You are here
Home > Afrikaans > Iemand wat verdrink en ander verhale

Iemand wat verdrink en ander verhale

Iemand wat verdrink

‘n Nuwe bundel kortverhale, saamgestel deur Fanie Viljoen, bevat iets vir elke leser.

Iemand wat verdrink.
Iemand met ‘n donker gewete.
Iemand wat ‘n vloekwoord hoor.
Iemand wat nie kan sien nie.
Iemand wat oranje word.
Iemand wat gesond eet vir Instagram likes.
Iemand wat klippe en klappers gooi.
Iemand in swart en wit.
Iemand wat beheer verloor.
Iemand wat ‘n boot vir sy pa bou.
Iemand wie se lewe verfrommel.
Iemand wat vir die eerste keer gim toe gaan.
Iemand wat reëls maak en wraak neem.
Iemand wat begrafnis blomme kry voor hy sterf.
Iemand en haar ouma en ‘n klomp befoeterde vroue.
Iemand wat na appels ruik.
Iemand wat, die vet weet, klaar is met koolsop.
Iemand wat zombies skiet.
Iemand vir wie mieliepap soos armoede smaak.
Iemand wat op banke duik.
Iemand wie se skooltas wegraak.
Iemand wat ongelukkig ‘n gelukkige trekking wen.
Iemand wat ‘n nuwe hart kry.
Iemand met ‘n stert.
Ontmoet hulle almal in hierdie bundel. En word iemand wat verdrink in stories.

Die befaamde skywer, Marita van der Vyver, het die titelverhaal in hierdie opwindende bundel geskryf.

Die ander skrywers is: Fanie Viljoen, Nathan Trantraal, Mercy Kannemeyer, Christien Neser, Zain Eckleton, Zelda Bezuidenhout, Corine Raath, Anzil Kulsen, Sidney Gilroy, Arleen Stone, Nicolette van Schalkwyk, Nanette van Rooyen, Nelia Engelbrecht, Almero Welgemoed, Christiaan du Plessis, Cecilia Steyn en Maria Vos.

 

Koop

Iemand wat verdrink en ander verhale is beskikbaar in goeie boekwinkels en internetboekwinkels. Klik hier om die bundel aanlyn te bestel.

Koop die e-boek by Amazon.

Koop die e-boek by Lapa uitgewers.

Studiegids

Ons het die werk vir jou gedoen! As jy ‘n onderwyser is, is dr. Alet Mihalik se studiegis onontbeerlik.

Koop die e-leesgids by Lapa Uitgewers.

 

Uittreksel

Superzero’s

Fanie Viljoen

Hierdie is ’n groot fout, besef ek toe ek en Clint by die gim instap. Ek is so maer soos ’n muskiet en Clint is so dik soos donderweer, maar ons het besluit om vanjaar iets daaraan te doen.

Dis ons eerste dag en my maag draai alreeds. Ek snuif in die lug. Daar hang so ’n reuk in die lug. Nee, dis nie sweet nie. Dis vrees. My en Clint se vrees.

“Dis crazy. Hoekom is ons hier?” fluister Clint.

Ek wonder skielik ook.

“Welkom!” roep Patricia by die toonbank. Ek vermoed dit is sy wat later die ambulans sal bel as ons omkap. Of ’n been breek. Of bloei. Daarom groet ons vriendelik terug.

Op die gimvloer kyk ons dinge eers uit: Apparate, tonne gewigte, hardloopmasjiene, roeimasjiene, fietse en meer. Ek en Clint het vooraf besluit ons gaan met gewigte oefen. Ons wil lywe soos superhelde hê.

Maar eers gaan drink ons water, want ek raak gou gespanne.

Dit maak my seker ook blind. In die omdraai stamp ek per ongeluk teen iemand. Die grootste ou in die gim gluur my aan. Hy lyk amper soos Hulk, minus die groen vel.

“Wat dink jy doen jy?” vra hy vir my.

“Skies, dis ons eerste dag,” antwoord ek. Ek is nou nog meer gespanne.

Die Hulk kyk ons op en af.

Ons lyk seker weird. Ek met my ou Batman-Themp en rugbybroek. Clint met ’n atletiekhemp en ’n skibroek wat soos ’n vel aan hom klou. Kaptein DonderDye.

Ons is maklik die verste van superhelde af wat jy kan kry – eerder superzero’s as superhero’s.

Vandag slaat ons ons name met ’n piesang. Maar dis nou te laat, ons kan nie omdraai nie.

“Wat weet julle van gim?” vra die Hulk. Die spiere in sy nek maak bulte soos vuiste.

“Ons het oefeninge gegoogle,” antwoord ek.

“En YouTube-video’s gekyk,” antwoord Clint.

Die Hulk grom, of dalk is dit sy manier van lag. “Vergeet daarvan,” spoeg hy. “Ek sal julle wys.”

Ek gryp betyds my vol waterbottel. Die Hulk gryp vir my.

“Gaan ons eers opwarm?” vra Clint.

“Hoekom? Is julle pizzas?” vra die Hulk.

Goeie punt, dink ek.

Ek druk my waterbottel in my sak, ook net betyds, want die Hulk druk twee gewigte in my hande. Amper plant ek my gesig op die vloer.  Clint slaan byna agteroor met sy gewigte.

Die Hulk lag. Die ouens om ons ook. Die plek swem omtrent in testosteroon, behalwe in die kolletjie waar ek en Clint staan. Hier swem dit in moroon.

“Laat ek julle ’n paar goed wys,” sê die Hulk.


Wat gaan die Hulk hulle wys? Lees verder in Iemand wat verdrink en ander verhale.

Beskikbaar in goeie boekwinkels en internetboekwinkels. Klik hier om die bundel aanlyn te bestel.

Koop die e-boek by Amazon.

Koop die e-boek by Lapa uitgewers.

 

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top