You are here
Home > Afrikaans > Die groot boek van spoke en grille

Die groot boek van spoke en grille

Dis GROOT. Dis GRUWELIK. Dit gaan jou HOENDERVLEIS gee.

Is jy dapper genoeg om hierdie boek oop te maak?

Wat gebeur as jy te lank in Dina se donker oë staar? Wat is fout met juffrou Kupido – en watter nare geheim steek sy in haar pousekosblik weg? Woon daar werklik ’n monster in die bos soos die grootmense sê? En wat sal gebeur as ’n vampier en ’n zombie een nag kennis maak?

Dis die lekkerste versameling grilstories wat jy nog ooit gelees het! Hierdie reuse-rilboek bevat 30 spokerige, grillerige en grieselige stories wat jou ure lank sal laat ril en gril – en laat smeek vir nog!

Koop

Kry Die groot boek van spoke en grille by jou naaste boekwinkel.

Klik hier om die boek by Takealot te bestel.

Koop die boek direk by Lapa Uitgewers.

Klik hier en koop die e-boek by Amazon.

Klik hier en koop die e-boek by Lapa Uitgewers.

Nog nie genoeg gegril nie? Kry die ander grillerige boeke.

Luister na ’n voorlesing

Klik en luister na “Die Kas”.

Idee vir die klas: Onderwysers kan die voorlesing as ‘n luisteroefening gebruik.

 

Die fout met juffrou Kupido

Mira kom dit al lankal agter: Daar is iets fout met juffrou Kupido. Alle onderwysers is seker ’n bietjie eienaardig, maar juffrou Kupido is weird op ’n ander manier.

Vandag hou Mira haar weer dop. Sy luister nie eens na die wiskundeles nie. Sy kyk net hoe juffrou Kupido kort-kort haar lippe aflek en haar tong amper tot by haar neus kom!

Ander kere gluur sy die stout kinders in die klas ysig koud aan. Dan knip haar oë net een op ’n slag.

Mira wonder nog wat dit met die juffrou is, toe iets op die juffrou se lessenaar ratel.

Sy rek haar nek om te sien wat dit is. Daar is dit weer. Dis juffrou Kupido se kosblik wat so wip.

Vinnig besluit Mira om ondersoek te gaan instel.

Net toe juffrou Kupido haar rug draai en op die bord begin skryf, spring Mira uit haar sitplek. Sy sluip die twee tree lessenaar toe, steek haar hand uit om die kosblik te gryp …

Maar meteens beland ’n ander hand op hare.

Beangs lig Mira haar kop. Dan kyk sy reg in juffrou Kupido se gelerige oë vas.

Die swart muur om middernag

In asemlose stilte staan ons drie op die verhoog en wag.

Daar is steeds tyd om weg te kom, waarsku die stem in my agterkop.

“Dit lyk nie vir my of iets wil gebeur nie,” sê Lani naderhand in ’n teleurgestelde stem.

Sy stap nader aan die swart muur. Met haar vingerpunte vee sy oor die gladde oppervlak.

“Lani, kom weg daar,” waarsku Leon.

Sy draai na ons toe en sit haar hande in haar sye. “Is jy nou ook so bang soos JP?” vra sy en lag.

Maar op daardie oomblik druk iets deur die muur bokant haar. Sy sien dit nie eens nie.

“Twee bang ouens,” spot Lani voort. “Laat ’n meisie dan vir julle wys hoe dit lyk as jy murg in jou pype het.”

Ek en Leon kyk verskrik hoe die ding al verder uit die muur druk. Dit lyk of die muur van swart plastiek gemaak is. Ek herken die lyne van ’n aaklige gesig. Dan sien ek die punte van vingers wat ook teen die muur druk en nou net sulke skerp bultjies maak.

“Lani, pasop!” roep Leon.

“Pasop vir wat?” vra Lani. Sy het nog nie die ding gesien nie.

Maar dan, skielik, gryp dit haar van agter af.

 

Wil jy verder lees?

Kry Die groot boek van spoke en grille by jou naaste boekwinkel.

Klik hier om die boek by Takealot te bestel.

Koop die boek direk by Lapa Uitgewers.

Klik hier en koop die e-boek by Amazon.

Klik hier en koop die e-boek by Lapa Uitgewers.

Nog nie genoeg gegril nie? Kry die ander grillerige boeke.

 

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top