You are here
Home > Afrikaans > Wêreld van Wolwe

Wêreld van Wolwe

“Alle kinders is bang vir iets. As hulle sê hulle is nie, lieg hulle.”

Wêreld van Wolwe: Eerste Bloed

Joshua Reinders maak ‘n groot fout. As hy net nie so bang was nie, het sy pa nooit daardie aand ‘n kind geskiet nie. Dis hoekom hulle na Droomhoek moes vlug. Maar ook in Droomhoek teister die vrees hom. Skaduwees is nie net skaduwees nie. Geluide is nie net geluide nie. En mense is nie almal mense nie …

“Almal het geheime,” waarsku Joshua se nuwe vriend Gio. Joshua besef net nie hoe naby daardie geheime aan hom lê nie. En wanneer hy dit uitvind, gaan sy hele wêreld op sy kop keer.

Die weerwolwe wag vir hom …

‘n Fantasieroman vir tieners.

 

Wêreld van Wolwe: Tweede Asem

Joshua Reinders se lewe het ’n wilde draai gegooi. Hy weet nou hy is ’n weerwolf. Maar dit bring ook ’n nuwe probleem: Sy pa mag glad daarvan uitvind nie, want hy jag weerwolwe. Netnou skiet hy ook sy eie seun.

Joshua moet nou leer hoe om die weerwolf-transformasie, sy TWEEDE ASEM, te hanteer. Hy kan nie altyd vir volmaan wag voor hy in ’n weerwolf verander nie. Nie met al die nuwe gevare wat in Droomhoek opduik nie. Soos Gio, sy vorige pel, wat nou saans op hulle huis se dak rondsluip. En die vreemdeling met die donker verlede wat in Droomhoek opdaag.

Bo dit alles pla ’n groter vraag vir Joshua: HOEKOM IS HY ’N WEERWOLF?

Die antwoord lê diep in die Droomwoud.

En Joshua moet dit daar gaan kry.

 

Wêreld van Wolwe: Derde Mag

“Jou pa is ’n moordenaar,” sis Wolfgang. “Hy moor my weerwolwe. Eendag gaan hy jou ook skiet. Wag maar, daardie dag kom.”

Joshua Reinders se lewe is ’n gemors. Hy dra ’n groot geheim: Hy is ’n weerwolf. En sy pa is ’n weerwolfjagter. Die spanning verhoog egter toe Wolfgang Lycaon in Droomhoek opdaag.

Die afskuwelike leier van die Wêreld van Wolwe glo dat Joshua aan hom behoort. En hy wil die seun terughê. Of Joshua gaan sterf.

Maar sal dit werklik gebeur? Joshua sal vir sy lewe moet veg en van Wolfgang ontslae raak.

Daar wag egter nuwe geheime wat Joshua eers moet ontrafel:

  • Hoekom het hy elke keer bloed aan sy hande as iemand in die dorp wegraak?
  • Hoe is sy ma werklik dood?
  • Wat is die derde mag?

 

Kyk ’n lokprent

 

Waar kan jy die boeke koop?

Wêreld van Wolwe is beskikbaar by alle goeie boekwinkels.

Bestel op Amazon: Eerste Bloed, Tweede Asem en Derde Mag.

Koop die boeke direk by Lapa: Eerste Bloed en Tweede Asem en Derde Mag.

Koop die e-boeke direk by Lapa: Eerste Bloed, Tweede Asem en Derde Mag.

Die boeke is ook beskikbaar op Takealot en Loot.

 

