You are here
Home > Afrikaans > Uit

Uit

Brent het ’n meisie … en ’n geheim

Brent is in graad tien. Hy’s gewild. Hy speel rugby. Hy het soort van ’n meisie. En hy is gay. Nog nooit tevore is daar so openlik, eerlik, sensitief en op die man af in ’n Afrikaanse tienerboek geskryf oor ’n seun se stryd om vrede te maak met sy homoseksualiteit nie.

Met Uit bou Viljoen sy eie indrukwekkende publikasielys en die tienerfiksiegenre in Afrikaans positief uit met nóg ‘n verhaal wat ver en wyd gelees moet word. Vele tieners gaan hulle eie stryd hierin weerspieël sien. Duisende meer gaan besef wat hul maats of familielede deurmaak. Families en onderwysers kan insig verkry in die optrede en denkprosesse van seuns en meisies met wie hulle te doen kry.

Coenraad Walters (Litnet – Lees die volledige resensie hier.)

Koop

Die boek is tans uit druk, maar kontak fanieviljoenbooks@gmail.com – dalk is daar nog ‘n enkele kopie beskikbaar.

Klik en koop die e-boek by Amazon.

Klik en koop die e-boek by Lapa Uitgewers.

Laai die gratis studiegids af.

Wenner

Uit is op die IBBY-ererol vir 2015/2016  geplaas. Die boek sal in 2016 saam met die wêreld se beste kinder- en jeugverhale by die internasionale IBBY-kongres in Nieu-Seeland uitgestal word. Daarna sal die uitstalling na groot boekskoue regoor die wêreld reis.

Studiegids

Klik hier om ‘n gratis onderwysgids vir Uit af te laai.

Uittreksel

Swart hare, diepblou oë en ’n kuiltjie in die wang toe hy glimlag. Dis wat in my drome kom spook. Die ou van Redhill. Ek het hom net ’n oomblik lank daar in die ander span se deur gesien voordat hy dit toegemaak het.
Dalk was ek verkeerd. Dalk het hy nie eens vir my gekyk nie.
Of het hy?
Het ons oë ’n ruk lank in mekaar s’n vasgedraai?
Asof daar ’n … wat? ’n Herkenning is? Dalk iets meer?
Vrek, nee!
Ek word natgesweet wakker. Die beddegoed is om my lyf gekoek. Ek maak myself los en gaan sit regop op die rand van my bed.
Die ou se beeld bly voor my. Dis soos ’n helder foto wat reg agter my oë skuil. Dis selfs daar as ek my oë weer toemaak.
Nag ná nag gebeur dit nou.
Bedags kan ek glad nie op my huiswerk konsentreer nie.
En ek is bang, want ek weet daar het iets gebeur daardie dag. Ek sê vir myself ek is mal. Dit was niks.
Níks, Brent! Flippit!
En tog bly my hartstem vra: Is daardie waarheid wat ek so vrees besig om my in te haal?

Met Uit het Viljoen ’n omstrede tema as onderwerp vir sy roman gekies – iets wat nog nooit tevore in die Afrikaanse jeugliteratuur gedoen is nie. Die roman is prysenswaardig, aangesien dit homoseksualiteit op ’n objektiewe wyse deur middel van die narratief bespreek. Die nawoord bevat boonop waardevolle inligting vir tieners wat aspekte rondom hul seksuele oriëntasie wil ondersoek.

Dewald Koen (Litnet – Lees die volledige resensie hier.)

Koop

Die boek is tans uit druk, maar kontak fanieviljoenbooks@gmail.com – dalk is daar nog ‘n enkele kopie beskikbaar.

Klik en koop die e-boek by Amazon.

Klik en koop die e-boek by Lapa Uitgewers.

Laai die gratis studiegids af.

Save

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top