Koue Rillings Afrikaans Boeke vir Kinders by Fanie Viljoen - 1st January 201316th October 20230 Hoe gou word jy bang? Ontmoet die Rotman met sy verslete jas en sy oog wat lyk soos ’n ou wond wat lankal gesond geword het … Kom ry saam op ’n baie spesiale mallemeule, waar die kinders se gille van plesier snags omsit in angsgille … En vind uit wat gebeur as jy laatnag in Slangrivier gaan swem … In hierdie boek kan jy kennis maak met drie van die bekendste Afrikaanse grilskrywers se wildste nagmerries. Hierdie versameling grilstories sal jou koue rillings gee! Koop Die boek is tans uit druk, maar kontak fanieviljoenbooks@gmail.com – dalk is daar nog ‘n enkele kopie beskikbaar. Klik en koop die e-boek by Amazon. Klik en koop die e-boek by Lapa Uitgewers. Uittreksel Die Fantoom van die Skool Jodi voel in die donker vir die stoorkamer se ligskakelaar. Maar sy kry dit nie. Dit ook nog! dink sy. Sy tuur die donker in, maar weet sy kyk eintlik net vas in ’n gordyn wat ’n paar tree van haar af ’n draai maak dieper die spookhuis in. Met die selfoon se flou lig voor haar uitgestrek, gee sy die eerste tree. Die selfoon gooi bewerige skadu’s teen die dak en gordyngang. Iewers in die spookhuis hoor sy iets roer. Sy loop stadiger. Probeer dink wat dit kan wees. Sy het sekerlik verkeerd gehoor. Hier is niemand meer nie. Om die eerste draai van die gang. Die plankvloer kreun saggies onder haar voete. Dan, skielik, doem ’n wit lyf voor haar op. Jodi se asem ruk en die selfoon glip uit haar natgeswete hand. Die lig doof toe die selfoon die vloer tref. Jodi staar in ongeloof na die vloer, dan kyk sy weer op en besef nou eers dat die wit ding net een van die spookpoppe was. Niks om voor bang te wees nie. Sy buk grond toe en vee met haar hande oor die growwe houtvloer. Toe sy haar selfoon weer kry, housy dit teen haar bors en sug. “Dankie tog!” prewel sy. Sy druk aan ’n paar knoppies, maar weet dadelik die selfoon het iets oorgekom. Die liggie kom aan, maar dit brand nou flouer as vroeër. “Ten minste is daar ’n lig …” praat sy haarself moed in. Sy loop weer verder. Soekend. Waar is daardie flippen masker? Sy wil net hier uitkom. Die plek gee haar die ritteltits. Sy loop versigtig verby ’n kamtig afgekapte arm, ’n opgestopte uil en ’n groot ysterhok waarin een van die kinders vanaand gesit het. Toe haak haar voet vas. Save Share on Facebook Share 0 Share on TwitterTweet Share on Pinterest Share 0 Share on LinkedIn Share Share on Digg Share 0 Total Shares