You are here
Home > Afrikaans > Ouma Mollie

Ouma Mollie

Ouma Mollie is die grootste moeilikheidmaker op Seeperdjiebaai.

Ouma Mollie en die mensvreter

DIE LAASTE EEN IN DIE SEE IS ‘N BOLLETJIE SNOT! roep ouma Mollie.

Haar naam is Mollewania Mollewiekus Nagtegaal. Maar jy kan haar sommer net ouma Mollie noem – die grootse moeilikheidmaker op Seeperdjiebaai.

Gelukkig hou Nina haar ouma (gewoonlik) uit die moeilikheid. Vandag is egter nie een van daardie dae nie.

Dit begin toe ouma Mollie soos ‘n verdrinkende meermin in die bad lê. Gou laai sy vir Nina en Blapsie, die basterbrak, in haar kar, Spokie. Hulle sit af see toe. Dis waar hulle in GROTER moeilikheid beland, want ouma Mollie wil mos leer surf.

En sy wil die dolfyne voer.

En … Nee, wag, jy moet maar self lees wat TOE gebeur.

Ai, as ouma Mollie net geluister het toe Simon Jantjies vir haar waarsku dat daar ‘n HAAI in die water is. Oepsie! Die arme haai …

Hierdie boek sal jou uit jou maag uit laat lag en jy sal dol wees op die kleurvolle illustrasies. Johann Strauss is die talentvolle illustreerder.

Leesgids

Ouma Mollie kan nou na jou klas toe kom! Daar is gidse vir Ouma Mollie en die Mensvreter en Ouma Mollie gaan terug skool toe.

Klik hier vir haar e-leesgids.

Klik hier vir haar papierleesgids.

Koop

Ouma Mollie en die mensvreter is beskikbaar in die meeste groot boekwinkels asook aanlyn.

Klik en koop die boek by Takealot.

Koop by Amazon.

Koop by Graffiti Boeke.

Koop by Lapa uitgewers.

Daar is ook ‘n e-boek beskikbaar:

Amazon

Lapa

Ouma Mollie gaan terug skool toe

Ouma Mollie is terug … O brekfis!

Sy onthou een middag sy het al baie goed vergeet. Daarom is dit tyd om terug skool toe te gaan – saam met Nina en Blapsie, haar hond.

Op ouma Mollie se eerste skooldag pluk sy haar snaakse ou skoolrok en ‘n paar silwer tekkies aan. Tydens die les leer sy die juffrou ook ‘n paar nuwe dinge. Een daarvan: Tekkies gee mens knoptone, daarom moet jy hulle in die klas uittrek – selfs al stink jou voete VREESLIK!

Toe ouma Mollie (per ongeluk) die graadeentjies se nuwe juffrou word, is daar GROOT moeillikheid. Maar nie so groot soos toe sy …

Nee, wag, lees maar self wat ouma Mollie NOG aanvang.

Koop

Ouma Mollie gaan terug skool toe is beskikbaar by goeie boekwinkels en aanlyn.

Klik en koop die papierboek by Lapa uitgewers.

Koop die e-boek by Amazon.

Koop die e-boek by Lapa uitgewers.

Koop die papierboek by Loot.

Koop die papierboek by Graffiti boeke.

Leesgids

Ouma Mollie kan nou na jou klas toe kom! Daar is gidse vir Ouma Mollie en die Mensvreter en Ouma Mollie gaan terug skool toe.

Klik hier vir haar leesgids.

Uittreksel uit Ouma Mollie en die mensvreter

1 – Ninja van Seeperdjiebaai

Wat maak jy as jy niks maak nie? Jy gaan kuier vir ouma Mollie, natuurlik.

Dis wat Nina Nagtegaal een sonskynmiddag besluit. Haar pa het gaan gholf speel. En haar ma is weg na die VVV: die Vervelige Vroue bo Veertig. Dis wat Nina hulle altyd noem. Maar dit staan eintlik vir Vroue vir ’n Veilige Vakansiedorp.

