You are here
Home > Afrikaans > Die lewe se vuil houe

Die lewe se vuil houe

Niemand mag uitvind van die vuil hou wat die Lewe vir Dewie Koster gegee het nie.

***

“Jy sal nie iets doen wat jou ma sal seermaak nie, nè, Dewie?” vra sy amper pateties.

Sy hart slaan ’n slag oor. “Nee, Ma.”

“Belowe?”

***

Dewie Koster leef onder sy ma se berge opgaargoed. Dit word elke dag erger. Sy koop en koop en koop. Alles pak sy in hulle woonstel. Alles.

Dewie moet daarmee saamleef. Of dalk kan hy skelm van sy ma se gemors begin ontslae raak.

Sy mag net nie daarvan uitvind nie.

Net soos ander mense nie mag uitvind hoe hulle in daardie deurmekaar woonstel leef nie. Veral nie sy pelle nie. Ook nie Jadey Ewerts, die vreemde meisie met haar boeke en slim sêgoed en oë wat uit ’n ander wêreld na hom kyk.

Niemand mag uitvind van die vuil hou wat die Lewe vir Dewie gegee het nie.

Resensies

Lees Jonathan Amid se resensie in Volksblad, Beeld en Die Burger.

Lees Magdel Vorster se resensie in Rapport.

Luister

Luister na ‘n klankgreep uit RSG se Skrywers en Boeke waarin hulle praat oor Die lewe se vuil houe.

Koop

Die Lewe se vuil houe is beskikbaar in alle goeie boekwinkels, of kry dit aanlyn by hierdie boekwinkels:

Direk by die uitgewer.

Takealot

Loot

Papierboek en e-boek by Amazon.

E-boek by Lapa Uitgewers.

Lees meer

Lees meer oor die boek in Huisgenoot.

Uittreksel

Dewie skuif die tas reg op sy skouers. Hy volg vir Gus stoeplangs verby die klaskamers met die houtraamvensters, personeelkamer toe. Meneer Stander wag hulle daar in.

“Hier’s hy, Meneer,” sê Gus.

“Dankie, Gouws.” Meneer Stander se rug is fier. Skouers teruggetrek. Hare kort geskeer. Mens kan sien hy het ’n paar spiere onder daardie hemp, dis hoekom die ouens in sy wiskundeklasse nie met hom sukkel nie. En ook hoekom die Hoërskool Jan van Riebeeck een van die land se topskole vir wiskunde is. “Skuld jy my nie ’n verskoning nie, Koster?”

“Skuus, Meneer?”

“Die rugby, seun.” Die onnie se oë deurpriem Dewie s’n.

“Wanneer sien ons jou weer by ’n oefening?”

“Uhm, vanmiddag, Meneer?” Hy trek sy gesig benoud. Die meneer is reg. Hy was lanklaas daar.

“Is dit nie wat jy laas week ook gesê het nie?”

“Het ek?” Dewie lig sy wenkbroue.

“Jip.”

“Ek het seker vergeet, Meneer.”

“Hou jy my vir die gek, Koster?”

“Nee, Meneer. Sorry, Meneer.”

“Só haal jy nie my span nie. Ek soek iemand op wie ek kan vertrou. As ons oefen, is die hele span daar. Jy ook. Oukei?”

Hy knik. “Ek verstaan, Meneer.”

“Is jy seker?”

“Ja, Meneer. Ek sal vanmiddag kom. Belowe.”

Meneer Stander hou hom nog dop. Kyk hom op en af.

“Is daar nog iets, Meneer?” vra Dewie versigtig.

“Ja.” ’n Duikie vorm by meneer Stander se kakebeen. “Steek in jou hemp. Dit lyk soos gekreukelde vadoeke.”

Gus grinnik agter sy hand.

“Skuus, Meneer,” stotter Dewie. “Ek steek hom in, maar as ek weer sien, hang hy uit.” Hy druk die hemp vinnig terug in sy langbroek.

Meneer Stander gee ’n tree nader. Hy is blykbaar nog nie tevrede nie. Fronsend trek hy Dewie se baadjie oop oor sy skouer. “Wanneer laas het jou ma jou klere gestryk, Dewie? Trek jy uit die wasgoedmandjie aan?”

Dié keer onderdruk Gus ’n behoorlike lag.

Dewie skuifel ongemaklik rond. Sy oë dwaal van sy hemp af na Gus se netjiese klere. ’n Sneeuwit hemp, so glad soos ’n Instagram-filter. Die baadjie is duidelik hierdie jaar gekoop en seker ook pasgemaak vir sy breë skouers en dunner middellyf. Sy das perfek geknoop. Skoene gepoets. Modelleerder.

“Ek sal my klere vir Gus se ma bring om te stryk, Meneer,” maak Dewie ’n grappie. “Kyk hoe blink hy van bo tot onder en
anderkant uit!”

Die meneer se blik flits na Gus. Hy kry ’n effense laggie.

Dis hoe jy uit ongemaklike situasies kom, het Dewie al geleer: Jy maak ’n grappie. Al is dit ’n simpel een.

 

Lesers se opmerkings

  • Die verhaal gaan beslis baie mense se favourite word. Ek kan myself sien hierdie boek verslind toe ek 14 was.
  • Is Jadey nie net die coolste girl ooit nie. Sy laat haar nie voorsê wie sy moet wees nie, sy neem haar eie besluite en sy sien Dewie raak, nie die verkreukelde seun met die probleme nie.
  • Hierdie is nie die ma se verhaal nie, dit is ‘n tienerverhaal after all, maar haar karakter word met soveel deurnis geskep en ontleed dat die leser nie anders kan om die menslikheid in ma’s raak te sien nie. Wanneer die leser leer wie sy was/is, kan mens nie anders as om te dink hoe ons almal drome het wat soms onder al die papier en ou klere opgegaar word nie.

 

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top