You are here
Home > Afrikaans > Geraamte in die Klas

Geraamte in die Klas

Wat gebeur as jy per ongeluk jou juffrou in ’n geraamte verander?

Stephan en sy vriend, Cobus, is in groot moeilikheid.

Hulle het per ongeluk hulle onderwyser, juffrou Beneke, in ’n geraamte verander! Maar dit is net die begin van die storie . . . want dan moet hulle haar op die skoolbus smokkel sodat hulle op ‘n Graadsewe-toer kan gaan.

En dan is daar boonop ‘n wildejaagtog op ‘n spoedvarkie, ’n geveg met ‘n seekat, gevaarlike rekspronge, wilde ape en wie weet wat nog alles!

Wat gaan Stephan en Cobus omtrent juffrou Beneke doen?

Wenner: ATKV-kinderboektoekenning en die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke.

Gratis studiegids

Klik op die onderstaande skakel om ‘n gratis studiegids af te laai:

Ou onderwysersgids:

Geraamte in die klas Onderwysersgids

Opgedateerde onderwysersgids:

Geraamte in die klas Onderwysersgids 2021

Koop

Koop Geraamte in die klas by alle goeie boekwinkels en aanlyn.

Klik hier om dit aanlyn by Takealot te koop.

Klik hier om dit aanlyn by Loot te koop.

 

Uittreksel

O ja, jy weet natuurlik nog nie van die GROOT DAG nie. (Moenie bekommerd wees nie – die spinnekoppe weet ook nie daarvan nie.)Ek en Cobus maak al vir twee weke lank spinnekoppe bymekaar. Grotes, kleintjies, hariges, gladdes – enige spinnekop wat dit met sy agt pote waag in die veld agter ons huis. Ons sit al met ’n hele boks vol. Ten minste een van die spinnekoppe is ’n dodelike soort. Dit moet wees, want ons kry nou die dag een met al agt pote in die lug. Ek is seker hy is gebyt deur die giftige spinnekop. Hy kon nie gevrek het van honger nie. Ons gooi genoeg goggas in die boks waaraan hulle kan smul terwyl hulle wag vir die GROOT DAG.

Vandag is die GROOT DAG waarvoor ons al so lank wag. Dit is Maandag. Ons is by die skool. Die klok gaan nou enige oomblik lui vir pouse. Ek kyk na die boks langs Cobus se tas. Niemand weet wat daarin is nie. Net ek en hy, want ons is mos beste pêlle.

My hande begin sweet. Ek vee hulle aan my broek af. Ek hoor lankal nie meer wat juffrou Beneke sê nie. Ek kyk net na die boks, en vir Cobus . . .

Die klok lui hard en skril. Voor juffrou Beneke kan keer, spring almal op en storm raserig buitentoe.

“Komaan, Stephan!” sê Cobus. Sy oë blink. Hy knyp die boks onder sy arm vas.

“Wat het jy daar, Stephan?” vra juffrou Beneke skielik hier agter ons. Ek vries.  Juffrou Beneke se stem is so skel soos ’n motoralarm. Ek hoor al hoe sy met daardie stem vir diewe kan gil: “Hei jy! Jou sluwe skurk! Hou jou vuil pote van die motor af! Dief! Dief! Die-ie-ief!”

Ek en Cobus draai na juffrou Beneke toe. Sy rek haar oë groter. Sy doen dit altyd as sy wag vir ’n antwoord. Die antwoord wat jy nie het nie. Die antwoord wat jou pêlle vir jou moet fluister anders is jy diep, diep in die moeilikheid . . .

“Dis sommer niks Juffrou,” sê Cobus. Ek sien hoe hy sluk. “Dis sommer net rugbytoks, dis al.”

Voor juffrou Beneke nog ’n woord kan uitkry, skiet ek en Cobus by die klasdeur uit.

“Dink jy nóg ons moet dit doen?” vra ek. ’n Paar weke gelede, toe ons die GROOT DAG beplan het, het dit cool geklink. Maar nou is ek nie meer so seker nie.

“Natuurlik. Jy wil nie nou uitchicken nie, hé?”

“Nee, ek wil maar net seker maak jý wil nie uitchicken nie,” sê ek met ’n onseker stem.

“Gnf!” snork Cobus. “Kom dan!”

Ons hardloop na die agterkant van die skoolgebou. Hier is nie so baie kinders nie. Die meeste van hulle is in die vierkant voor die geboue, of op die rugbyveld. Ons sluip al met die gebou langs. Hier is baie bome, so niemand sal ons kan sien nie.

Nou is ons aan die agterkant van die meisies se kleedkamer . . .

“Klim op my skouers, dan gooi jy hulle in,” sê Cobus en hou die boks na my toe.

“Aikona, dit was jóú plan. Ek is in elk geval groter as jy. Klim jy op my skouers dan gooi jy hulle in.”

’n Grynslag sprei oor Cobus se lippe. “Oukei, sak!”

Ek buk en Cobus klim op my skouers. Ek loop al nader aan die oop venster van die meisies se kleedkamer. Dit is nogal hoog.

“Is jy nog oukei?” fluister Cobus.

“Ja, maar maak net gou!”

Ek hoor hoe hy die boks oopmaak. “Nog ’n bietjie,” fluister Cobus.

Ek gee ’n tree nader aan die muur.

Ek wil opkyk om te sien wat Cobus doen, maar ek kan nie.

Ek hoor hom sag tel. “Een . . . twee . . . drie.”

En ek hoor die gille . . .

 

Wil jy verder lees?

Koop Geraamte in die klas by alle goeie boekwinkels of aanlyn.

Klik hier om dit aanlyn by Takealot te koop.

Klik hier om dit aanlyn by Loot te koop.

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top