbly van BreinBliksem af.

Maar ten spyte van Sky se waarskuwing vat die drie ouens tog die N1 Noord na BreinBliksem. Langs die pad tel hulle vir Partygirl, wat ook op pad is na die rockfees, op. Partygirl met die swart T-hemp, cherry rooi lippe, blou-blou oë en ‘n vel soos vanilla yogurt.

Daar is dadelik ‘n konneksie tussen Burns en Partygirl. En later die aand, alleen in hulle tent, stroop hulle mekaar se klere af terwyl die rock musiek nog van die stage se kant af weerklink en vasslaan in die vertes.

Maar dan gebeur daar iets wat Burns se vertroue in sy pêlle onomkeerbaar skaad. Burns se hele wêreld word by BreinBliksem op sy kop gekeer.

Een van hulle kom daardie aand uit die tent met bloed aan sy hande.
En niks is ooit weer dieselfde nie.

BreinBliksem maak groot opslae. Insig noem beskryf dit as ‘Trainspotting in Bloemfontein’. Keurders het na die boek verwys as ‘n kragtoer.
As daar een boek is wat tieners en jong volwassenes moet lees, is dit BreinBliksem. Maar wees gewaarsku: BreinBliksem word nie aanbeveel vir sensitiewe lesers nie.

 

Koop

Kry BreinBliksem by jou naaste goeie boekwinkel – as hy nie op die rak is nie, vra hulle moet dit vir jou bestel.

Klik hier en koop die e-boek by Amazon.

Klik hier en koop die boek aanlyn.

Resensies

“Van die allitererende eksplosiewe in die titel tot by die verrassende slot, doen Fanie Viljoen se BreinBliksem letterlik dit wat die titel sê. Dit is ‘n onthutsende, maar boeiende leeservaring. Die boek verg oopkop-lesers . Dit belig ‘n groep jonges wat ons nie kan wegwens nie. Dis ‘n boek wat die moontlikheid inhou om Afrikaanse tieners te oortuig dat daar Afrikaanse boeke is wat hulle kan uitdaag. As jy dapper is, koop die boek vir ‘n tiener, lees dit self ook. Dit is goeie gespreksmateriaal.”

Prof Maritha Snyman (Beeld) 20 Desember 2005

Lanklaas was ‘n manikuur in soveel gevaar om afgekou te word! BreinBliksem, Fanie Viljoen se debuutroman, wys uit die staanspoor waarom dit die Sanlam-prys vir Jeuglektuur ontvang het – jou mond hang oop as jy die boek klaar gelees het. Viljoen skryf gemaklik en die direkte ‘hard core’-styl is verfrissend. Die storie ontwikkel vinnig en die ontnugterende wending ‘breinbliksem’ die leser behoorlik.

Mariana Loots (Die Burger) 15 Oktober 2005

Met BreinBliksem gaan Fanie Viljoen nog verder met die skok van die leser. Hy skets die hedendaagse tiener as asosiaal en immoreel. Die taalgebruik en optrede van die karakters is kru en selfs walglik. Die outeur wil reaksie ontlok en die leser kan nie anders as om te reageer nie. Baie lesers sal die boek ná ‘n paar bladsye wil neersit, maar dit sal jammer wees, want hier is wel sprake van vernuwing en van daardie ‘iets anders’.

Thomas van der Walt (Rapport Perspektief) 11 Desember 2005

Het jy geweet?

BreinBliksem is ook in Engels en Frans beskikbaar as MindF**k.

BreinBliksem is al twee keer vir die verhoog verwerk.

BreinBliksem-akteurs

Uittreksel

Die bands is awesome. Teen die tyd dat die sterre uitkom, is die party al warm. (’n Paar spaced-out Gautengers sien apparently vanaand vir die eerste keer in hulle lewens die sterre – die stad se straatligte het hulle van die sterre gerob.)

Die sweet tap ons af en meng met die stof aan ons lywe. Dis stof wat orals inkruip, in jou ore, jou neus, onder jou vel. Maar dis oukei. Hierdie soort jol kom net een keer ‘n jaar.

Barney Simon van 5FM Music is nou die presenter. Hy gooi BreinBliksem T-shirts na die mense toe. Sê hy gaan ons netnou in die moshpit join. En terwyl ’n nuwe band opstel, begin iemand met vuur te juggle. Die betowerende ligstrepe gly deur die donker. As jy jou verbeelding gebruik, kan jy dink dis twee vuurvliegies wat perfek saam dans. (Magtig, ek raak nou liries – ek is dalk verlief of iets. Of dalk net lekker gerook.)

Sky Eyes het nou ook heeltemal gerelax. Ek dink hy het al drie of so biere weggesluk en het selfs hardop begin lag. Moet die hitte wees.

Toe 16 Stitch op die stage kom, begin ons verstaan waar die naam BreinBliksem vandaan kom. Dis Afrikaans vir headbang. Mosh. Donder jou kop. Spring. Raas. Fok rond. Crash and burn, baby. BreinBliksem!

Ons is al drie in die moshpit – ek, Kerbs en Sky. En toe kom Partygirl ook by. In die malende massa. Unorganized chaos, soos ons koppe. En somehow maak dit sense om teen die ander ouens se lywe te stamp. Te val. Op te staan en dit weer te doen. Dis self-expression sonder limits. Dis ‘n vergete oerritueel wat in ons koppe kom lê. Soekend vir pyn om ons weer soos mense te laat voel. Self-sacrifice.

En niks matter nie.

Dis jy en die music.

Jy en jou disfunctional self.

Jy en jou loneliness tussen al die mense.

En die music blast by die swart speakers uit. Ons dans ons lywe warmer en warmer. Nog ‘n bier, nog ‘n splif. En alles voel ligter. Jy vergeet, soos jy dink die ander al van jou vergeet het.

Die bands wissel. Arno Carstens is volgende. Partygirl gaan crazy. Sy vertel vir almal om haar Arno is haar favourite sanger. Dit lyk nie of die mense om haar ‘n fok omgee nie. Jy sien dit in hulle oë. Hulle veraf oë.

Bottels en blikke op die grond maak dit moeilik om nie jou enkels te swik nie. Elkeen probeer seker vir hom ‘n spot skoonskrop.

Die musiek begin eers stadig, dan vinniger, vinniger, harder. Die band beweeg onder die rooi ligte. Rook blaas oor die stage. Hulle word spoke uit die land van rock. Arno gryp die mike vas terwyl hy sing.

Partygirl skree vir die mense om haar: “Hy sing net vir my!”

En deur die newels wat in my brein dwarrel, dink ek aan wat sy my vroeër vertel het toe ons na die FMX show gekyk het. Van hoe arm hulle is. Van haar pa se hartaanval en sy dood. Die doktersrekeninge wat begin inkom het. Van haar ma wat haar uit die skool gehaal het. Hoe sy nou in die Champion Supermarket werk op Winburg, en soms geld wegsteek van haar ma om te spaar vir ‘n CD. Hoe sy ‘n hele klomp geld gevat het om die BreinBliksem-kaartjie te betaal. Van haar ma wat haar uit die huis gejaag het vanoggend toe sy uitvind. Dat sy nie mag teruggaan huis toe nie.

Ja, Arno sing vanaand net vir Partygirl, want sy het nou niks meer nie. Net sy songs.

Partygirl staan doodstil tussen die springende lywe.

Sy huil.

 

Koop

Kry BreinBliksem by jou naaste goeie boekwinkel – as hy nie op die rak is nie, vra hulle moet dit vir jou bestel.

Klik hier en koop die e-boek by Amazon.

Klik hier en koop die boek aanlyn.

 

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top