You are here
Home > Tuis > Skryf Jou Eie Boek

Wou jy nog altyd self ’n boek skryf?

Dink net daaraan – jy stap ’n boekwinkel binne en daar is jou storie, jou woorde, jou boek op die rak.

Dit hoef nie meer net ’n droom te bly nie. Jy kan nou ’n daadwerklike stap neem en moontlik jou wens bewaarheid wanneer jy by Fanie Viljoen aanklop vir individuele aandag aan jou skryfwerk.

Wil jy die antwoorde op hierdie vrae kry?

‘n Nuwe skrywer het gewoonlik duisende vrae. Jy is welkom om met Fanie oor enige van die volgende te praat, en selfs meer:

Is jou storie goed genoeg? Hoekom wys uitgewers elke keer my storie af? Hoekom neem dit so lank voordat ek van die uitgewers hoor? Hoeveel woorde moet my manuskrip wees? Skryf ek vir die regte teikenmark? Hoe kan ek my skryfwerk verbeter? Kan ‘n mens voltyds skryf? Watter uitgewers kan moontlik in my manuskrip belangstel? Hoe werk die betaling vir ’n boek? Moet ek illustrasies saam met my manuskrip voorlê? Kan ’n vriendin die voorblad vir my maak? Hoe werk skryfkompetisies? Kan ek vir tydskrifte skryf? Watter lettertipe en spasiëring moet ek gebruik? Moet ek eerder self my boek publiseer? Gaan die uitgewer my geld vra om my boek te publiseer?

Jy kan dalk nog vrae by die lysie voeg.

Het jou manuskrip net ’n laaste hupstoot nodig?

Soms weet jy net jou manuskrip het iets beet, maar uitgewers wys dit steeds af. Die X-faktor ontbreek. Dit maak jou al moedeloos! Wat presies is hierdie X-faktor? Waar lê die fout?

Tydens jou Zoom-sessie kan ons dieper delf en na die probleem soek.

Wat kan jy verwag?

  • Jy en Fanie sal saam dink en beplan aan jou plot. Is jy op die regte spoor met jou storie of moet jy anders na jou verhaal kyk?
  • Julle sal gesels oor die karakters – een van die belangrikste aspekte van jou verhaal.
  • Julle sal saam deur ’n gedeelte van jou manuskrip werk en ’n bietjie daaraan skaaf. (Ongelukkig nie die hele manuskrip nie, tensy dit ’n prenteboek is.)
  • Hy sal aan jou verduidelik hoe hy na manuskripte kyk en jou help om dieselfde met joune te doen.
  • Hy sal aan jou verduidelik hoe die uitgewersbedryf werk.
  • Indien jy ’n boek skryf wat illustrasies benodig, kan julle daaroor gesels.

Met watter soort boeke of skryfwerk kan Fanie jou help?

  • Prenteboeke
  • Kinderboeke (8-12 jaar)
  • Boeke vir jonger tieners
  • Boeke vir ouer tieners
  • Volwasse fiksie
  • Kortverhale

Met watter boeke of skryfwerk kan Fanie nie help nie?

  • Gedigte
  • Nie-fiksie
  • Dagstukkies
  • Sketse
  • Artikels
  • Resensies
  • Dramas
  • Opstelle

Hoe werk dit?

  • Die persoonlike werksessie met Fanie sal via Zoom plaasvind.
  • Julle sal skerms kan deel om die gesprek interaktief te maak.
  • Elke sessie sal 45 minute duur. Indien jy later ’n opvolg gesprek van 30 minute wil reël, is jy welkom.
  • Jy mag die Zoom-gesprek opneem.

Hoe reël jy ’n afspraak?

  • Kontak Fanie Viljoen by fanieviljoenbooks@gmail.com
  • Vertel gerus ’n bietjie van jouself en jou skryfprojek.
  • Laat weet watter tye jou pas.
  • Hy sal ’n afspraak met jou skeduleer en ’n faktuur stuur.

Hoe kan jy vir die gesprek voorberei?

  • Maak seker jy weet hoe Zoom werk. (Daar is talle video’s en inligtingstukke op die internet.)
  • Maak seker jou rekenaar of selfoon se kamera en mikrofoon werk.
  • Werk ten minste drie na vier keer deur jou manuskrip. Probeer dit so goed as moontlik op jou eie skryf, jy en Fanie kan dit dan verder neem.
  • Maak ‘n lysie van jou moontlike vrae.
  • Jy hoef jouself nie op te dollie vir die gesprek nie. Dit is lekker informeel.
  • Wees oopkop, die gesprek gaan dalk vra dat jy met ander oë na jou skryfwerk kyk.
  • Ontspan lekker!

Kostes

Wanneer jy ‘n afspraak maak, sal Fanie vir jou ’n faktuur stuur.

Die kostes is soos volg:

  • R1 000 vir die aanvanklike gesprek van 45 minute.
  • R600 vir ‘n opvolg gesprek van 30 minute.

Vrae en antwoorde

Kan Fanie kinders met hul skryfwerk help?

Hoërskoolleerders en volwassenes is welkom om van die diens gebruik te maak.

Hoeveel mense kan Fanie per Zoom-sessie help?

Een – sodat hy individuele aandag aan die skrywer kan gee, anders as wat die geval by skryfskole is. Ouers is welkom om in te sit by hoërskoolleerders se sessies.

Is daar ’n geldterugwaarborg?

Indien iets onvoorsiens voorval, laat weet asseblief so gou as moontlik sodat die sessie herskeduleer kan word. Geld is nie terugbetaalbaar nie.

Sal Fanie my spel- en taalfoute regmaak?

