You are here
Home > Afrikaans > Offers vir die Vlieë

Offers vir die Vlieë

Die Mag is een, die Mag is alles.

“Op sewentien, toe ons by Opleidingskamp Alpha rapporteer, het ons elkeen ons eie S13 gekry. Daardie dag, toe ek my hande op die swart metaalhuls van die geweer lê, het iets in my doodgegaan. Ek het dit net nie toe al besef nie.”

Dertig soldate kry van kleintyd af intense weermagopleiding in ’n distopiese staat.

Ses jong soldate, ontneem van hul menslikheid en hulle jeug, bly oor en word ontplooi na die Front.

Een van hulle vermoor hul seksieleier.

Almal ontken hulle is skuldig.

Wie van hulle lieg?

Koop die boek

Offers vir die vlieë is beskikbaar in alle groot boekwinkels, of klik hier om dit aanlyn te koop.

Koop by Amazon.

Koop by Lapa.

Koop by Graffiti Boeke.

Wenner

Offers vir die Vlieë het drie pryse ingepalm:

  • Wenner van die Lapa-jeugromankompetisie (2019)
  • ATKV-kinderboektoekenning (graad 8 – 10) (2021)
  • Scheepersprys vir jeuglektuur (2022)

Leesgids

Offers vir die Vlieë se leesgids is geskryf deur dr Dewald Koen en sal binnekort by Lapa uitgewers beskikbaar wees.

Kommentaar van beoordelaars

“Die verhaal is ‘n tipiese psigologiese roman wat ressorteer onder Distopiese fiksie en Grensliteratuur en dus ‘n vernuwende werk in Afrikaanse jeugliteratuur. Offers vir die vlieë kan vergelyk word met ander distopiese romans soos Hunger Games, The handmaid’s tale, Fahrenheit 451, Nineteen Eighty-Four, Brave New World.”

“Die lees van hierdie roman was ‘n verfrissende en uitdagende avontuur.”

“Hierdie is ʼn uitdagende roman, goed geskryf en goed inmekaargesit”

“‘n Distopiese oorlogsverhaal wat krities is en nie doekies omdraai oor die wreedheid en sinneloosheid van oorlog en geweld nie. Dit voel soos ‘n eerstehandse vertelling van hoe geweld geweldadigers van ons almal maak.”

“Hierdie verhaal is myns insiens een van die beste wat ek in ‘n lang tyd in Afrikaans gelees het. Die geweld is baie grafies en daar is geen hoop of uitkoms in die verhaal nie, wat ‘n mens kan laat vra, is dié dan ‘n jeugroman? Ons as mens wil nie graag herinner word aan die feit dat ons kan wreed wees nie. Ons wil graag altyd net die goeie voetjie voorsit. As inaggeneem word dat skole wel boeke soos 1984 of Catch 22 as voorgeskrewe werke behandel, dan is daar beslis ‘n plek daarvoor.”

Resensies

Lees Jonathan Amid se resensie in Rapport.

Lees Estelle Kruger se resensie-essay oor Offers vir die Vlieë

Die volledige resensie kan ook as ‘n handleiding by die lees van die boek gebruik word.

 

Jonathan Amid skryf die volgende oor Offers vir die Vlieë:

“Die wenner van Lapa se Jeugroman kompetisie in 2019. Waardige, waardige wenner. Ek het reeds geweet Fanie Viljoen is ‘n skrywer wat besonders diep dink, wat telkens voor sy eweknieë daarin slaag om die mees relevante en kontemporêre temas met soveel byt en spierkrag te ontsluit en te ontgin. Iemand wat sy karakters laat léwe en in soveel dimensies vorm laat aanneem. In Offers vir die vlieë brand Viljoen sy hoofkarakter Eliam se reis in jou langtermyngeheue in. Die prosa is nommerpas, dig verweef, gereeld met ‘n angel en ‘n beeld wat talm. Lees hierdie ontsettend knap roman, wat om ‘n opvolg smeek, om te sien hoe hierdie fiksie vir jong volwassenes ook kers kan vashou by die beste werk van die skrywer self, maar ook ‘n nuwe standaard stel vir toekomstige projekte. Ek was vasgenael, oorrompel, en beïndruk deur elke faset van hierdie vyfster-roman. Concept meets execution, al die pad.

Lesers, skrywers, dít is hoe dit gedoen word. Uitmuntend!”

Hoe is die boek geskryf?

Lees meer oor Offers vir die Vlieë.

Uittreksel

1
DIE EEN DING WAT AAN JOU
ALLEEN BEHOORT

Op aande soos hierdie kom die slaap nie maklik nie. Oop oë lê ek op my smal enkelbed met die dun spons matras. Doodstil in die donker. Nie eens die metaalpote van die bed kraak nie. Af en toe flits ’n hommeltuig se rooi lig van buite af oor die plafon. Veraf klink geweerskote en die gerammel van weermagvoertuie op. Nader hoor ek hoe een van die ander ouens in die barak liggies snork. Ek wens ek kan ook wegraak in ’n salige droom, maar my brein bly paraat.

