You are here
Home > Afrikaans > Die seun met die swaeltjie

Die seun met die swaeltjie

“Jy het ’n goeie hart, Tumelo. Maar onthou, familie is belangrik. Ons kyk eers na mekaar.”

Tumelo tel een middag ’n swaeltjie in die veld op. Sy is swak en beseer, maar hy wil haar gesond maak. Fumane moet weer vlieg.

Gou word Tumelo egter soos daardie swaeltjie.

‘n Slegte ding gebeur in hulle gesin: Eers met sy ma. En toe met sy pa.

Tumelo en sy sussies bly alleen agter in hulle sinkhuis in die township.

Wat gaan hy nou doen? Hulpeloos bly lê? Of kan hy weer vlieg?

Wenner

Die seun met die swaeltjie het die Lapa-jeugromankompetisie (2025) gewen.

Koop

Die seun met die swaeltjie is beskikbaar by goeie boekwinkels en aanlyn.

Leesgids

Kry die leesgids vir Die seun met die swaeltjie by Lapa Uitgewers.

Al die werk is klaar vir jou gedoen, jy kan die boek net in die klas begin gebruik.

Wat sê die kompetisie se keurders?

“Die verhaal is verfrissend eenvoudig (straightforward), sonder foefies, superkragte of spesiale ‘gadgets’ en sonder pretensie of die strewe om te probeer snaaks of vermaaklik wees. Net ‘n lieflike liniêre storie wat lekker lees en ‘n baie duidelike prentjie skets. Die skrywer vertel die verhaal op die mooiste manier, met woorde wat deeglik oorweeg is en sinne wat nooit te lank raak nie. Dit maak die storie ‘n plesier om te lees.”

– Keurder 1

“Hierdie verhaal, hierdie verhaal het my hart gesteel. Ek het dit twee keer gelees, want eers was ek onseker of dit by my gebly het omdat dit anders was, of omdat dit goed was. En, soos hulle se, twee dinge kan mos gelyk waar wees.

Die verhaal het op die ou einde vir my uitgestaan as die wenner. Ek dink ons wêreld is tans so onderstebo, dat daar min dinge is wat ons so broodnodig het soos hoop.”

– Keurder 2

Resensies

Soos in Melinda Ferguson se aangrypende memoir Swift (2026) en Max Porter se Grief is the thing with feathers (2015) word ‘n klein asempie vere die simbool van sy hoop: “As Fumane kan vlieg, sal ons dit ook kan doen.” (67) Sy pelgrimstog na voortydige volwassenheid loop parallel met sy versorging van die delikate klein swaeltjie. Fumane, wat aanvanklik geblyk het die impundulu te gewees het, die draer van onheil, word beide sy anker en sy vleuels in ‘n veranderende wêreld.
Hierdie roman vir lesers van elf jaar en ouer is pas as die wenner aangewys in LAPA Uitgewers se Jeugromankompetisie, 2025. Die sentrale tema is ontleen aan hartverskeurende statistiek: Volgens Suid-Afrika se huishoudelike verslag (2025) moet 20% van kinders sonder hulle biologiese ouers oorleef.
Die seun met die swaeltjie skep bewustheid, vermaak, voed op, en gee hoop. Want die ware hart van ubuntu is om vlerke te kan leen.

– Anschen Conradie

Tumelo se storie het my ontroer. Ek kon nie glo watter ontberinge hy en sy sussie, Dikeledi, moes deurmaak nie. Mens verstaan dit eers as jy jou in die skoene van daardie Tumelo plaas. En Fumane, die swaeltjie, is ‘n lieflike metafoor. Die seun met die swaeltjie is ‘n boeiende, hartseer jeugroman. Maar die einde is hoopvol en positief!

– Phyllis Green, Sarie

Vir my een van Fanie Viljoen se beste romans.

– Jeanette Ferreira

Dis onmoontlik of hierdie boek onaangeraak neer te sit. Viljoen skryf met begrip, al skryf hy oor ander kultuur- en bevolkingsgroeperings as sy eie. Hy bly deurgaans in beheer en speel nooit op die leser se gevoel nie, selfs waar party situasies wel sentiment of oordrewe drama sou regverdig. Uiteindelik is dit in die eerste plek ‘n aangrypende en mooi verhaal met stof tot nadenke uit die pen van een van ons beste Afrikaanse jeugverhaalskrywers.

– Magdel Vorster, Rapport

Dis nie net ’n goedvoelkinderboek hierdie nie, hoor; dis grinterig en angswekkend.

Viljoen vertel die verhaal sonder soetsappigheid of onnodige sensasie; doodluiters. Die karakters kry lewe en die leser belê stewig in hulle welstand. Soos alle goeie kinderboeke is dit eintlik gerig op alle ouderdomme. Dis ’n boek vir mense.

– Deborah Steinmair, Litnet

Woorde, beelde en karakters is meesterlik verweef in hierdie boek wat waarlik die titel Jeugromankompetisiewenner verdien. Ek kry ook sommer, soos Tumelo op bl 126, ’n “warm gevoel, soos ’n dik kombers, om die hart” terwyl ek hierdie boek, die reis en oomblikke van “groot word, glo in jouself en wees dapper” ervaar het.

– Etrecia van der Merwe, Litnet

Uittreksel

Tumelo buk. Hy kry ’n stokkie. Steek dit onder die bondel vere in. Is dit ’n dooie voëltjie? Hy wikkel die stokkie.

Skielik beweeg een van die vlerke.

Die voël lig haar kop floutjies.

Piep saggies.

Sy lewe!

Tumelo gooi die stokkie neer. Sy hart hamer in sy bors. Hy steek sy hande na die klein lyfie toe uit. Druk sy bewende vingers in die nat sand. Lig die voëltjie. Dis ’n swaeltjie. Hulle ry soms die luggolwe bo die huise.

Tumelo laat die skooltas van sy rug af gly. Nou kan hy die swaeltjie beter bekyk. Sy lê sy hand vol. Die vlerke steeds oopgesprei. Fyn wit strepies op die rand van die donker vere. Grys op die kop en ’n wit vlek onder die ken. ’n Kort bekkie wat ondertoe draai en eindig in ’n skerp punt. Die stert is ook kort, sonder die uitgesnyde hoekie, soos ander swaeltjies s’n.

Dit het ’n strepie wit naby die lyf. Tumelo kan nie die pote sien nie, maar fyn naels druk in sy palms. Die voël se ogies is toe. Sy piep weer fyntjies.

“Jy’s bietjie swak, nè?” sê Tumelo. “Het jy seergekry? Is dit van al die reën?” Hy wil na haar vlerke kyk, maar is bang hy maak haar verder seer. “E … ons moet vir jou kos soek. Wat eet jy?”

Natuurlik sal die swaeltjie nie antwoord nie, maar Tumelo voel dis die regte ding om te vra. Sommige voëls eet saad of goggas. Maar swaeltjies?

Sag streel hy oor die swaeltjie se kop. “Ek weet wie sal weet,” sê hy.

Wil jy verder lees?

  • Wie sal vir Tumelo met die swaeltjie help?
  • Watter teenspoed wag vir hulle?
  • Sal die swaeltjie ooit weer vlieg?

 

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top