Nee, maar indien daar ’n groot probleem hiermee is, sal hy jou sê. Die sessie se doel is eerder om jou skryfvaardighede te slyp.

Hoe gou na die aanvanklike sessie kan ek ’n opvolg skeduleer?

Dit hang van jou af. Maak net seker dat jy die vorige skryfraad deeglik oordink en toegepas het. Onthou, om te skryf verg toewyding en harde werk.

Sal Fanie nie dalk my idees gebruik vir sy eie boeke nie?

Fanie se boeke word soms lank vooruit geskryf en sy kop wemel ook maar van die idees, nes joune. Daar is ook net soveel stories wat skrywers kan vertel dat daar soms ooreenkomste mag wees. Geen skrywer het egter dieselfde “stem” as hy ‘n storie oor seerowers, tienerprobleme of volwasse angste skryf nie. Dis waar die towerkrag van skryf lê – jou skrywersstem.

Sal Fanie my Zoom-sessie opneem?

Nee, maar jy is baie welkom om dit op te neem. Jy mag egter nie die sessie aan die publiek versprei en/of verkoop nie.

Sal Fanie kopieë van my skryfwerk op sy rekenaar stoor?

Nee, na afloop van die sessie, word jou skryfwerk uitgewis.

Mag ek Fanie na die aanvanklike sessie per e-pos kontak vir skryfraad?

Fanie se skryfprogram is nogal volgepak en hy sal heel moontlik nie per e-pos oor jou skryfwerk of vordering kan kommunikeer nie.

Kan Fanie ’n skryfskool kom aanbied?

Kontak hom gerus. Hy sal laat weet of dit op daardie stadium moontlik is.

Gaan Fanie vir my geskrewe skryfnotas gee.

Nee, ongelukkig nie.

Wat as Fanie nie vreeslik van my skryfwerk hou nie?

Onthou, dat skryf ’n vaardigheid is wat ons moet slyp. Jou eerste skryfpoging gaan nooit jou beste poging wees nie. Fanie sal egter met jou eerlik probeer wees oor jou skryfwerk, maar jou ook daarmee ondersteun. Moet asseblief nie kritiek persoonlik opneem nie. Jy is sekerlik ‘n wonderlike mens, maar die sessies se fokus is om jou skryfwerk te verbeter. Elke herskryf verbeter ’n manuskrip.

Wat as Fanie baie van my skryfwerk hou?

Indien jy werklik, werklik, werklik baie talent het, mag hy jou en jou skryfwerk dalk persoonlik na ’n uitgewer verwys. Dit sal egter slegs in uitsonderlike gevalle gebeur.

Indien ek ’n sessie of twee met Fanie skeduleer, waarborg dit dat my werk gepubliseer gaan word?

Nee, ongelukkig nie. Jou werk sal moontlik gepubliseer word indien dit van hoogstaande gehalte is en ’n uitgewer opgewonde maak oor hulle nuwe ontdekking – JY!

Sal Fanie in die toekoms op my tantieme geregtig wees omdat hy my met my skryfwerk gehelp het?

Nee, indien jou werk gepubliseer word, is alle tantieme en ander inkomstes joune alleen – die beloning vir jou harde werk.

Is die sessies nie te duur nie?

Soortgelyke sessies met oorsese agente of skrywers sal jou veel meer uit die sak jaag. Jy is egter welkom om hulle ook rakende tariewe te kontak. The Manuscript Academy vra byvoorbeeld $99 vir ‘n konsultasie van 10 minute en verbale terugvoer oor 10 bladsye van jou manuskrip, andersins $49 vir ‘n konsultasie van 10 minute.

Sal Fanie medeskrywer aan my boek kan wees?

Nee, ongelukkig nie.

Kan ek ’n sessie namens iemand anders skeduleer, byvoorbeeld as ‘n geskenk?

Jy is baie welkom.

Kan Fanie my boek publiseer?

Nee, Fanie Viljoen is nie ’n uitgewer nie, en besit nie ’n uitgewery nie.

 

Die fynskrif

Wanneer die skrywer of ’n afgevaardigde of kennis van die skrywer ’n sessie skeduleer, erken en stem hy/sy daarmee toe tot die volgende:

  • Die skrywer erken dat Fanie Viljoen se besigheid die skryf en produksie van boeke en ander vermaaklikheidsmateriaal, insluitende film- en verhoogdraaiboeke en meer, behels, en dat materiaal, idees, konsepte, karakters, gebeure of ander elemente in die skrywer se werk identies mag wees of ooreenstem met ’n werk wat Fanie Viljoen skryf en/of ontwikkel. Gevolglik sal die skrywer of afgevaardigde nie enige regsaksie of sosiale media aksie van enige aard onderneem sou daar enige moontlike ooreenkomste van enige aard tussen werke van die skrywer en Fanie Viljoen blyk te wees nie.
  • Die skrywer sal ook geen regsaksie of sosiale media aksie onderneem sou hy/sy nie tevrede wees met die terugvoer oor sy/haar skryfwerk nie. Die skrywer is egter welkom om Fanie Viljoen te kontak om probleme uit te stryk en tot ’n vergelyk te kom sou daar ‘n ongelukkigheid wees.
  • Daar is nie ‘n geldterugwaarborg nie.
  • Die skryfsessie en terugvoer waarborg nie die publikasie van die skrywer se werk nie.
  • Skryfsessies mag in noodgevalle herskeduleer word.
  • Skryfsessies is onderhewig aan Fanie Viljoen se skryf-, toer- en optredeskedules. Daar mag dus tye van die jaar wees wanneer hy nie beskikbaar is nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Top