You are here
Home > Afrikaans > Donker Web

Donker Web

As jy wil wraak neem, moet jy twee grafte grawe.

Greg Owen is oorlede. ’n Span duikers het sy liggaam gister uit die Canale Grande in Venesië gehaal.
Dis wat die koerante in die Turret Media-groep oor my berig.
Greg Owen is dood. Kan dit waar wees, ná alles wat gebeur het?
Ja, ek was in Venesië, waar die hoofkanaal soos ’n reuseslang deur die stad kronkel, en ja, iemand is uit die donker water gehaal. Maar ander mense was saam met my daar. Ons was vyf.
Een van hulle is dood.
Hierdie is ons storie.

Greg Owen, die ou wat sy eie pa vir die wolwe gegooi het, is ’n eerstejaar op Stellenbosch. Klaar met hacking. Ingeskryf vir ’n graad in Sportwetenskap. Maar sal hy ooit van die skaduwee van Lawson Kollege en Project Nursery Rhyme kan wegkom?

Donker Web is die vervolg op Onderwêreld.

Koop

Donker Web is beskikbaar by alle goeie boekwinkels.

Klik en koop die boek by Takealot

Klik en koop die boek by Loot.

Klik en kry die e-boek op Amazon.

Donker Web (skooluitgawe) is beskikbaar by alle goeie boekwinkels, of klik hier om dit aanlyn by Takealot of Loot te bestel.

Onderwysers – as julle ‘n groot bestelling vir julle leerders wil plaas, kontak gerus vir Henk Viljoen by NB Uitgewers se skoleafdeling: henk.viljoen@nb.co.za

Skooluitgawe

Daar is ‘n verkorte skooluitgawe van Donker Web. Die voorblad lyk soos die oorspronklike boek, maar het ‘n rooi skooluitgawe-vlaggie bo, in die hoek. Klik hier om die skooluitgawe te koop.

Feit en fiksie

Jy sal dalk wonder wat is werklik en wat kom uit die skrywer se verbeelding wanneer jy Donker Web lees.

Klik hier om ‘n lys van feite en fiksie af te laai. Feite en fiksie

Jy sal verstom staan!

Video’s vir die klaskamer

Gebruik hierdie Donker Web-video’s in die klas. Daar is ‘n Afrikaanse speellys, en ‘n Engelse een. Fanie verduidelik kort en bondig ‘n klomp aspekte van die boek, soos navorsing, omgewing, karakters en karakterisering, struktuur en baie meer.

Onderwysgids

Laai ‘n gratis onderwysgids vir Donker Web af:

Donker Web Gratis Leesgids

Onderwysers – as jy Donker Web in grootmaat vir jou klas wil aankoop, kontak vir Henk Viljoen by henk.viljoen@nb.co.za

Toneelstuk

André Stolz se toneelgeselskap werk aan ‘n Donker Web-toneelstuk.

Indien jy wil hê hulle moet by jou skool aandoen, kontak gerus so gou as moontlik vir André. Die toerprogram word alreeds vroeg in die jaar vasgemaak.

E-posadres: productions@andrestolz.com

Facebook: https://www.facebook.com/andrestolzproductions/

In die media

Lees J.B. Roux se resensie op Netwerk24.

Lees Elretha Britz se berig oor Donker Web op Netwerk24.

Kyk

Indien jy Donker Web in die klas gebruik, sal hierdie twee video’s (een in Afrikaans, die ander in Engels) jou help om Onderwêreld te hersien.

 

 

 

 

 

Rub a dub dub …

Uittreksel

Hoofstuk 1 – Skree

Greg Owen is oorlede. ’n Span duikers het sy liggaam gister uit die Canale Grande in Venesië gehaal.

Dis wat die koerante in die Turret Media-groep oor my berig.

Greg Owen is dood.

Kan dit waar wees, ná alles wat gebeur het? Miskien is daar meer aan die storie.

Ja, ek was in Venesië, waar die hoofkanaal soos ’n reuseslang deur die stad kronkel, en ja, iemand is uit die donker water gehaal. Maar ander mense was saam met my daar. Ons was vyf.

Een van hulle is dood.

Hierdie is ons storie.

Dis hoe dit begin.

 

Ons huis in Sandhurst het ’n skemeragtige plek geword, meestal sonder klank, buiten vir ’n selfoon wat af en toe lui, die geluid van ’n motor in die straat, ’n sjef wat kosmaak in die kombuis, of wanneer ek doelbewus musiek hard aansit om die stilte te verdryf.

Kom jy die huis binne, stap jy met die gang af of sit jy in die sonkamer, is daar altyd hierdie swaar gevoel wat binne jou lê, soos ’n opgekrulde slang.

So het dit begin voel die aand toe ons by die huis arriveer nadat ek teen die middel van matriek weg is by Lawson Kollege, nou al ’n jaar en ’n half gelede. So iets. Ook tyd het ’n ander betekenis gekry in hierdie somberte. Dae het soms verbygegaan terwyl jy afgestomp daardeur worstel, net om aan die einde van so ’n dag in die hof of waar ook al te wonder hoe jy daardeur gekom het. Dit was byna soos wanneer ’n mens se gedagtes begin dwaal terwyl jy kar bestuur, en jy later wonder hoe op aarde jy by die huis gekom het, want jy kan niks van die rit onthou nie.

Besigheidsvennote en mense wat vroeër goeie vriende met my pa was, het hulself skaars gehou. Altyd besig. Dit was asof hulle bang was dat ’n smet aan hulle sou afsmeer. Een unlikely ou het egter op ’n dag by die huis opgedaag, ’n ruiker blomme in die hand. “Let me know if there is anything you need, Mrs Owen. Anything at all.”

