Ons laaste legendariese somer Afrikaans Boeke vir Skole Boeke vir Tieners Jonger Tieners by Fanie Viljoen - 30th September 202430th September 20240 “Besef julle hierdie Desember is legit ons laaste ordentlike somer-skoolvakansie?” Tobi, Rowan en Dean besef matriek gaan rof wees. Die onderwysers deel alreeds huiswerk uit en dis nou eers die einde van graad elf. Daarom moet hulle hierdie laaste Desember-vakansie legendaries maak. Hulle sit af na Vleesbaai – ja, daar is rêrig so ’n plek – en maak ’n paar reëls vir die vakansie: Geen bakleiery nie. Almal doen alles saam. En geen meisies nie. Dis egter waar dinge skreeusnaaks ontspoor … ’n Legendariese misverstand, legendariese ramp, legendariese surfing, legendariese meisie, en dalk ’n legendariese soen – dit alles maak ’n legendariese somer. Koop Die boek is besikbaar by alle goeie boekwinkels en aanlyn. Klik hier en koop by Takealot. Kik hier en koop direk by Lapa Uitgewers. Klik hier en koop die e-boek by Lapa Uitgewers. Klik hier en koop die boek by Loot. Klik hier en koop die boek by Graffiti Boeke. Leesgids Die leesgids word in 2025 gepubliseer. Uittreksel “Hoekom kry jy ’n prys, boetie?” vra Lita in die kar toe my pa straataf jaag. Een van my pa se weird, ou bands speel op Spotify. Nirvana of iets. Ek kners bietjie op my tande. Dit klink of die ou in ’n geroeste spyker getrap het. “Was jy slim?” vra Lita ongestoord. “Nee, uhm, dis vir iets anders,” antwoord ek. “Watse iets anders?” Sy wikkel nader aan my. Skuif haar arms sag in myne. Vanaand het sy weer haar feetjierok aan. Lita, die laatlam. Lita wat diep in my hart gekruip het. Lita wat altyd vrae vra. “Hoekom?” hoor ek honderd keer op ’n dag. Hoekom slaap jy nog? Hoekom speel jy met ’n swaard? Hoekom stink jou kamer so? Gmf! “Ek kry sterretjies op my kop as ek slim is,” sê sy nou en leun teen my arm aan. “Hoërskool is anders, Lita,” verduidelik ek. “Mens kry nie sterre teen jou voorkop nie.” “Dan wil ek nie eendag soontoe gaan nie,” sê sy nukkerig. “Natuurlik sal jy. En dan kry jy ’n boyfriend. Hy sal jou sterre in jou oë gee.” “Het jy ’n boyfriend in die hoërskool gekry?” vra sy en frommel haar neus. “Nee!” stik ek. “Is jy simpel?” “Ook nie ’n girlfriend nie,” spot my ma van die voorste sitplek af. Ek skuif ongemaklik op die sitplek rond. “Hoekom het jy nie ’n girlfriend nie?” vra Lita. Ek trek my mond. Meisies maak my senuweeagtig. Maar ek praat nie daaroor nie. “Is jy bang vir hulle?” vra sy. “Nee, uhm, ja, uhm … Ag, vra iets anders.” Wil jy verder lees? Kry Ons laaste legendariese somer by goeie boekwinkels en aanlyn. Share on Facebook Share 0 Share on TwitterTweet Share on Pinterest Share 0 Share on LinkedIn Share Share on Digg Share 0 Total Shares