Paraat.

Daar is nou vir jou ’n woord.

“Wees paraat, troep!” Hoeveel keer het Torsten tydens die opleiding so op ons geskree? Sersánt Torsten, moet ek sê. Ons seksieleier. “Los jou slap gat geit!”

“Maar ’Sant.”

“Lyk dit vir jou of ek lus het om ’n diep en betekenisvolle gesprek met jou te voer, troep?”

“Nee, ’Sant. Maar ’Sant, ek kan nie meer nie, ’Sant,” het ek een só ’n keer uitgeroep, worstelend deur ’n modderveld met ’n teerpaal wat my met elke tree nader aan my knieë dwing. Totdat die gewig van die paal my uiteindelik neervel en my op pad ondertoe nog ’n laaste vernederende hou teen die rug gee sodat ek in die swart modder neersyg.

“Staan op, Eliam!” skree Torsten bo my.

Spoeg maak drade in my mond. “Ek kan nie, ’Sant.”

“Jy laat jou makkers in die steek. Is dit wat jy wil doen?”

“Nee, ’Sant.”

“Hoekom lê jy dan daar en hyg soos ’n inkontinente os? Is jy ’n swakkeling?”

“Nee, ’Sant.”

“Ek verbrysel ’n vrotterd. Op jou pote. Nou!”

“Ek kan nie.”

“Jy kan as ek sê jy kan.”

“Ek kan nie.”

“Moet ek jou uit die Program gooi?”

“Nee, ’Sant.”

“Dit sal my die grootste plesier verskaf.”

“Asseblief nie, ’Sant.”

“Wat? Gun jy my nie ’n bietjie genot nie, Eliam?”

“Ek … uhm … Natuurlik, ’Sant, maar …” Ek stotter soos ek die regte antwoord probeer kry.

“Idioot!” Torsten spoeg op my. “Lig jou skelet, vat daai donnerse paal en hardloop.”

“Ek kan nie, ’Sant.”

“Ou beesblaas, jou gat gaan ek vandag op meer as twee maniere skop. Dit is maar net die begin.” Sy stewel land op die paal op my rug. My gesig druk dieper die modder in. Van die koue natheid stu in my neus op. My mond val oop soos ek na asem hyg. Dit is ’n fout, want nog modder beland in my mond. Dit peul verby my tande in my keel af. Meteens stik ek. Desperaat lig ek my kop. My bors ruk. Ek probeer die modder uitspoeg. ’n Boog braaksel skiet geel saam met die modder en slym uit. Van die surigheid spat oor my gesig. Dit brand oor my vel.

Torsten se spotlag dreun oor die veld.

“Help tog hierdie poephol,” sê hy vir die ander ouens wat heeltyd nog stil staan en toekyk.

Een ou tree vorentoe. Diesel. Met sy eie paal steeds op die skouer gebalanseer, kom buk hy langs my. Sy los hand skuif tussen my blaaie en die swaar teerpaal in. Vat dit stewig vas. Hup, maak hy ’n keelgeluid, lig die paal dan manalleen van my af en smyt dit eenkant toe. Voordat ek vir hom kan dankie sê, stap hy weg.

Stadig sukkel ek regop. Al die ouens se oë is op my. Verag hulle my, of kry hulle my jammer? Ek kan nie seker wees nie. Op sewentien lê die onsekerheid by tye nog vlak onder jou vel. Dalk weet hulle dit kon met enigeen van hulle ook gebeur het. Maar dit het nie. Dit het met my gebeur.

Torsten kom meteens nader, gryp my aan die nek. “Ek en jy gaan praat as ons hier klaar is,” sis hy in my oor.

Ek knik. Ek het myself hier in die steek gelaat. Ekhet die Mag in die steek gelaat. Teleurgesteld laat sak ek my oë en kyk na die poel braaksel by my stewels.

Later daardie middag het Torsten my teruggeneem veld toe. Dit was net ek en hy. Die braaksel het steeds daar gelê. Nou al donkerder, soos dit met die modder gemeng het.

“Drink dit!” het Torsten beveel.

“ ’Sant?”

Die woord was nog nie koud nie, toe skop hy my voete onder my uit. Trap my kop in die moddergeel vloeistof in.

“Drink!”

Dit was maar een insident, een dag aan die begin van ons opleiding. Dit was die dag toe ’n fyn stemmetjie in my agterkop gevra het: Is dit wat hier gebeur, reg?

Ek het daardie stemmetjie onderdruk. Wie is jy, Eliam, om so iets te durf vra? Skaam jou!

Sedert daardie dag sloeg ek nie meer in die modder as ons met die teerpale, klippe of swaargelaaide rugsakke hardloop nie. Nou is dit omtrent ’n jaar later. My lyf het verander. Dit het gespierd geraak, die houe gevat wat Torsten uitdeel, want hy – Torsten – het nie verander nie.

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top