Thomas Lawson. TJ, wat saam met my in matriek was, se oupa.

Asof hy my pa iets skuld.

En noudat alles verby is – skool, Dok en my pa se hofsaak, die media-vreetfees – is die neerdrukkende gevoel in ons huis steeds daar. Dit besef ek toe ek die aand vir die laaste keer in my bed lê. Môre is dit tyd vir ’n nuwe begin, of so vertel ek myself. Die een of ander tyd moet ’n mens voortgaan. Dis die lewe.

Ek laat my asem stadig uit, my oë gerig op die muur oorkant die bed waar ’n Conrad Botes-skildery hang. Dis uit sy The Temptation to Exist-reeks. ’n Selfportret wat ek nie verstaan nie, maar waarna ek ure lank kan kyk. Waaroor ek kan wonder. My ma het dit vir my gekoop omdat sy weet ek hou van sy hardegat kuns. In my kas is daar nog ’n stapel Bitterkomix-strokies met Botes, Anton Kannemeyer en ander kunsrebelle se werk in.

Van die skildery af beweeg my oë na die bokse by die deur. Die tasse en ander random goed wat môre moet saamgaan Stellenbosch toe. Dis waar ek nou gaan bly. Stellies.

Ek probeer my aandag vir ’n oomblik daarvan afkry, want ek weet ek moet slaap. Dis al ná twaalf.

Met my oë toe, lê en luister ek na my eie asemhaling. Weer intens bewus van die verraad in my: die ou wat sy eie pa vir die wolwe gevoer het. Dit steek in my bors. Jy kan skoert van die huis af, Greg, maar so maklik kom geen mens weg van die swakheid binne jou nie. Ook nie van die verlede se skaduwee nie.

Ek rol om. Al probeer ek hoe, die slaap wil nie kom nie.

Uiteindelik gooi ek die beddegoed eenkant toe, klim uit die bed en stap badkamer toe. Die lig gloei helderder toe ek die vertrek binnestap. Ek sluk ’n glas water af. Vang nog ’n stroom water in die holte van my hande, spat dit oor my gesig en kyk hoe die water oor my vel blink, hoe dit in strome oor my ken afloop na my nek, oor my kaal bolyf.

My gesig het verander. Die gedagte tref my onverhoeds. Ek is glad nie meer dieselfde matrieklaaitie wat ek in Lawson Kollege was nie. Daar is iets forsers aan die manier waarop my gesig se hoeke sny. Iets treurigers in my oë. ’n Bitterheid in die manier waarop my lippe trek.

’n Mens leer ook uit die wedstryde wat jy verloor, kom ’n les van ’n rugbyafrigter na my toe terug.

Leer ’n rugbywedstryd jou dat die lewe unfair is? wonder ek wrang. Waar ek nou is, en hoe ek hier gekom het – dis nie hoe my lewe moes wees nie.

Met daardie gedagte wat deur my kop maal, stap ek terug kamer toe. My vingers vee oor die bokse by die deur toe ek my kamerdeur oopmaak. Die gangmat is sag onder my voete.

By my broer, John, se kamer stop ek. Vir ’n oomblik wil ek klop en is daar die vae hoop dat hy sal antwoord. “Kom in as jy ’n broek aanhet.” Dis hoe hy altyd geantwoord het.

Ek kry ’n effense laggie, maak die deur oop en stap in. Die lig gaan lê sag oor die kamer toe ek die skakelaar teen die muur druk.

Nog herinneringe stroom deur my, duisel in my kop.

Die bed is opgemaak. Die gordyne wat die donker moet buite hou, is toe. Al John se goed is net soos dit was toe hy nog geleef het. My ma hou dit so. Daaroor is ek nogal bly. Al is dit tragies, amper ’n gedenk-altaar, is dit een van die min dinge wat ons van my broer in die huis het.

Sy stem het ek al vergeet, daarom probeer ek verbete vasklou aan die tye wat ons saam was. Soos die keer toe ons by die Orlando-torings in Soweto gaan bungee jump het. Later was ons by Bloukrans se bungee en toe by die reusetouswaai by die Moses Mabhida-stadion in Durban. John het gelewe vir daardie adrenalienstorm in die bloed.

“Hoekom doen ons dit?” het ek hom gevra toe ons daar op die platform by die stadion staan en afkyk na die sportveld doer onder. John was alreeds vas aan die springtou se harnas. Die seewind daar bo het aan ons hare gepluk en ons T-hemde teen ons lywe vasgedruk.

Dit was asof John na die antwoord binne hom gesoek het.

“Hoekom?” het ek weer gevra.

“Vir die val. Vir die vrees,” het hy ná ’n ruk geantwoord, sy wenkbroue uitdagend gelig, en skewerig geglimlag.
Toe spring hy.

Die rek het hom soos ’n naelstring verbind aan die middel van die massiewe boog wat oor die stadion span. John het sy arms oopgegooi en uitgelate diep uit sy maag geskree.

Vir die val. Vir die vrees.

Bronne

Donker Web sou nie moontlik gewees het sonder ‘n paar vriendelike medewerkers wat in die boek bedank word nie.

Klik gerus op die onderstaande skakel om ‘n volledige bronnelys af te laai. Van die skakels oor die donker web is ongelukkig al verwyder, maar hulle word nietemin in die bronnelys genoem.  Bronne

Onderwysgids

Laai ‘n gratis onderwysgids vir Donker Web af:

Donker Web Gratis Leesgids

Audioboek

Daar is nie ‘n audioboek van Donker Web beskikbaar nie, maar luister hier na Onderwêreld.

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top