You are here
Home > Afrikaans > Klits Kronkel-reeks

Klits Kronkel-reeks

Ontmoet Klits Kronkel. Speurder Klits Kronkel.

En sy assistent juffrou Splinter, sy kat Japtrap, die tegniese tegnikus Blitz Vinnig, die wyse gryse Horrelpyp en die reus Pekel.

Klits Kronkel en die vlammende swaard

Klits se opdrag: om die Saffierswaardvanger op te spoor wat uit Nerf Edelsteen se kasteel gesteel is. Maar wat voer Troebel, Nerf se broer, in die Klits Kronkel 1mou?

En wat het van Raaf, hul ander broer, geword?

Bewapen met sy mini-nekeraar, leuenverklikker, rolskaatsskoene en silwer slympen, is dit presies wat Klits gaan uitvind. Nog voor jy “draakpoeding” kan sê.

Hierdie is die eerste van twee Klits Kronkel-boeke. Dit sal jong lesers laat skaterlag vir Klits se avonture, maar ook laat naelsbyt van spanning. Die boek is ‘n fantasieverlekkering en kan aanbeveel word vir selflees of voorlees.

Nota: Jy sal moontlik sukkel om Klits Kronkel en die Vlammende Swaard in boekwinkels te kry. Kontak vir Fanie Viljoen of los ‘n boodskap onder indien jy ‘n kopie soek.

Klits Kronkel en die vloek van die Swart Jakkals

Hulle is terug vir nog ’n avontuur: Klits Kronkel, Blitz, juffrou Splinter, Marionetta en Pekel!Klits Kronkel en die vloek van die Swart Jakkals

Nee, wag – iemand is weg . . .

Die ervare privaat speurder Klits Kronkel onderbreek sy vakansie om na Horrelpyp te gaan soek. Maar Klits se probleme word net meer soos sy ondersoek vorder.

Hy moet die Modder-smeer-meer trotseer, terwyl kinders een-een uit die dorpie Floetervoet verdwyn.

Vreemde karakters duik op, soos die meisie met geheueverlies en Vonk, die boogskutter wat gedagtes kan lees.

En intussen begin die vloek van die Swart Jakkals sy slagoffers te eis . . .

Uittreksel

Of nee, wag, ons praat darem nou van dié Klits Kronkel, die man wat daarvan hou om teen drake te veg (al is hulle so bitter skaars deesdae). Klits se vernuftige brein skakel nóóit af nie. Hy is gedurig op die uitkyk vir gevaar in die een of ander vorm.Almal het soms ’n vakansie nodig. Selfs ’n ervare en hoogs bekwame privaat speurder soos Klits Kronkel moet die een of ander tyd vergeet van misdaad en net ontspan . . .

Selfs hier waar hy nou in die blou branders baljaar, kan jy maar weet daar snel ’n duisend gedagtes deur sy kop. Jy kan dit sien aan die rukbeweginkies van sy krulsnor. Ja, selfs daar waar daardie groot brander nou agter hom opwel, analiseer hy, interpreteer hy, memoriseer hy elke klein dingetjie wat om hom aangaan.

En dan breek die brander. Tuimelend, tollend en kragtig. Klits verdwyn in die skuimende massa water. Hy het nooit eens die brander gesien nie, want hy het op die klein dingetjies gekonsentreer. En die brander was, om die minste te sê, enorm.

Terwyl hy spartel vir asem en soek na ’n plek om sy voete te anker, doem iets donkers voor hom in die water op. Klits weet eers nie of hy sy oë moet glo nie. Kan dit wees? ’n Seedraak, hiér? En dit terwyl hy op sy kwesbaarste is?

Sy hand skiet dadelik na sy sy – daar waar sy swaard gewoonlik hang. Maar Klits het vergeet ’n mens swem mos nie met jou swaard nie.

Die seedraak kom nader . . . Klits se hartklop versnel. Wat gaan hy doen? Om hom is ook nie enige rotse wat hy kan gebruik om die draak mee oor die kop te moker nie. Daar is net ’n klein krulstert-seedonkie wat, onbewus van die dreigende gevaar, voor Klits verbyswem.

Soos die seedraak naderkom, sien Klits ’n ry ontblote tande blink. Hy sien die kloue van die draak, die gepunte stert . . .

Asem!

Klits se aandag was só vasgevang deur die seedraak dat hy skoon vergeet het dat hy nog moet asemhaal!

Die malende water van die groot brander het teruggetrek. Aangehelp deur sy effense boepmagie skiet Klits soos ’n kurkprop na die oppervlak. Hy spoeg om die seewater uit sy mond te kry. Sy lyf is soos ’n styfgespande boog.

Klits is nie ’n goeie swemmer nie, maar nóú swem hy. Vinniger as ooit tevore, pylreguit strand toe. Daar waar ’n horde mense verbaas opkyk toe hy begin gil: “Help! Seedraak! See-ee-draa-aak! HE-E-ELP!”

Nou gil almal. Natuurlik het nie een al ooit ’n seedraak gesien nie, maar dit beteken nie daar kan nie so iets wees nie. Daar is mos talle vreemde en verskriklike kreature in hierdie wêreld.

Klits hol oor die strand. Na die plek waar sy huishoudster, juffrou Splinter, oomblikke gelede rustig gesit en kyk het na die poskaart wat Japtrap, Klits se kat, vir hulle gestuur het van haar kattemaai-vakansie. Maar juffrou Splinter is nou skoonveld en Japtrap se poskaart lê vergete langs Klits se swaard tussen die voue van die rooi strandhanddoek.

Die mense gil. Klits kyk oor sy skouer. Een van die draak se liederlike rugvinne het nou net bokant die water verskyn.

Klits sal moet gou speel, voordat die bloed van al hierdie mense vandag op sy hande is. Hy gryp sy swaard en trek dit uit die skede. Tjienk! maak die lem.

Klits hou die swaard voor hom gereed. Nou kan daardie draak maar kom.

En ja, die seedraak is vinnig op pad. Sy swart lyf verskyn ook nou bokant die branders. Klits sluk benoud, maar hy neem hom voor dat niemand sal sien dat hy eintlik ’n bietjie bang is nie. Met afgemete treë stap hy terug water toe. Hy hoor die brulgeluide wat diep uit die draak se lyf kom.

“Slag hom, Klits!” roep iemand op die strand.

“Wys hom wie is baas!” roep nog iemand.

“Waar’s jou swembroek, Klits?” roep ’n bekende stem. Juffrou Splinter s’n.

Klits kyk af. Hy het sowaar heeltemal uit sy swembroek geswem! En nou staan hy hier met slegs ’n swaard aan. Gelukkig sien die mense net sy agterkant. Behalwe die seedraak, wat vir Klits in sy volle . . . uhm . . . glorie sien. Maar sover Klits weet, is drake nie uitsoekerig oor wat hulle slagoffers aanhet nie.

Die hele seedraak is nou sigbaar. Dit lê daar in die vlak water . . . onheilspellend, wagtend op sy prooi.

Nee, wagtend vir die deur aan die kant om oop te gaan.

Die deur?

Het seedrake dan deure?

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top