Hierdie vakansiedorp is Seeperdjiebaai — die plek waar Nina-hulle bly.

Daar gebeur maar min gevaarlike goed in Seeperdjiebaai. Die grootste gevaar is seker ouma Mollie. Ja, dis moeilik om te glo: ’n Amper doodgewone ouma is dalk die grootste moeilikheidmaker op die dorp. Dis ook hoe dit vandag sal wees.

Of dalk nie …

Nina sal nog sien.

Sy hop van haar bed af. Haar skoolboeke wip ook af. Hulle land netjies in haar tas.

“BOE-YAA!” roep Nina tevrede. Sy pluk gou ’n borsel deur haar hare. Later gryp sy haar sonhoed en hardloop buitetoe.

Die son skuif agter ’n wolk uit toe sy op haar fiets spring. So vinnig as wat haar bene kan trap, ZIRTS sy straataf. Dan om ’n draai. En om nog een — tot by ouma Mollie se huis.

Geen mens kan ouma Mollie se huis miskyk nie. Vakansietye vergaap mense hulle aan die plek met die vrolike blou mure. ’n Vet walvis is teen een van die mure aan die voorkant geverf. Bo-op die dak is daar ’n ou roeiboot. En op die roeiboot sit daar altyd drie of meer seemeeue. Hulle raas partykeer so vreeslik, ’n mens sal dink die huis behoort aan hulle.

Stringe feetjieliggies en skulpe hang van die balke op die stoep. Dis hier waar ’n groot rooi rusbank ook staan. Die bank is al ’n bietjie stukkend, maar jy sien dit nie. Die kleurvolle lappieskombers steek die gate weg. Die stoep is die lekkerste kuierplek. Dis so knus tussen al die potplante. Veral as ouma Mollie vir jou ’n glas tuisgemaakte gemmerbier bring.

Dis nog ’n ding van ouma Mollie: Sy het altyd yskoue gemmerbier met rosyntjies. Hulle tuimel op en af soos duikbote in die glas. Nina stoot die tuinhekkie met die geel sonneblom oop.

“Blapsie!” roep ouma Mollie uit die huis. “Gaan kyk. Daar is iemand by die hek.”

Nina stoot haar fiets met die paadjie op na die huis. ’n Paar goed kletter en klap binne-in die gebou. Dan vlieg ’n hondjie by die voordeur uit. Blapsie! ’n Basterbrak met net ’n klein bietjie minder moeilikheid in hom as ouma Mollie.

“Ninja-a-a!” roep Blapsie.

O ja, dis nog ’n ding. Blapsie praat. Maar net Nina verstaan hom. En hy noem haar Ninja. Nie Nina nie. Sy het hom al hoeveel keer reggehelp.

“Hei, Blapsie!” roep Nina terug. Sy frommel Blapsie se ore. Krap sy kop, sy lyf. Hy wikkel al om haar voete. Sy stert is soos ’n torpedo.

WOER-WOER-WOER!

“Het jy kom kuier, Ninja? Ons het vanoggend ’n spinnekop gekry. En ’n ou tennisbal. En ’n bottel konfyt het van ’n rak afgeval. En … ”

“Stadig nou, Blapsie,” keer Nina hom. Hy sal aan- en aangaan oor alles wat vandag en gister en laasweek gebeur het. “Kom ons gaan in. Waar is ouma Mollie?”

“In die badkamer. Sy toets iets.”

“Watse iets?” Nina moet dalk nie vra nie.

“Haar broek, Ninja!” sê Blapsie. Hy blaf en trek sy gesig. Dit maak Nina nog nuuskieriger.

Skielik spring Blapsie om en vlieg weer die huis in. Hy skiet reguit badkamer toe.

Dis waar Nina vir ouma Mollie kry.

Blapsie was doodreg oor die broek.

Of soort van.

 

Wil jy verder lees? Kry Ouma Mollie en die Mensvreter in goeie boekwinkels en aanlyn.

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top