You are here
Home > Afrikaans > Klou

Klou

’n Superheld met kolle

Klou die luiperd is sommer baie in sy skik. Die mantel wat hy gekry het, lyk nes ’n regte superheld s’n. En wat doen superhelde? Hulle werk is tog om ander te help! Daarom bind Klou die mantel om sy skouers en gaan soek iemand wat hulp nodig het. Ienie, Mienie, Maainie en Mou is vier meerkatte wat vir ’n arend vlug. “Ek moet die meerkatte gaan red!” sê Klou hard vir homself. “Ek is Super-Klou!” Maar sal Klou die meerkatte kan red … of sal hulle hóm op die ou end moet help?


 

Uittreksel

“Snipper, nee!” roep Klou toe sy sussie van ’n groot klip af op hom spring. ’n Pyn skiet deur sy luiperdlyf. “Eina-a-a!”
“Versigtig, julle twee,” waarsku sy ma.
“Dis Snipper, Ma!” sê Klou.
“Ek gee nie om wie se skuld dit is nie. Ek praat met julle albei,” grom sy ma.
Klou kry sommer lus om te huil. “Jy maak my altyd seer, Snipper!” sê hy sag vir sy sussie.
“Ek speel net,” sê Snipper. Dit lyk of sy lekkerkry.
“Dis nie speel nie. Speel maak nie seer nie,” sê Klou.
“Ag, jy huil altyd vir alles,” sê Snipper. “Eendag gaan jy nog al jou kolle afhuil. Sies, ’n luiperd sonder kolle!”
Klou skrik toe hy dit hoor. Kan dit rêrig gebeur? Kan ’n luiperd sy kolle afhuil? Sy ma het dít nog nie vir hulle geleer nie.
Snipper wikkel haar neus. Sy kyk hom aan asof sy alles van alles weet. Maar sy is net so oud soos hy, weet Klou. Sy kan beslis nie alles weet nie.
Klou is sommer vies vir haar. Hy rol om en kom regop op sy pote. Hy skud die stof van sy pels af. Sonder om een keer om te kyk na Snipper, draf hy weg.
Klou is bly hy kan wegkom van sy sussie af. Nou kan hy doen wat hy wil. Bo in die bome hoor hy voëls kwetter. Veraf hoor hy ’n leeu brul. Hy hou nogal van die lewe hier in die wildtuin. Dis net jammer hy het ’n mislike sussie. Hy hou niks van haar nie.
Die lang gras maak oop voor Klou. Anderkant die gras loop ’n grondpad verby.
“Pasop vir paaie,” sê sy ma altyd.
Klou kyk eers regs, toe links, toe weer regs voordat hy oor die pad loop.
Hy is skaars anderkant toe hy iets hoor. Dit brul, maar nie soos ’n leeu nie.
Hy wip weg tussen die gras. Angstig gaan kruip hy agter ’n miershoop weg. Is dit dalk weer Snipper wat hom probeer bangmaak?
Die brul kom nader. Toe sien Klou die kar! Sy oë rek.
Hy hoor nou stemme ook. Nie dierstemme nie. Mensstemme.
Klou is nuuskierig, maar ook versigtig. Net sy oë en ore steek agter die miershoop uit.
Dit klink of die mense baklei.
“Ma, sê vir Kobus hy moet my pop se kombers teruggee!” roep ’n meisie in die kar.
“Ek het nie haar kombers nie,” sê ’n seun.
“Is, jy het!”
“Issie!”
Die volgende oomblik skiet! ’n pienk ding by die karvenster uit.
“Hei! Dis my popkombers. Jy het hom uitgegooi!” gil die meisie. “Oukei, Kobus, dan het jy ook nie meer jou superheldstrokie nodig nie!”
Toe skiet! nog ’n ding by die venster uit. Dit wapper grond toe.
Die kar verdwyn af in die pad. Klou kyk dit agterna.
Hy frons. Wat het nou gebeur?
Toe draai hy sy kop na die twee goed wat op die skouer van die pad lê. Hy het nog nooit so iets gesien nie.
“Popkombers” en “superheldstrokie” – dis wat die mense dit genoem het.
Nuuskierig gaan hy nader. Maar nie té naby nie. ’n Luiperd moet altyd versigtig wees, dis wat sy ma altyd sê.

 

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top