You are here
Home > Tuis > Vir Jou Skoolprojek

Vir jou skoolprojek

Moet jy ‘n skoolprojek oor ‘n skrywer doen?

Hierdie inligting oor Fanie Viljoen sal jou help!

Waar is Fanie Viljoen gebore?
Welkom

Wanneer is Fanie gebore?
2 Januarie 1970 (Sjoe, hy was amper ‘n Nuwejaarsbaba!)

Waar het Fanie skoolgegaan?
Dagbreek Laerskool (In Welkom)
Goudveld Hoërskool (In Welkom)

Wanneer het Fanie Matriek geskryf?
1987

Wat as sy gunstelingvak op skool?
Kuns

Wat is Fanie se ander kwalifikasies?
N6-sertifikaat in grafiese ontwerp (Welkom Kollege) 1995
BA graad in Sosiale Wetenskappe (UNISA) 20025

Watter ander werk het Fanie gedoen?
Hy was ‘n kassier by Volkskasbank. (6 maande)
Daarna het hy twee jaar weermagdiens gedoen.
In 1990 het Fanie by Sanlam gaan werk. Hy was 16 jaar by Sanlam.

Wat het Fanie by Sanlam gedoen?
Sy laaste werk was Opleier by Sanlam se Distribusie Akademie.

Wanneer het Fanie begin skryf?
Fanie het goeie opstelle op skool geskryf.
Na skool het hy ernstiger begin skryf toe een van sy kort-kortverhale in ‘n boek Vonkfiksie opgeneem is.
In hierdie tyd het Sarie ook een van sy kortverhale gepubliseer (1999).

Watter boek is eerste gepubliseer?
Slym (2004)

Watter boeke het pryse gewen?
Klik hier is die lys.

Waar kry Fanie sy inspirasie vir boeke?
Idees vir stories is oral om ons. Soms sien jy dit in ‘n winkelsentrum of in ‘n koerantberig. Soms sê iemand iets vreemds, dan word dit die vonk vir ‘n nuwe storie.

Hoeveel boeke is al gepubliseer?
Daar is nogal baie. Hier is die hele lys.

Watter boeke het Fanie geïllustreer?
Slym, Pieksel, Aksieheld Austin, Kaptein Verdwyn, Die groot boek van spoke en grille, Kaptein Hamerkophaai.

Wat is Fanie se gunstelingboek vir kinders?
Daar is vreeslik baie. Hy was mal oor die Pippie Langkous-boeke. Dit was wonderlik om te lees hoe ‘n meisie ‘n hele perd bo haar kop kan optel. Pippie is ook so lekker stout.

Fanie het ook gehou van die Trompie en Jasper-boeke. Die Klein Kaptein-reeks was ook baie goed!

Wat is Fanie se gunstelingboek vir tieners?
Lord of the Flies is een van baie.
In Afrikaans het hy graag boeke van Elsabe Steenberg gelees. Boom, Bomer, Boomste was ‘n gunsteling.

Wat is Fanie se gunstelingboek wat hy self geskryf het?
Dis amper soos om vir ‘n ma te vra wie haar gunstelingkind is. Baie moeilik!

Vir laerskole: Pieksel
Vir hoërskole: Offers vir die Vlieë

Wat is Fanie se gewildste boek?
Dit is moontlik Onderwêreld. Die boek is landswyd by skole voorgeskryf en deur meer as honderdduisend lesers gelees.

Wat doen Fanie as hy nie boeke skryf nie?
Hy lees graag, luister musiek en gaan oefen in die gim. Fanie skilder ook. Hy het die illustrasies in ‘n paar boeke gemaak.

Is Fanie getroud?
Nee.

Het Fanie kinders?
Nee.

Het Fanie as kind gewens hy kon ‘n ander werk doen as hy eendag groot is?
Ja, hy wou ‘n apteker word.

Hoekom skryf Fanie boeke vir kinders?
Daar is nie grense aan hulle verbeelding nie.
Dis ook lekker om weer die kind binne jou te ontdek wanneer jy ‘n kinderboek skryf.

Skryf Fanie ook Engelse boeke?
Ja, Scarred Lions is die eerste boek wat Fanie in Engels geskryf het.
Ander boeke is The Last Time I Died en Jump.

Het hy troeteldiere?
Fanie het drie goudvisse. Hulle is baie soet.

Wat is Fanie se gunstelingpizza?
Enige pizza met hoender op. Maar geen pynappel op die pizza nie!

Wat is Fanie se gunstelingroomys?

Sjokolade

Wat was die inspirasie vir die gedig “Toulopers”?

Ek wou ‘n gedig skryf oor ‘n tiener wat bo sy probleme wil uitstyg.

Wat was die inspirasie vir die gedig “Onthou jy”?

Ek wou ‘n gedig skryf oor al die geweld in Suid-Afrika.

In watter boek verskyn die drama “Die Hottentotsgot en die maan?”

Piekfyn Afrikaans Leesboek, Graad 4, Huistaal – uitgegee deur Best Books.

Is daar ‘n foto van die opvoering van “Die Hottentotsgot en die maan?”

Nee, sover ek weet is die toneelstuk nog nie opgevoer nie. Dit is spesiaal vir die skoolhandboek geskryf.

In watter boek verskyn die kortverhaal “Die Twis”?

Die skool vir rampspoedige talente, saamgestel deur Marieta Nel en uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Watse tipe verhaal is “Die Twis”?

‘n Afrika-volksverhaal of ‘n Afrika-legende.

Vertel my iets wat niemand van Fanie weet nie.
Fanie het sywurms aangehou. Hy het een van hulle op sy tong gesit. Die wurm het amper in sy keel afgeloop!
Op laerskool het Fanie ‘n groot beker vir houtwerk gewen.
Op hoërskool het Fanie het ‘n poppekas geskryf en opgevoer. Dit was ‘n riller waarmee hy die kinders in die buurt wou skrikmaak. Ongelukkig het dit nie gewerk nie. Die agtergrondmusiek was ‘n vrolike klavierspel. Luister gou daarna: The Sting.
Fanie se beste vriend op laerskool se naam was Eben.
Fanie was twee keer ‘n kabouter in laerskoolkonserte.

 

Hier is ‘n paar foto’s vir jou projek

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Top