You are here
Home > Afrikaans > Briewe van Mieliepit

Briewe van Mieliepit

Briewe van Mieliepit

Ontmoet vir Mieliepit: ‘n baie pittige troetelhoender van Bloemfontein. 

‘n Bietjie lui (sal sy self erken), en baie lief vir gesels, skryf sy die allersnaakste briewe spesiaal vir jou. Sy vertel stories oor Jaco en Janet, die twee kinders in die huis, en alles wat hulle aanvang. Soos alle broers en susters baklei hulle soms lelik, en soos alle kinders vertel hulle soms nie heeltemal die waarheid nie. Gelukkig is Mieliepit altyd daar om hulle te help.

Elke storie bevat ‘n bietjie pitkos om die leser te laat nadink, sowel as ‘n Bybelgedeelte om verder te gaan lees, en ‘n gebed wat die leser kan bid. Die storiebriewe het selfs aktiwiteite vir die lesers om te doen.

Hierdie boek verskil van Fanie Viljoen se ander kinderboeke deurdat dit ‘n Christelike invalshoek het. Dit word uitgegee deur LAPA Uitgewers se nuwe druknaam, LUCA, wat fokus op geestelike fiksie en niefiksie.

Kyk

Kyk na ‘n lokprent van Briewe van Mieliepit.

Gebruik die boek só

  • Kinders kan die boek self lees en Bybelstudie doen. Hulle kan daarna die kort gebed self bid.
  • Of lees as gesin elke aand een van Mieliepit se briewe. Lees dan die gegewe gedeelte uit Die Bybel tydens huisgodsdiens en laat die kinders die kort gebed in die boek saam met jou bid.
  • Onderwysers kan die briewe in die klas lees en die teksgedeelte daarna vir die kinders lees. Gebruik gerus ook die Pitkos-gedeeltes as onderwerpe vir mondelinge, of doen van die praktiese aktiwiteite wat die boek verskaf. Dit kan groot pret wees!
  • Laastens kan jy Mieliepit se briewe en teksvers tydens saalopening by skole gebruik. Die briewe sal kinders vasgenael laat sit, laat lag en hulle iets leer.

Koop

Koop die boek by alle goeie boekwinkels.

Klik hier en koop dit aanlyn by Takealot.

Klik en koop dit aanlyn by Loot.

Koop die boek by Lapa.

Koop die e-boek by Lapa.

Koop die e-boek by Amazon.

Luister

Luister na ‘n onderhoud met Fanie op Radio Kansel.

Uittreksel

Hallo Liefsteling

O, hoenderboud tog, dit was vreeslik: net ’n geskree en ’n geraas. Deure wat toeklap. En almal is ongelukkig. Ek dog ons gaan uit om die aand te geniet, en toe gebeur dit.

Maar voordat ek jou daarvan vertel, moet ek myself seker voorstel. My naam is Mieliepit. Ek is ’n troetelhoender. Ja, jy het reg gehoor: troetelhoender. Ek bly in ’n huis in Bloemfontein. Saam met my in die huis bly twee kinders, Jaco en Janet. Hulle ma en pa, tannie Rina en oom At, bly ook hier.

Ek het lank terug per ongeluk by hulle huis aangekom. Omdat ek partykeer ’n bietjie lui kan wees, het ek besluit ek bly sommer net daar. Hulle tuin het in elk geval meer wurms as die plek waar ek vandaan kom. Só word ek die troetelhoender wat nou nog by die Fouries bly – reg binne-in hulle huis!

O, kuikenderm, ek dwaal af. Ek moet jou nog vertel van die vreeslike bakleiery, maar ek wil nou nie skinder nie. Jy moet dit weet. Ek skinder nie. Maar ek gaan jou vertel – dit kan ek doen.

Ek, Jaco, Janet en hulle ouers het gisteraand gaan uiteet. Sommer ’n lekker gesinsaand waar ons kon gesels en so aan. Ongelukkig was dit nie so rustig nie. In die restaurant gee Jaco en Janet mekaar net een skewe kyk en toe . . . toe is die tjips in die warm olie.

“Wat kyk jy, ou rooikop?” vra Jaco vir Janet.

“Ek kyk vir jou! Dit lyk dan nie eers of jy jou hare gekam het nie!”

“Dis hoe almal nou hulle hare dra. So deurmekaar,” antwoord Jaco bitsig. “En hoe my hare lyk het niks met jou uit te waai nie. Gee vir my die spyskaart. Ek is honger. Ek wil sien watse hamburgers hulle hier het.”

“Ek wil eerste kyk,” sê Janet toe vermakerig. “Ek is óók honger.”

Ek skrik so groot vir die twee dat ek nie ’n woord kan kekkel nie.

“Hei, julle twee,” raas oom At toe. “Stop dit dadelik! Dis nie hoe ek julle grootgemaak het nie.”

Maar die bakleiery is nog nie op ’n end nie. Hulle hou net aan. Tannie Rina kry so skaam, want naderhand kyk ál die mense in die restaurant vir hulle. Toe die kos kom, stamp Janet haar koeldrank om op Jaco.

Jaco word so kwaad dat hy vir Janet met ’n pap tamatieskyf gooi. Kaplaks! So teen die voorkop!

Kan jy dit glo? As hulle my kinders was, sou ek wens hulle eiers het nooit uitgebroei nie.

 

Wil jy verder lees?

Kry Briewe van Mieliepit by jou naaste boekwinkel of aanlyn.

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top