You are here
Home > Afrikaans > Flippie word ’n vlieg

Flippie word ’n vlieg

Flippie word 'n vlieg

Sal jy daarvan hou om plekke te ruil met ’n VLIEG? Natuurlik nie. DIT SAL AAKLIG WEES! Maar dis presies wat met Flippie Visagie gebeur.

Flippie is altyd netjies en voorbeeldig. Op ‘n dag is daar egter ‘n ongeluk in die wetenskapklas, en Flippie ruil plekke met ‘n vuil vlieg.

Sal hy ooit sy ou lewe terugkry? Dalk kan hy iemand oorreed om hom te help … die skool se boelie.

Waarskuwing: Een van die hoofstukke in hierdie boek is superjiggie!

 

Koop

Die boek is beskikbaar by alle goeie boekwinkels.

Of klik hier om dit aanlyn te koop.

Koop die boek by Lapa.

Klik en koop die e-boek.

Koop die e-boek by Amazon.

 

Uittreksel

Hoofstuk 1

Ek is Flippie Visagie

“Hei, Flippie!” fluister Bakkies Botha in die klas. “Moenie nou kyk nie … Maar daar is ’n GROOT kol modder op jou hemp. Het jy in ’n varkhok rondgerol?”

Ek skrik. Modder? Op my hemp? Hoe het dit gebeur?

Ek kyk af. Sien geen modder nie. Dalk is dit op my rug. Ek trek my hemp oor my skouer. Probeer agter my kyk. Maar ek kan nie.

“Hy jok, Flippie,” fluister Tyla, my vriendin. “Daar is g’n modder nie. Bakkies, jy is ’n regte aartappel, weet jy?” Sy en Arend, my ander vriend, kyk Bakkies kwaai aan.

“Wie kekkel so?” vra meneer Stander skielik. Ons sit in sy Wetenskap-klas. Sy oë kyk ons kwaai aan.

My hart klop vinniger. Ek wil nie in die moeilikheid kom nie. Nie oor Bakkies nie. Ek is wat onnies altyd noem: VOOR-BEEL-DIG.

Ek, Flippie Visagie, is mal oor skool. Ek sal selfs naweke skool toe kom. As ek kon. Ek doen altyd my huiswerk vooruit. My klere is altyd super-skoon. My skoene blink gepoets. My hare gekam en my naels geknip. Onnies hou van my. En ek hou van hulle. Maar dis seker hoekom Bakkies Botha nie van my hou nie.

Bakkies is ’n regte bullebak. Ongelukkig pla hy my nie net by die skool nie. Hy pla my ook by die huis. Bakkies en sy pa-hulle bly in die huis langs ons. Jip, ek bly langs die skoolboelie. Dit is ’n ramp!

Meneer Stander gaan gelukkig aan met die klas.

Skielik draai Bakkies weer in sy stoel om. Ek maak of ek hom nie sien nie. Maar eintlik sien ek hom. Hy trek sy gesig. Beduie iets met sy vuis. Dan skiet hy dit uit asof hy na my slaan. Ek skrik so groot, ek val amper van my stoel af. Bakkies lag.

“Flippie Visagie!” roep meneer Stander. “Wil jy voor in die klas kom sit?”

Verleë kyk ek af. Skud my kop. Net die stout kinders sit altyd voor in die klas. Ook hulle kyk nou na my en lag. Want hulle weet ek is NOOIT in die moeilikheid nie.

Ek skuif my liniaal, potlood en uitveër in ’n perfekte reguit lyn op my lessenaar. En wens meneer Stander wil ophou vir my grom.

Bakkies het weer teruggedraai in sy stoel. Maar ek hoor hom nog grappies maak.

“Die huisvlieg!” roep meneer Stander dan skielik uit. Weer skrik ek. En amper val ek weer van my stoel af. “Dis my nuwe eksperiment.” Hy beduie na die metaal-goed voor in sy klas. Ek het nogal gewonder wat dit is – die twee, groot ringe. Daar is gedurig eksperimente in meneer Stander se klas. Dit het gewoonlik niks met skoolwerk te doen nie.

Selfs Bakkies let nou op. Veral toe meneer Stander ’n kissie met vlieë wys. Hulle plak teen die kante vas. Swart soos rosyntjies.

“Wie kan my iets van die huisvlieg vertel?” vra meneer Stander.

Bakkies se hand skiet eerste op. Dit maak my vies.

EK WOU EERSTE WEES!

“Ja, Bakkies?” vra meneer Stander.

Hy grinnik. “Ek vang partykeer vlieë. Dan trek ek hulle vlerke af, Meneer.”

Almal snak na hulle asems.

“Dis nie mooi nie, Bakkies,” sê Tyla. “Ag nee, man! Jy doen dit nie weer nie.” Sy gooi haar poniestert vies oor haar skouer. Skuif haar bril terug op haar neus.

“Tyla is reg,” sê meneer Stander. “Wie kan my nog iets van vlieë vertel?”

Hierdie keer is my hand eerste op. “Hulle is vuil meneer! Hulle eet poef en sulke goed. Jig!”

 

Wil jy verder lees?

Kry die boek by jou naaste boekwinkel of aanlyn.

 

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top