Kaptein Verdwyn Afrikaans Boeke vir Kinders by Fanie Viljoen - 16th January 201612th October 20230 Kyle is moeg daarvoor dat die skoolboelie op hom pik. Toe Kyle ‘n nuwe selfoon kry, laai hy app af wat belowe om jou onsigbaar te maak! Dan verander Kyle in ‘n superheld: Kaptein Verdwyn! En dis tyd om die boelie ‘n les te leer… ‘n Aksiebelaaide storie met ‘n positiewe boodskap wat kinders kan bemagtig om hul man te staan teen boelies. Agterin die boek verskyn nuttige raad oor hoe om boelies te identifiseer en wat om te doen as iemand jou boelie. Koop Kaptein Verdwyn is beskikbaar by goeie boekwinkels. Koop die boek by Loot. Koop die boek by Takealot. Koop die boek by Lapa Uitgewers. Koop die e-boek by Lapa Uitgewers. Koop die e-boek aanlyn by Amazon. Gratis studiegids Klik op die onderstaande skakel om ‘n gratis studiegids vir Kaptein Verdwyn af te laai. Kaptein Verdwyn Onderwysersgids Kyk na Kaptein Verdwyn se kort video Uittreksel ’n Foto van ’n man verskyn op die skerm. Ligstrale blits heen en weer oor hom. Dan verdwyn hy. “Welkom by Skoert,” sê ’n stem uit die selfoon. “Wil jy weet hoe om die program te gebruik?” Kyle druk op JA. “Super!” sê die stem. “Om onsigbaar te word, is maklik. Stap 1: Maak die Skoert-kamera oop. Stap 2: Neem ’n selfie. Stap 3: Verdwyn!” “Maklik,” sê Kyle ingenome. Skielik wonder Kyle weer of dit regtig sal werk. Dalk is dit net ’n truuk. Of iemand bak, nes hy, graag poetse. Hy het nog nooit van iemand gehoor wat onsigbaar geword het nie. “Wil jy weet hoe om weer te verskyn?” vra die selfoon. Natuurlik, dis nogal belangrik, dink Kyle. Hy druk op JA. “Super!” sê die selfoonstem. “Om weer te verskyn is ook maklik. Stap 1: Gaan na jou selfoon se Skoert-fotoalbum. Stap 2: Vee jou foto uit. Stap 3: Verskyn!” Kyle glimlag. Hy sal dit beslis onthou. “Jy is nou gereed om te begin,” sê die selfoonstem. Die opwinding bruis binne Kyle. ’n Mens kan allerhande wonderlike goed aanvang as jy onsigbaar is … Sy kop is meteens vol planne. Maar die beste een van almal is: Neem wraak op Denzel die Draak! Ha-ha-ha! Hy het vandag gewens iemand wil vir Denzel op sy plek sit. As daardie iemand dalk ’n onsigbare Kyle kan wees … Sjoe, en as hy onsigbaar is, sal hy soos ’n superheld wees. Kaptein Kyle … Nee, Kaptein Verdwyn! Kyle glimlag ingenome. Hy haal diep asem en maak die Skoert-kamera oop. Sy beeld verskyn op die skerm. As hy nou die kamera se knoppie druk, sal hy verdwyn … Maar skielik raak hy ’n bietjie skrikkerig. Dis ’n ander soort skrik as vir Denzel die Draak. Sê nou net iets gaan fout en Kyle verdwyn nie net nie? Sê nou hy word soos ’n spook of iets? Kyle dink ’n bietjie daaroor. Wil hy die kans waag? Nee hokaai, miskien moet hy dit eers uittoets … Hy kyk rond. Dan sien hy Pantoffel, sy hond, op sy bed lê. ’n Idee skiet Kyle se kop binne. “Hei, Pantoffel, kyk hiernatoe!” sê Kyle. Pantoffel lig sy kop. Kyle rig die selfoonkamera op sy hond. En KLIEK! neem hy die foto … Wil jy verder lees? Kaptein Verdwyn is beskikbaar by goeie boekwinkels. Koop die boek by Loot. Koop die boek by Takealot. Koop die boek by Lapa Uitgewers. Koop die e-boek by Lapa Uitgewers. Koop die e-boek aanlyn by Amazon. Share on Facebook Share 0 Share on TwitterTweet Share on Pinterest Share 0 Share on LinkedIn Share Share on Digg Share 0 Total Shares