Uittreksel uit Wêreld van Wolwe: Eerste Bloed

Hoofstuk 1

Tik-tik-tik.
Joshua Reinders kyk oor sy skouer. Die straat is donker. Niks roer nie. Daar is nie ’n geluid nie, behalwe vir die tiktik-
tik van sy fiets se speke. Die fiets met die pap wiel wat hy nou van die skool af huis toe moet stoot.
Tik-tik-tik.
Hy stap vinniger. Hy hou nie van die donker nie. Soos in niks nie.
’n Rilling glip weer langs sy ruggraat af. Sy oog vang die huise langs die pad. In die daglig sal mens sien hulle is almal netjies en lyk byna dieselfde – asof hulle met ’n koekiedrukker gemaak is. Mooi tuine met blomme. Al die huise geverf. Niks uit plek nie. Maar saans smelt hulle in die donker weg.
Net hier en daar brand darem ’n flou geel stoeplig.
Hy moet by die huis kom. Nou! Hy stap vinniger. Onder sy tekkies knars klein klippies op die teerpad. Dis darem nog ’n geluid in die stil nag.
Sy asem stoot in ’n wolkie voor sy lippe uit.
As hy net sy pa kon bel.
Maar iemand by die skoolkonsert het vanaand sy selfoon gevat. “Vuilgoed!” mompel Joshua sag.
Sy bors trek toeër. Hoe ver is dit dan nog? ’n Hele ent.
Miskien kan hy kortpad deur die veld vat. By doerie huis kan hy dit doen. Dis die laaste huis in die straat voor ’n stuk veld begin. Hy weet daar loop ’n voetpad, maar hy het nog altyd net die lang pad óm die veld gevat.
Soos Rooikappie, dink hy angstig. “Vat jy die kort pad na Ouma se huis. Dan vat ek die lang pad,” het die wolf mos vir haar gesê. Maar hy het haar mislei. Hý het die kort pad gevat, en Rooikappie die lange.
Uiteindelik kom Joshua daar aan. Hy gaan staan. Die veldpaadjie is net-net sigbaar. Sal hy dit neem? Of sal hy, soos altyd, veilig speel en by die teerpad hou?
Hy weet nie. Kan hy nie net een keer in sy lewe ’n vinnige besluit neem nie. Nie so bang wees nie. By die skool lag die kinders al vir hom. Hy skrik sommer as ’n blikkie koeldrank hard oopknak. Of as ’n mossie burp.
Voor hy hom kom kry, het hy ’n besluit geneem: die voetpad. Al is hy vrekbang. Maar hy wil by die huis kom.
Die paadjie kronkel voor hom uit. Hy stap vinnig. Amper struikel hy oor ’n klip! Ja, Joshua, val jou kop oop. Dit sal nou ’n gemors wees. As hy sy selfoon gehad het, kon hy dit gebruik het om lig te maak. Of om musiek te speel om sy senuwees te kalmeer.
Om sy bene girts die gras soos hy aanstryk. Sy palms sweet om die fiets se handvatsels. Hy skuif sy rugsak reg. Binne-in is die simpel konsertklere. Hy wou nie eens aan die konsert deelgeneem het nie. Watter veertienjarige is nog ’n kabouter in ’n konsert?
Hè? Hè?
Puntskoene, punthoed en simpel sykouse!
Hy is sommer weer van voor af vies. Ten minste trek dit sy aandag van die donker af.
Hy stap verder. Verby ’n klomp bome. Dit laat sy hart nog vinniger klop. Sê nou net iets skuil daar agter die dik stamme. Of dalk daar voor waar hy net-net ’n groot klip of ’n ding kan uitmaak.
Skielik haak Joshua se voet vas. Hy slaan neer. Die slag ruk deur sy lyf. Hy stamp sy kop teen die grond. Dis nes hy ’n rukkie terug voorspel het. Sien jy!
Dis nou hoe sy lewe is. Hy kyk na die groot klippe en val oor die dekselse kleintjies.
Sy hand bewe toe hy aan sy voorkop vat. Hy kan sandkorrels op sy vel voel. Maar geen bloed nie, of so dink hy. Dis te moeilik om te sien. Gelukkig voel dit nie nat nie.
Hy sit ’n rukkie net om sy asem terug te kry. Hy kyk verby die asemwolkie voor sy mond op na die hemel. Die sterre is soos speldeprikke teen die donker doek van die nag. Die maan glip agter ’n wolk in. Nuwe vrees kom lê in sy lyf.
Vinnig spring hy op. Hy moet nou by die huis kom. Hy het nou heeltemal genoeg van hierdie dag gehad. Hy wil by sy kamer kom waar dit warm is. Waar al sy kaarte teen die mure opgeplak is en waar hy veilig voel.
Kaarte – dis een van die goed wat alles vir hom beteken. As sy pa ’n kaart in ’n winkel kry, koop hy dit. Partykeer is dit tweedehands: wêreldkaarte, landkaarte, kaarte van stede of cool plekke. Soms teken Joshua dit sommer self. Kaarte wys jou waar jou plek in die wêreld is. Waar jy is. Dis belangrik as jy … nee, dis sommer simpel.
Hy laat sy kop sak. Stap. Verby die groot klip wat hy netnou gesien het.
Hopelik wag daar niks agter die klip vir hom nie.
Op met ’n steilte. Verby ’n lamlendige heining en nog bome. Daar voor sien hy ’n liggie brand.
Die huis. Dis waar sy pa vir hom wag.
Joshua voel sommer hoe dit binne hom ook ligter word. Hy begin draf. Amper daar. Gras ritsel langs sy bene. Klippies knars onder sy tekkies. Die fiets se speke tik-tik-tik.
Dan is daar ’n ander geluid.
Net toe die maan deur ’n wolk breek.
’n Uitgerekte tjank.
Soos ’n wolf wat gelieg het oor die lang pad en die kort pad. ’n Wolf wat nog heeltyd agter jou aanloop.

Waar kan jy die boeke koop?

Wêreld van Wolwe is beskikbaar by alle goeie boekwinkels, of aanlyn.

Bestel op Amazon: Eerste Bloed, Tweede Asem en Derde Mag.

Koop die boeke direk by Lapa: Eerste Bloed en Tweede Asem en Derde Mag.

Koop die e-boeke direk by Lapa: Eerste Bloed, Tweede Asem en Derde Mag.

Die boeke is ook beskikbaar op Takealot en Loot.

 

 

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top