You are here
Home > Afrikaans > Vampierhokkie

Vampierhokkie

Vampierhokkie

‘n Storie met BYT!

Hoekom gebruik die skool nie die klaskamers aan die westekant nie?

“OMDAT ALMAL WAT SOONTOE GAAN, STERF!”

Daar is ’n vampier in Laerskool Jakkalsdal. So sê die kinders. Maar is die storie waar? Die hokkiespelers, Zondi, Kayla en Waggie, gaan vandag uitvind. As hulle hierdie spel verloor, word hulle dalk gebyt …

As jy van Monsterrugby gehou het, sal jy mal wees oor Vampierhokkie.

Koop

Vampierhokkie is beskikbaar by alle goeie boekwinkels en aanlyn.

Koop dit aanlyn by Takealot.

Koop dit by Lapa.

Koop die e-boek by Amazon of direk by Lapa Uitgewers.

Uittreksel

14
Nagmerrie

Die Vrydag voor die wedstryd voel Zondi heeltyd gespanne. Sy kan skaars in die klas konsentreer. Op ’n stadium dwaal haar aandag na buite. Deur die venster sien sy iets in ’n donker klaskamer oorkant hare beweeg. Dan sien sy ’n gesig. Wreed en kil.

Die vampier!

Sy hare is agteroor gekam. Hy is bleek soos maanlig.

Zondi snak na haar asem.

Kayla frons. Zondi beduie na die donker klas, maar dis nou stil en verlate. Zondi knip en knip haar oë.

Het sy haar dit verbeel?

Ook pouse dink sy sy sien iets. Dis doer in die westelike vleuel van die skool. Die man dra ’n swart mantel. Dit waai agter hom op toe hy vreeslik vinnig na die skadu van die stoep vlug. Weer die vampier!

Bene was dalk reg. Vampiro kry seker sy planne agtermekaar vir die sportdag.

Daardie middag maak Zondi-hulle die ander houtpenne reg. Die hokkiestok-handvatsels is superskerp gemaak. Hulle gaan koop nog knoffel, sommer’n hele sak vol. Voor Zondi die aand vir haar ma-hulle gaan nagsê, bêre sy die knoffel in die garage, anders stink haar hele kamer daarvan.

Sy sukkel om aan die slaap te raak. Is dit dalk die vampier? wonder sy oor elke geluidjie.

Uiteindelik val haar oë toe. Haar drome is onrustig.

In een droom is Zondi weer by die kis in die stoorkamer. Alleen. Sy het haar hokkieklere aan. Haar hokkiestok is in haar hand. Die agterkant is skerp gemaak. Stadig stap sy na die kis. Lig die deksel op.

Voor haar op die rooi satyn lê die vampier. Vampiro het ’n swart pak klere en ’n wit hemp aan. Sy benerige hande is oor sy bors gevou. Roerloos. Sy gesig glim wit in die kerslig. Hy het swart hare en hoë wenkbroue. Die bloedrooi lippe is net ’n dun strepie.

In die droom lig Zondi die hokkiestok om dit in die slapende vampier se bors in te kap.

Maar skielik spring sy oë oop!

 

Wil jy verder lees?

Kry Vampierhokkie by alle goeie boekwinkels, of koop dit aanlyn.

Koop by Loot.

Koop direk by Lapa Uitgewers.

 

 

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top