You are here
Home > Afrikaans > Pieksel

Pieksel

Wat doen jy as jy vreeslik alleen is?

Dalk moet jy soos Vossie de Vos maak. Hy het geen vriende nie. Sy pa en ma werk altyd laat. En sy tuisskoolonnie, mevrou Moerdyk, is altyd knorrig. Sy pa-hulle wil nie eens vir hom ’n troeteldier kry nie! Katte piepie orals en sy pa is superallergies vir honde.
Maar dan, op ’n dag, besluit Vossie om ’n plan te maak.
Nooit weer sal hy alleen wees nie.
Al wat hy moet doen, is om vir homself ’n vriend te bou …

Pieksel is vol pret en avonture. Enige kind wat al ooit alleen was, sal hierdie oulike robot as vriend wil hê!

Pixel is also available in English.

Onderwysgids

Klik hier en laai ‘n gratis leesgids vir Pieksel af.

Pieksel Onderwysersgids

Onderwysers: Indien jy Pieksel in die klas wil gebruik, plaas gerus ‘n bestelling op Klaskameraad, of stuur ‘n e-pos aan hbarnard@penguinrandomhouse.co.za

Koop

Pieksel is beskikbaar by alle goeie boekwinkels, of koop dit aanlyn.

Koop die boek by Takealot

Koop die boek by Loot.

Koop die e-boek by Amazon.

Koop die e-boek by Lapa Uitgewers.

Koop die e-boek by Takealot.

Good news!

Pieksel is also available in English as Pixel. There is an audio book of Pixel on Audible.

Videos

Kyk hoe een van die illustrasies in Pieksel gemaak is.

Hier is ‘n lekker idee vir die klaskamer: maak julle eie robotte. Dis presies wat die graad 4-leerders van Melkbosstrand Privaatskool gedoen het. Kyk hoe oulik is hulle robotte.

Luister na ’n voorlesing

Klik en luister na ‘n uittreksel uit Pieksel.

Idee vir die klas: Onderwysers kan die voorlesing as ‘n luisteroefening gebruik.

Uittreksel

1
Vossie de Vos se groot alleen



In ’n buurt in die stad waar mense agter hoë mure bly, staan ’n groot, groot huis op ’n groot, groot erf.

En in die groot, groot huis op die groot, groot erf bly ’n seun met ’n klein, klein stem en ’n kleiner hart.

“Wanneer kom Ma-hulle nou huis toe?” vra Vossie de Vos sag. Benoud kyk hy na sy ma se beeld op die selfoon se skerm. Hy trek sy vingers deur sy rooi hare. Dan skuif hy sy bril terug op sy neus.

“Ons is ’n bietjie laat, Vossie,” sê sy ma. Sy krap deur papiere op haar lessenaar. “Ek en Pappa werk nog.”

“Maar ek is alleen,” sê Vossie.

“Mamma weet. Jy het mos al baie alleen by die huis gebly. Bestel solank vir jou kos. Ons sien jou later. Tatta, my skat!”
Vossie wil nog keer. Maar sy ma se beeld verdwyn van die skerm af.

Lank sit Vossie op die stoel langs die voor deur. Sy bene is opgetrek teen sy lyf. Sy oë beweeg oor die huis. Die groot portaal. Die hoë trappe. Die sitkamer, links. Die studeerkamer, regs. Doer af in die gang is die kombuis.

Alles is stil in die massiewe huis. Doodstil.

Vossie sug.

Sleepvoet stap hy TV-kamer toe. Daar speel hy ’n rukkie TV-speletjies. Later bestel hy ’n pizza. Sy pa-hulle werk
elke dag laat. Daarom is sy pa se bank-inligting op Vossie se selfoon gelaai. Dis waarmee hy nou vir die pizza betaal.

Uiteindelik wip hy van die bank af. Hy gaan haal sy vliegtuig in die kamer. Dit is sy nuutste speelding. Jy beheer dit met ’n program op jou selfoon.

Vossie het die vliegtuig al uitmekaar gehaal om te sien hoe dit werk. Hy haal gereeld goed uit mekaar. Dan probeer hy dit weer aanmekaar sit. Dis sy stokperdjie. As hy vashaak, gaan soek hy op die internet vir hulp.

Vossie maak die huis se swaar voordeur oop. Hy stap met die een-en-twintig trappe af na die tuin. Bo hom dreun die wolke. Dit gaan seker reën, maar hy gee nie nou om nie. Hy skakel die vliegtuig aan. Met sy selfoon laat hy dit stadig opstyg. Die knoppies op die foon beheer elke beweging.

Hy vlieg links om ’n boom.

Dan regs om ’n tuinbankie.

Oor die visdam, oor die swembad en weer terug.

Meteens hoor hy iemand van die hek af roep: “Pizza! Het jy ’n pizza bestel?”

Die stem trek Vossie se aandag af. Toe hy weer sien, zoem sy vliegtuig reg in ’n boom in. Daar gaan hang dit aan een van die takke.

“Hei, ou!” roep die pizzaman weer. “Maak gou, die pizza word koud. Ek moet ander ook gaan aflewer. Ek het nie heeldag tyd nie.”

Vossie draf na die reuse-hek met die krullende yster.

Die pizzaman druk die boks in sy hande. Haastig spring hy op sy motorfiets. Vossie wil nog ’n bietjie met hom praat. Of ten minste net dankie sê. Maar die pizzaman trek met ’n vaart weg en verdwyn af in die straat.

Daar staan Vossie by die hek – alleen met ’n koue pizza in ’n boks. Hy kyk straatop en straataf of daar nie ander mense is nie. Maar hy sien net hoë mure en groot hekke. Dit voel amper of hy alleen in die hele wye wêreld is. En toe hy weer sien, begin dit nog reën ook.

 

Koop

Pieksel is beskikbaar by alle goeie boekwinkels, of koop dit aanlyn.

Koop die boek by Takealot

Koop die boek by Loot.

Koop die e-boek by Amazon.

Koop die e-boek by Lapa Uitgewers.

Koop die e-boek by Takealot.

 

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top